Daar kan niemand hom spot omdat hy kleiner as sy klasmaats is of hakkel nie. Dis die een plek waar hy koning is, daar waar die boeke wat hy vir sy invalide pa voorlees, hom neem. Dit beskerm hom teen die wreedheid van die lewe in Hillbrow in 1967 en skep vir hom ruimte om in asem te haal.

The boy who could keep a swan in his head (Umuzi, R260) deur John Hunt neem jou op ’n emosionele reis. Met ’n ernstige siek pa wat aan ’n asemhalingstoestel gekluister is, dwing die lewe Phen om vinnig groot te word. Hy leer sy lesse uit sy pa se gunstelingboeke wat hy al stotterend vir hom voorlees. Die park in sy woonbuurt waarheen hy en sy hond ontsnap, gee hom ’n plek waar hy sy verbeelding vrye teuels kan gee en vir ’n wyle net weer ’n seuntjie te wees. Al wonder hy oor die toekoms. Dan ontmoet hy ’n eksentrieke boemelaar. Die een dag dra hy die broek van ’n snyerspak en die volgende dag ’n kleurryke kaftan. Dan weer ’n sonbril wat hy van êrens af opgetower het. Vir Phen is hy iemand wat nie omgee of hy hakkel nie, iemand wat hom help om sy omgekeerde wêreld beter te verstaan. Iemand wat die magiese na sy lewe bring. Wat met hom praat asof hy ’n gelyke is. Vir Phen is Heb Thirteen Two ’n engel wat gestuur is om vir hom ’n ware vriend te wees.

Hunt het dele van die verhaal gegrond op sy eie ervarings as kind in Hillbrow in die sestigs. As jy, soos ek, mal is oor woorde en boeke, sal hierdie op die oog af eenvoudige verhaal jou in die hart tref en daar nes skop. Dis so mooi geskryf, met patos en deernis wat jou bybly. Saam met Phen leer jy self ’n paar lewenslesse wat waarde aan jou lewe toevoeg. ’n Onvergeetlike leeservaring.

 
Ek het per e-pos met John oor sy boek The boy who could keep a swan in his head gesels.

Wat was die vonk vir die verhaal?

Ek dink daar was twee. Eerstens wou ek ’n tyd in my lewe herbesoek – ’n tyd wat ek in my agterkop weggebêre het. Op ’n manier was dit ’n katarsiese ervaring. Die ander rede is sekerlik die aangename herinneringe wat ek gehad het aan Hillbrow op ’n spesifieke tyd in die voorstad se geskiedenis. Hoewel Suid-Afrika in die gruwels van apartheid vasgevang was, was Hillbrow ’n kosmopolitiese mikrokosmos. ’n Tipe teenkultuur in die sestigs, vol hippies, vredestekens, minirokke en knoop-en-doop-kaftans.

Waarom speel die verhaal in 1967 in Hillbrow af?Dis die jaar toe ek as jong seun baie van die dinge ervaar het.

Hoekom laat jy Phen die verhaal vertel?

Hoewel die boek nie ’n outobiografie is nie, is dit sterk outobiografies. Dit was vir my natuurlik om vanuit Phen se perspektief te skryf.

Elke hoofstuk begin met ’n woord en sy definisie bo-aan. Hoe het jy die woorde gekies?

Phen is’n ywerige leser en daarom was dit gepas om elke hoofstuk so te begin. ’n Woord wat hy in die woordeboek moes opsoek om dit meer volledig te verstaan. So, ek het die hoofstuk geskryf en dan teruggegaan en gedink: “Hmm, hier is ’n woord wat Phen interessant sal vind.”

Watter rol speel Heb Thirteen Two in Phen se lewe?

Ek dink Heb Thirteen Two is die kleurryke en eksentrieke vaderfiguur wat ons almal graag as kind sou wou hê. Iemand wat jou soos ’n volwassene behandel, al verstaan jy nie altyd alles wat hy sê nie. Heb kan onkonvensionele advies uitdeel, want dis hoe hy gekies het om sy eie lewe te lei. Hy neem waar van die sykante af en het empatie met mense wat altyd van die buitekant af na binne kyk.

Al jou boeke het ’n filosofiese aanslag. Is jy ’n filosofiese denker?

Ek het beslis nie beplan om filosofiese boeke te skryf nie. Dit lyk of hulle almal self so opeindig. Ek wil regtig net ’n interessante verhaal vertel, een waarby die leser kan aanklank vind en wat die moeite werd is.

Wat wil jy hê moet lesers oorhou van The boy who could keep a swan in his head?

Ek glo ’n verhaal is bloot ’n ander vorm van ’n reis. Hopelik, teen die einde van dié een, sal die leser voel hy is beloon vir die tyd wat hy afgestaan het om dit te lees.

Wou jy altyd skryf?
Ek het begin skryf toe ek so sewe jaar oud was. Ek is nie seker waarom nie, maar dis iets wat ek net altyd gedoen het.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer?

Ek is nie ’n baie vinnige skrywer nie, so ek moet gereeld skryf. As ek nie gedissiplineerd was met ’n streng roetine nie, sou ek nooit klaarmaak nie. Oggende werk die beste vir my, hoewel dit in die winter nogal erg is.

Het jou loopbaan in die advertensiebedryf beïnvloed hoe jy skryf?

Ek dink nie so nie, buiten dat dit my geleer het om ekonomies met woorde te wees.

Watter boeke het ’n belangrike rol in jou lewe gespeel?

So baie, ek kan nie net een kies nie. Tog, Catcher in the Rye, Slaughterhouse-5 en The Incredible Lightness of Being sal almal in my top-10 wees.