Die Britse skrywer, Lesley Pearse, het sonskyn nodig om te skryf. Die son gee haar energie en help haar om voor haar rekenaar te kom waar sy haar kan verloor in die wêreld van woorde.

Met haar onlangse besoek aan Suid-Afrika vertel sy dat sy aan erge winter blues ly. Wanneer die winter in Engeland aanbreek, moet sy uitwyk na haar vakansiehuis waar daar heeljaar son is. Sonder sonskyn kan sy nie skryf nie!

Haar boeke het reeds meer as 10 miljoen eksemplare wêreldwyd verkoop. Al het sy eers in haar laat 40’s begin skryf, het daar reeds 25 boeke uit haar pen verskyn. Sy was juis in Suid-Afrika om te gesels oor haar twee jongste boeke, Dead to Me (Penguin, R110), en The Woman in the Wood (Penguin, R295).  Pearse is ’n storieverteller van formaat wat jou intrek in die verhaal die oomblik wat jy die boek oopmaak.

Ruby en Verity, die hoofkarakters in Dead to Me, kom uit verskillende agtergronde. Ruby se ma is ’n prostituut en sy word bitterarm groot. Verity kom uit ’n gegoede huis en is goed opgevoed. Die twee meisies ontmoet wanneer Verity vir ’n oomblik probeer wegbreek van die verswelgende atmosfeer in haar ouerhuis. ’n Onwaarskynlike vriendskap ontwikkel tussen hulle wanneer hulle meer probeer leer van mekaar se omstandighede. Maar dan is daar ’n dramatiese verandering in Verity se omstandighede as haar pa van bedrog aangekla word. Intussen het Ruby op haar voete beland. Sy is aangekla van diefstal en ’n simpatieke regter het haar na die huis van ’n weldoener in die platteland gestuur vir rehabilitasie. Daar ervaar sy vir die eerste keer in haar lewe liefde en sorg aan die huis van Wilby. Die twee meisies bly in kontak met mekaar en hul vriendskap gedy al gebeur daar vreeslike goed met albei. Maar wanneer ’n aborsie skeefloop, stuur Ruby vir Verity ’n briefie met die woorde, “You are dead to me.. Sal die twee se vriendskap dit oorleef? Die verhaal strek oor ’n paar jaar en jy beleef die lief en leed van die twee meisies. Pearse raak ’n paar ernstige kwessies aan in die storie, alkoholmisbruik, mishandeling, diefstal en aborsie. Dit gee haar verhaal ’n diepte wat maak dat jy enduit wil lees om te sien wat met haar karakters gebeur.

FOTO: verskaf

Hierdie skrywer is ’n heerlike gespreksgenoot en ek het tydens haar onlangse besoek aan Suid-Afrika met haar gesels oor haar skryfwerk.

Jy is baie bedrywig as skrywer, byna ’n boek per jaar! Is jy baie gedissiplineerd?

Ek was, maar ek dink ek is nie meer so gedissiplineerd nie. Ek het onlangs na Devon verhuis en het gesukkel om aan die gang te kom met Dead to Me. Ek was besig met allerhande goed en het ook vreeslik baie sosiaal verkeer. Ek het eers in Januarie en Februarie regtig hard begin werk aan die boek. Ek kry erge winter blues en kan nie leef sonder sonskyn nie. My nuwe huis is pragtig, maar kry geen son in die winter nie. Ek het so depressief geraak daar. Ek het toe na my vakansiehuis verhuis waar daar heeljaar son is. Dit was die beste ding wat ek ooit gedoen het, want toe het ek die boek in twee maande voltooi. In die ou dae toe ek nog gerook het, kon ek die hele dag en aand skryf. Ek het nooit televisie gekyk nie. Maar die 40 sigarette wat ek per dag gerook het, was sleg vir my gesondheid. Toe ek ophou rook het, het dit vir my moeiliker geword om saans te sit en skryf. Maar ek dink ek is nou weer terug in ’n beter roetine.

Jy het vir my in ’n vorige onderhoud vertel dat jy altyd op dieselfde plek moet sit en skryf. Geld dit nog vandag jy verhuis het?

Ek kan nie in die hotel op ’n skootrekenaar skryf nie. Ek sal net aanlyn na alle skindernuus kyk of inkopies doen! Wanneer ek ’n nuwe boek begin, is dit nogal oorweldigend omdat ek so baie het om te doen. Maar ek dwing myself om te gaan sit en net te begin. As ek net eers die karakters uitgesorteer het en so stuk in die verhaal in is, dan eers begin dit vir my lekker raak. Dan is dit maklik om te skryf, maar ek moet eers by daardie punt kom. Dis soms baie makliker om die messegoedlaai skoon te maak, of om iets sinloos te doen …

Kry jy ooit skrywersblok?

Ek dink nie daar is regtig so iets soos skrywersblok nie. Ek dink dis net ’n aanstellerige manier om te sê jy’s lui! Ek sou nie gekom het waar ek vandag is as ek nie gedetermineerd was nie. Ek is ’n baie sosiale mens en hou baie daarvan om mense te sien en om uit te gaan. Maar ek het ’n ander kant wat eintlik ’n kluisenaar wil wees. Dis ’n goeie ding, want ek kan maklik vir mense sê ek is besig om te skryf en kan vir ’n ruk nie uitgaan om te speel nie.

Jy is ’n skrywer wat al meer as 10 miljoen eksemplare verkoop het regoor die wêreld. Plaas dit druk op jou wanneer jy ’n nuwe boek begin?

Met al 25 van my boeke het ek gedink dis snert, totdat iemand vir my gesê het dit is nie. Mense dink ek sê maar net so, maar dis regtig hoe ek voel. My jongste boek, The woman in the wood, is die eerste een waaroor ek gevoel het dis nie die swakste ding wat ek al ooit geskryf het nie. Ek het al boeke gehad waaroor ek vas oortuig was dat dit glad nie goed is nie. Maar wanneer ek geleenthede bywoon en die lesers vertel vir my hoe lieflik my werk is, herstel dit my selfvertroue. Die eerste keer toe ek na Suid-Afrika gekom het, was kort nadat ek ’n klein ineenstorting gehad het. Ek het hier gesond geword en dis hoekom ek graag terugkom. Daardie eerste geleentheid wat ek moes bywoon, toe ’n Afrikaanse leser op my afstorm en sê hoe gek sy oor my boeke is en dat Georgia die eerste boek is wat sy in Engels gelees het …dit het my moed gegee. Sy was so opgewonde om my te ontmoet. Dit laat my gewaardeerd voel. My ervaring hier het my gehelp om gesond te word.

Al jou boeke het altyd ’n ernstige tema as deel van die verhaal, soos mishandeling, alkoholmisbruik, geestesgesondheid ens. Hoe belangrik is dit vir jou om sosiale kwessies deel van die verhaal te maak?

My eerste liefde in boeke was Charles Dickens. In al sy verhale het hy altyd sosiale kwessies aangeroer. Die grootste kompliment wat my uitgewer vir my gegee het kort nadat ek begin skryf het, is dat ek ’n hedendaagse Dickens is. Ek is baie bewus van sosiale kwessies en as ek passievol genoeg is oor ’n kwessie, dan skryf ek daaroor.

Hoeveel navorsing doen jy vir ’n boek?

Vir my werk dit om eers die boek uit my verbeelding te skryf en dan daarna navorsing te doen. Dit werk ek dan in waar dit pas, sodat die verhaal geloofwaardig is. Soms vind mens te veel dinge uit en dan raak dit moeilik om te weet wanneer om te stop. Ek moet bieg dat ek nie meer so geneë is om groot geskiedkundige verhale te skryf nie. Dis baie, baie werk.

Waarom speel oorlog dikwels ’n rol in jou boeke?

Ek hou daarvan om oor oorlog te skryf. My pa was ’n soldaat en my nooiensvan is Sargeant.

In ons familie was daar altyd militêre mense en ek dink ek het daardie geen geërf. As ek ’n seun was, sou ek sekerlik by die weermag aangesluit het. Ek het ’n natuurlike begrip van oorlogvoering en hoe slagvelde en veldslae moet werk. Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, maar dit was nog altyd so.  Ek kan ook maklik oor kombuis- en kamermeisies skryf. Ek kan nie oor deftige dames skryf nie. Ek weet instinktief hoe dit ‘onder die trappe’ is. Dis waar my affiniteit lê, by gewone mense en dis die mense oor wie ek wil en kan skryf.

Is dit maklik om afskeid te neem van jou karakters as jy klaar is met ’n boek?

Dis letterlik soos ’n sterfgeval wanneer ek ’n boek afhandel. Ek kon nie afskeid neem van Belle nie. Ek was so mal oor haar en daarom is daar drie Belle-boeke. Sy is beslis die ster. Maar ek hou ook baie van Grace in The woman in the wood.

FOTO: verskaf