Ek is gek oor Nickolas Butler se skryfstyl. Sy taalgebruik en hoe hy die storie vertel het my van sy eerste boek, Shotgun Lovesongs, soos ’n vis aan ’n hoek gevang.

Ek het sy tweede boek, Beneath the Bonfire, met sy aweregse karakters en onvoorspelbare gebeure opgeslurp en kon nie wag om sy jongste boek,  The Hearts of Men (Picador, R292) te lees nie. Net soos met sy ander boeke, draai hierdie verhaal ook om ’n hoofkarakter wat ’n randeier is. Nelson Doughty is dertienjaar oud, ’n Boy Scout, ’n baie goeie een daarby, maar dit maak nie dat hy gewild is en vriende het nie. Die verhaal skop af in 1962 in Wisconsin, by Camp Chippewa. Nelson dra bril en is glad nie sportief nie. Tog kan hy alles doen wat van ’n Boy Scout verwag word. Sy trompetspel is die wekroep vir die groep seuns om aan te tree om die dag in die oë te staar. Selfs hierdie talent van hom het vir hom die onvleiende bynaam van Bugler besorg en het hom nog ’n groter teiken gemaak vir die ander Scouts se boeliery. Nelson raak bevriend met Jonathan Quick, ’n mede-Padvinder wat twee jaar ouer is as hy. Tydens die kamp word Nelson gekonfronteer met situasies waar hy keuses moet maak oor hoe hy dit wil hanteer. Nelson se keuses maak hom nog ongewilder by die ander seuns.

Die tweede deel van die verhaal speel af in 1996. Nelson is nou in beheer van Camp Chippewa. Hy is steeds ’n loner en hy probeer die nagmerries van sy ervarings as soldaat in Viëtnam beveg. Hy ontmoet Jonathan en sy seun, Trevor, die aand voordat die jaarlike Padvinderskamp begin. Deur die jare het Trevor duisende staaltjies gehoor oor wat alles met Nelson gebeur het tydens die Padvinderkampe en was hy nuuskierig oor die vriend van sy pa. Tydens die ete word Trevor en Nelson gekonfronteer met Jonathan se minnares en die feit dat hy sy vrou vir haar gaan los. Die ete is vir ’n Trevor ook ’n leerskool oor die ware karakter van mans, wanneer hy sy pa met Nelson vergelyk.

Die storie spring dan na 2019 waar ons kennis maak met Trevor se vrou, Rachel, en sy seun Thomas. Trevor is dood en Rachel het sy plek ingeneem as Thomas se begeleier na Camp Chippewa. Is Padvinders en dit waarvoor hulle staan enigsins nog relevant vir sy generasie? En hoe word Rachel ontvang in ’n omgewing wat eintlik aan mans behoort? En wat is die beginsels waarop mans in hierdie era hul karakters grond?  Die grootste kwessie wat in hierdie verhaal onder die loep kom, is manlikheid - die sterk en swak eienskappe van mans. Die verhouding tussen mans, maar ook die tussen ma en seun word uitgelig in hierdie kragtige verhaal.  – Phyllis Green

FOTO: verskaf

The Other Mrs. Walker, Mary Paulson-Ellis (PanMacmillan, R263)

Wanneer Margaret Penny se lewe in Londen ’n teleurstellende wending neem, is haar laaste uitweg om weer by haar ma in Edinburgh te gaan woon. Dié se huis en hart is klaarblyklik ewe koud en troosloos.

Dis vir Margaret vernederend en sy voel mismoedig oor haar lot, maar sy sien ook nie ’n uitkoms nie. Dan kry sy ’n vreemde werk. Sy word aangestel in die Office for Lost People, waar sy die naasbestaandes van gestorwenes moet probeer opspoor sodat die owerhede kan weet wat om met die liggaam en besittings te doen.

Haar eerste saak is dié van Mrs. Walker, ’n bejaarde vrou wat stoksielalleen in haar woonstel heengaan, sonder dat enigiemand weet wie sy werklik was of wie haar mense is. Margaret begin Mrs. Walker se lewe navors, dikwels op heel onortodokse wyse asof een of ander instink haar lei. Hoe meer sy van Mrs. Walker leer, hoe meer leer sy oor haarself, want die twee se lewensverhale is op ’n hartseer en onverwagse manier vervleg ... Kinders weet nie altyd wat hul ouers vir hulle opoffer nie, veral nie wanneer grootmense feite verswelg om die kinders te beskerm nie. Meer as dit wil ek nie verklap nie.

Die boek het ’n wonderlike anderwêreldse gevoel waar die werklikheid iets heel anders is as wat die hoofkarakter haar aanvanklik voorstel. – Helen Schöer

FOTO: verskaf

Green Lion, Henrietta Rose-Innes (Penguin Books, R240)

Die groen, brullende leeu is ’n ou, alchemiese simbool uit die Middeleeue, met die gawe om lewe terug te gee en siektes gesond te maak. Die leeu verteenwoordig die krag van die natuur om haarself te laat herleef en herstel.

Rose-Innes het haar eie leeu aangepak, en dit blyk uit hierdie verhaal oor die natuur versus die mens met sy ondertoon van onheilspellende gevaar. Haar skryfstyl lees maklik, maar die donker inhoud van hierdie hartseer verhaal is ’n vingerwysing na onsself. Ons roei die fynbos en die diere uit wat in die natuur om ons wegraak, die eerste siklus van vernietiging waarvoor mense, oorspronklik deel van die natuur, verantwoordelik is. Die mens se dierlikheid kom na vore in die loop van die storie.

Rose-Innes verwys vlugtig na Con wat ys om te dink hoe sy ma sou voel oor sy vrou wat nie glo aan herwin (recycle) nie maar liewer items vervang, met slim woordspeling op ‘recycle’ en ‘retail’. Uiteindelik sit hy en wag vir die leeuwyfie om hom te kom oorval in sy kantoor oor ’n paar honderd jaar.

Hierdie indrukwekkende kragtoertjie verdien elke prys waarvoor die benoem is. Rose-Innes se veelvlakkige skryfwyse verseker ’n baie bevredigende leesondervinding.  – Mariette Postma

FOTO: verskaf

The Black Path, Asa Larsson (Maclehose Press, R194)

Die lyk van ’n vrou word gevind in een van die hutte op ’n bevrore meer in Swede. Sy word gou geidentifiseer, maar die raaisel om haar dood noodsaak  inspekteur Anna-Maria Mella om aanklaer Rebecka Martinsson se hulp in te  roep. Tydens die ondersoek heropen hulle ’n  ‘selfdood’ wat ses maande gelede plaasgevind het. Hulle laat die lyk opgrawe vir ’n nadoodse ondersoek en daar word bevind dit was moord en nie selfdood nie. Die raaisel verdiep, maar leidrade lei hulle kort voor lank na korrupsie in een van die land se grootste mynmaatskappye.

Dis ’n boeiende speurverhaal waarin verraad, korrupsie en intrige hoogty vier.  – Karien Labuschagne

FOTO: verskaf

Whispers through a megaphone, Rachel Elliott (Faber Factory Plus, R340)

Miriam besluit om vir die eerste keer in drie jaar haar huis te verlaat. Die feit dat sy weekliks anonieme poskaarte ontvang, maak haar opgewonde en geïnteresseerd in die wêreld daar buite. Alhoewel sy nie harder kan praat as fluister nie, het sy tog ’n vriendin wat gereeld kom kuier en kruideniersware bring, en ’n vriendelike buurman wat uit sy pad gaan om haar tuin netjies te hou. Ralph is ’n psigiater wat besef sy vrou is nie meer lief vir hom nie. Dan loop hy van die huis af weg. Sy paadjie kruis met Miriam s’n en so ontwikkel ’n vriendskap soos hulle probeer sin maak van hul lewens.

Die ligte verhaal is propvol humor en oulike sêgoed en het ’n gelukkige einde.  – Danica Gouws

FOTO: verskaf

The Prophecy of Bees, R.S. Pateman, (Orion, R310)

Lindy Griffon-Clark en haar dogter Izzy trek na Stagcote Manor in die platteland. Lindy hoop dat dit ’n nuwe begin vir hulle sal wees ná al die probleme met Izzy in Londen. Teen haar sin trek Izzy saam met haar ma na Stagcote of ‘Heartbreak Hall’ soos dit ook bekend staan. Stagcote het ’n slegte reputasie as ’n verwoester van families; in elke familie wat al ooit in die Manor gebly het, was daar ’n sterfte kort nadat die familie ingetrek het.

Klein insidente laat Izzy glo dat al die stories oor die Manor waar is en dat hul lewens in gevaar is. Om dinge te bemoeilik is die inwoners van die nabygeleë dorpie uiters bygelowig en het hulle vreemde rituële wat hulle op spesifieke tye moet uitvoer. Izzy probeer haar ma oorreed dat dit ’n slegte idee is om in Stagcote te bly, maar haar ma glo dis net Izzy se verbeelding. Dis ’n verrassende en onvoorspelbare verhaal. - Karien Labuschagne