In Merk moet die Spookeenheid ’n reeks raaiselagtige verkragtings in ’n gegoede woonbuurt ondersoek. Die verkragter ontglip die polisie want hy laat geen noemenswaardige leidrade op die misdaadtonele nie. Kaptein Kassie Kasselman maak sy terugkeer ná ’n hartaanval om die ondersoek te lei. Oor dié antiheld van hom, sê Van Rensburg: “Kassie het nie veel verander sedert sy verskyning in my debuutboek, Slagyster, nie. Ná sy hartaanval moes hy wel afsien van sy Lucky Strikes. En hy is dalk nou effe wyser oor die lewe nadat hy vele noue ontkomings in sy lang loopbaan oorleef het. Hy het deur die jare meer selfvertroue gekry en laat hom nie sommer meer hiet en gebied soos in sy jonger dae nie. Hy bly egter die vlymskerp speurder wat gewoonlik gruwelik deur sy teenstanders onderskat word.”

Verskeie storielyne word vernuftig saamgeknoop soos wat Kassie die verkragter suksesvol ontmasker.

Phyllis Green het per e-pos met Rudie oor Merk (Queillerie, R285) gesels.

Waarom juis verkragting as die hoofmisdaad vir die verhaal gebruik?

’n Berig in die plaaslike weekkoerant oor ’n jong vrou wat in ons omgewing verkrag is, het my laat besef dat vroue selfs in gegoede buurte met ’n oorvloed sekerheidsmaatreëls slagoffers van hierdie misdaad kan word. Dit was die eerste gedagtes vir Merk. Ek wou die verhaal relevant vir ons tyd maak. Min vroue het nog nooit in hul lewe een of ander vorm van seksuele teistering ervaar nie. Ek het ’n paar vorme van ernstige seksuele wandade in die boek probeer uitbeeld: afloerdery, verkragting en verminking, en op die uiterste punt van die spektrum: nekrofilie.

My fokus was veral op verkragting omdat Suid-Afrika een van die hoogste verkragtingsyfers ter wêreld het. My navorsing van ’n paar jaar gelede ter voorbereiding van die boek wys daar word elke sewentien sekondes ’n vrou in hierdie land verkrag. Aangemelde verkragtingsake was toe al op pad na 40 000 per jaar. Dis egter net die oortjies van die seekoei, want die meerderheid verkragtings word nooit aangemeld nie.

Ek wou ook ’n ander mite nek omdraai, naamlik dat hierdie misdaad soms voor die deur van vroue gelê kan word. Hoeveel keer word vroue nie beskuldig dat hulle daarvoor “gesoek” het nie: hulle was dronk, hulle het geflankeer of hulle was skamel geklee. Dis onsin. Verkragters is geneig om vroue met hul oë te ontklee. Wanneer die geleentheid hom voordoen, slaan hulle toe op enigeen, ongeag hoe die slagoffers aangetrek was of hoe hulle opgetree het.

Kassie maak sy terugkeer ná hy herstel het van ’n hartaanval. Hy lyk nie soos ’n romantiese held nie. Vandat jy hom geskep het, hoe het Kassie se karakter ontwikkel?

Ja, Kassie sal nooit ’n romantiese held word nie. Destyds toe ek hom as hoofkarakter geskep het, was dit ook nie die idee nie. Hy moes ’n effens onaansienlike anti-held wees met ’n rooi windjekker, two-tone hemp, hoogwaterbroek en wit sokkies. Een wat Crème Soda drink en ’n passie vir filatelie en Boeremusiek het. Kassie het nie veel verander sedert sy verskyning in my debuutboek, Slagyster, nie. Ná sy hartaanval moes hy wel afsien van sy Lucky Strikes. En hy is dalk nou effe wyser oor die lewe ná hy vele noue ontkomings in sy lang loopbaan oorleef het. Hy het deur die jare meer selfvertroue gekry en laat hom nie sommer meer hiet en gebied soos in sy jonger dae nie. Hy bly egter die vlymskerpspeurder wat gewoonlik deur sy teenstanders gruwelik onderskat word. Niemand mag hom ooit op net sy verweerde rooi windjekker takseer nie. Een van die storielyne gaan oor ’n vroulike joernalis wat vir Die Stem, ’n sensasionele koerant, moet berig lewer oor die verkragtings.

As ’n oudjoernalis, wat is jou mening oor sogenaamde poniekoerante?

Destyds in my honneursstudie in kommunikasiekunde aan Unisa het ek baie navorsing gedoen oor Britse poniekoerante (of die sogenaamde geel pers), waar sensasionele beriggewing en tjekboekjoernalistiek aan die orde van die dag is. Die Stem in Merk het al dié slegte eienskappe van sy Britse eweknieë. Feite word gereeld verdraai om die maksimum impak te kry in ’n omgewing waar goeie sirkulasiesyfers die enigste oorweging is. Hierdie koerante het geen morele kompas of gewete nie en spreek gewoonlik tot die onderste lae van die bevolking.

Kassie en Rooi werk saam met ’n profileerder om die saak op te los. Waarom is Kassie so skepties oor profilering?

Kassie het al voorheen saam met profileerders aan sake gewerk. Wat hom betref is profileerders se vermoëns ver verwyder van die superwesens wat in populêre fiksie en veral in flieks uitgebeeld word. Hy meen hulle steun te swaar op stereotipering en teoretiese kennis. Soms kom hulle tot ’n gevolgtrekking op grond van net enkele eienskappe van ’n soort oortreder, wat die speurder op ’n syspoor kan gooi. Kassie voel dat die sogenaamde nuwe wetenskap en popsielkunde van profileerders nooit as ’n plaasvervanger vir ou beproefde speurtegnieke en ervaring kan dien nie. En ná ’n loopbaan van meer as dertig jaar in die SAPD gaan niemand hom anders oortuig nie.

Die profileerder onderskei tussen die tipe verkragters wat voorkom. Hoe verskil verkragters?

Verkragters kan hoofsaaklik in twee groepe verdeel word, naamlik magsverkragters en woedeverkragters, wat weer in subgroepe verdeel kan word. Daar’s ook impulsiewe verkragters, wat ’n kleiner, afsonderlike groep uitmaak. Die reeksverkragter in Merk word deur die profileerder in die subgroep ingedeel wat as magsgerusstellende, magsbevestigende en magskompenserende verkragters bekend staan. Die motief van hierdie verkragters is hoofsaaklik seksueel en nie agressie-gesentreer soos by die woedeverkragter nie. Die verkragting dien as kompensasie vir sy ontoereikende selfbeeld. Hy wil ook hê die slagoffers moet hulle uitlaat oor sy vaardigheid as minnaar. Hierdie verkragter is ego-distonies, en kan hom nie regtig met die wete vereenselwig dat hy ’n verkragter is nie. Terselfdertyd kan hy homself nie keer nie en die verkragtings is herhalend en neem ’n roetine aan.

Die Covid-19-pandemie het inperking tot gevolg gehad. Kan jy as spanningsverhaalskrywer kommentaar lewer.

Een van die tragiese gevolge van die grendeltyd was juis dat geweld teen vroue toegeneem het. Vir baie vroue hou selfisolasie by die huis ekstra risiko’s in. Vroue (en kinders) wat tuis moet bly en mishandel word, kan nie op ’n veilige manier ongesiens hulp ontbied nie, wat ’n ernstige bron van kommer behoort te wees. Dis mense wat dringend hulp nodig gehad het en dit nie gekry het nie.

Was jy bekommerd oor hoe vrouelesers op Merk sou reageer toe jy die verhaal geskryf het?

Dit was beslis in my gedagtes. Ek het voor twee moeilike keuses te staan gekom: Eerstens kon ek die verkragtings- en ander geweldstonele afstandelik en vaag beskryf, wat die veilige roete sou wees om lesers (en spesifiek vroue) nie onnodig te ontstel nie. Of ek kon die tonele werklik maak deur ook die nare detail weer te gee – ’n roete wat wel die grense van fatsoenlikheid soms sou uitdaag. Ek het op laasgenoemde besluit, want ek het gevoel dis noodsaaklik om die afskuwelikheid van hierdie dade in hul volle boosheid te weerspieël. Dit sou help dat die lesers (mans en vroue) die trauma en stigma wat die slagoffers beleef, geloofwaardig vind. En sal die skande en vernedering wat ’n vrou voel wanneer mense weet sy is verkrag, ook vir die leser ’n werklikheid maak. Daardeur wou ek ook ’n geringe bydrae lewer om lesers wat self slagoffers van hierdie misdaad was, te inspireer om na vore te kom sodat Suid-Afrika meer van sy Harvey Weinsteins aan die kaak kan stel.