In Die Kwesbares (Umuzi, R210), Steve Hofmeyr se derde boek met hom as hoofkarakter, haal Die Sluiper se verlede hom in. Hy is gewoond daaraan om die jagter te wees, maar nou word hy skielik vanuit verskeie oorde geteiken. Sy verstand en liggaam moet oortyd werk om voor sy jagters te bly. Nie alleen moet hy homself beskerm nie, maar ook die groot liefde van sy lewe, Tes. Die vrou saam met wie hy na die veiligheid van Mauritius wou uitwyk, waar hy saam met haar in vrede wou leef. Die aanval op hulle en hul ontvoering ry sy planne in die wiele. Hoe pas die Kubaanse veearts Jesús Fidencio Hernandéz in die prentjie? Wie gee hom sy opdragte en wie trek die toutjies van die ontvoerders? Om Tessa uit Hernandéz se kloue te red sal hy moet voldoen aan hul eis dat hy weer ’n paar sluipmoorde uitvoer.

Soos met die vorige twee boeke speel die verhaal teen ’n blitsige tempo af en sleep Die Sluiper jou saam van een gewelddadige toneel na die volgende. Wraak en verraad loop hand aan hand. Al is hy die baddie in die verhaal, kan mens nie anders as om te hoop hy sit die ander wreedaards ore aan nie. Een van die interessantste aspekte van die verhaal is die tegnologiese uitvindsels van Die Sluiper se enigste vriend, Sherman de Villiers, wat hom help om een stappie voor sy jagters te bly. Hofmeyr kry dit reg om al die drade uit Die Sluiper se verlede vernuftig saam te knoop tot die boeiende einde. Op die voorblad van die tweede boek het gestaan: “Die liefde is blind soos ’n koeël.” Lesers sal maar moet wag om te sien of Die Sluiper siende gaan raak en of hy in vrede saam met Tessa op Mauritius kan gaan woon. Op die plek waar hy hoop hy kan uiteindelik sy gewelddadige leefwyse aflê . . .

Ek het per e-pos met Steve Hofmeyr oor die boek en sy karakter, Die Sluiper, gesels.

Hoe kies jy die titels van jou boeke? En waarom vir hierdie een spesifiek Die Kwesbares?

Ek het geen planmatigheid met titels nie. Ek verkies hulle kort, maar kom dan vorendag met Vier Briewe vir Jan Ellis of Laaste Dans Drienie. Maar êrens wag jou titel vir jou, een wat spreek tot jou, jou boek en die tyd waarin daardie titel verstaan moet word.

Dis die derde boek oor Die Sluiper, gaan daar nog kom?

Ek sê elke keer dis die laaste keer. Jy gaan my nie weer uitvang nie. Maar ja, ek is bang om vas te val in die loslitstyl. Die Staal Burger Noir is vreeslik lekker, kommerloos, selfs minagtend teenoor literêre voorskrifte, in teenstelling met Drienie, Kapabel en Jan Ellis se meer alledaagse style. Dit sal my hart breek om Die Sluiper uit sy pensioenarisparadys te ruk.

Hoe werk jou skryfproses? Waar begin jy?

Sin een, paragraaf een, bladsy een en hoofstuk een is bepalend vir baie. Jy plant hier al die leidrade vir later. Jy stem die verhaal, soos ’n kitaar. Dis ook bepalend vir die leser se geneigdheid om eerder oor te skakel Netflix toe. Daarom val my boeke met die deur die huis in.

Is Tessa Die Sluiper se achilleshiel?

Beslis, en veral so in Die Kwesbares. Dit was altyd belangrik om ’n genadelose lieplapper soos hy ’n mate van menslikheid te gee. En Tes is die instrument daarvoor. Sy bring die beste (en slegste) uit hom uit.

Waaroor moes jy navorsing doen vir hierdie verhaal?

My karakters reis die wêreld vol, terwyl die skrywer sy lessenaar deurgaans nooit verlaat nie. Atlanta se stadion en die nieroperasie het veral toewyding gekos. Die tech-truuks is pure wors omdat enigiets al bykans moontlik is. En dan laat die Suid-Afrikaanse konteks haar oop vir enige vlak van verrassing (en geweld). Dis jammer, maar dis ’n skrywersparadys dié.

Hoe hou jy kop met die karakters wat uit Die Sluiper se verlede opduik? Het jy ’n stamboek van die karakters in die reeks?

Ek het. Ook ’n chronologie. Veral as jy werk met ’n eerstepersoonverteller se mymeringe oor die verlede. My geheue muit ook al hoe meer. Ouderdom dalk.

Jy skryf veral die gewelddadige tonele baie grafies. Kyk jy baie ‘skop-skiet-en-donder’-films om die aksie so getrou te kan beskryf?

Ja, maar dis dalk nie dit nie. Afrikaans in sy suutjiespoep-fasade vermy soms geweld, seks en aksie. Almal wil pryse wen om te wys dat hulle hul nie ophou met vermaak en vlakheid nie. Ek het geen sulke skaamtes in my jaart nie.

Die Sluiper se vriend Sherman de Villiers is ’n soort MacGyver-karakter. Waar kom jy aan sy uitvindsels?

Ek is maar tipies man as dit kom by skroewe en skarniere. Made in China. Tegnologie is tog so deel van ons moderne bestaan. Mense vergeet dat die skrywer die moordenaar en MacGyver se Q, M en Moneypenny is.

Gaan dit vir Die Sluiper net oor wraak, of het hy vasgevang geraak in ’n lewe waar dood die botoon voer?

Die Sluiper probeer aanpas in civvy-straat. Sy oorgang van blindelingse bloeddors na afgemete wraak is ’n moeilike stap vir hom. In al drie boeke graviteer hy tussen karma en iets wat meer natuurlik is vir hom: om die vyand te slag. Sy nuwe lewe is die soeke na betekenisse weg van die apatie waarop hy hom roem. Hy vind dit in Tes, met ’n adolessente wanbalans tussen liefde, seks en dit wat hy vermoed hy nie weet nie. Amper gee ek die einde weg.

Jy skryf in verskillende genres. Het jy ’n voorkeur of skryf jy soos wat die inspirasie kom?

Die genre word die taal van my verhaal. Verskillende boeke praat in verskillende tale. Die Kwesbares is soms Roth en Hemingway, soms Gregg Hurwitz en Matthew Richardson.

Is jy gedissiplineerd as dit by skryf kom, het jy ’n roetine waarby jy streng hou?

Ek is. Tyd is min. Ek toer, komponeer, debatteer, protesteer en reis. Ek gaan baie ekonomies om met tyd en haat dit as dit verkwis word. En boeke vat maande. Ek het veral ’n streng redaksionele hand nodig. Louis Esterhuizen en Annalene Berkowitz snoei mal aan my “neologismes”.

Wat het jy onlangs gelees wat ’n diep indruk op jou gemaak het?

Ravelstein van Saul Bellow. Terugblik van Fransjohan Pretorius. Ek kyk ook Peppa Pig, oor en oor, saam met my dogtertjie.