Lees Hoofstuk 6 hieronder. In hierdie hoofstuk van Die Lucky Strike (Zebra Press, R200) word die Sluiper gekonfronteer met die verraad wat sy neef teen hom gepleeg het. Hy word ook ontnugter deur die vrou in sy lewe en hy besef dat hy skille voor sy oë gehad het.

Wees gewaarsku, hierdie verhaal is nie vir sensitiewe lesers nie. Tonele word in grafiese detail beskryf en kan mense ontstel. Steve se taalgebruik is op die man af en ongesensor.

Die Wiskunde

Jy kan nie aan jou arms hang en slaap nie. Die pyn sal jou wakker hou. As jy bes gee, trek jou skouerknoppe uit hul potjies uit en dan hang jy aan stukkies ligamente. Kort voor lank is jou ribbekas sy kontraksies kwyt. En hoewel jy dalk kan inasem, is dit die uitasem wat jou sal vat. Iemand het my vertel dat dit is hoe Christus gesterf het. Maar waar ek gehang het, was dit min troos.

My sig was beperk. My linkeroog was toegeswel en ek kon nie die bloedkoeksels in my regteroog bykom nie. Ek hoef nie myself te kon sien om te weet nie. My wange was opgeswel, my oogbanke voos geslaan, my ribbes gebreek en my neus flenters. Ek het ’n vergroting van die milt en lewer gevoel en geraai my organe sal moontlik eerste ingee. Die bloed in my skouerholtes was van bo af, waar die rieme en kettings soos beitels deur my polse gesny het. Op die grond onder my was ’n poel bloed. Dalk ’n liter en ’n half. Die inwendige bloeding buite rekening gelaat, was my bloedverlies ’n tipiese klas vier. Dit weet ek weens die koue in my blaaie en my hartklop wat gejaag het soos die karweiers genoeg suurstof deur my liggaam probeer kry het.

Maar die aanvraag was te groot.

My liggaam sou voor middernag in skok gaan en dan was ek moer toe.

Daar het ek gehang. Vasgeketting. Met ’n wenas oor ’n oorhoofse balk opgewen. Soos ’n slagding. Soos Pietsnot. Ek wat altyd op my voete wou sterf. Nou oopgespalk soos ’n gemeste kalf op die Olyfberg.

Die koel aand het ’n tintelende trek deur die bedompige skuur gesmokkel. Vir ’n sekonde was daar verligting. My porieë het dit opgeslurp. Toe trek die wolk van sweet en bloed weer oor my toe. Ek wou my ore inspan, maar daar was net ’n eentonige geruis in my middeloor.

Ek was eers bewus van sy teenwoordigheid toe ek sy asem teen my hare voel. Hy het vlak voor my gestaan toe hy selfingenome begin praat het. Ek sou sy stem tussen honderd tarentale uitken. Skril, venynig, sinies.

Wil jy nou meer.

Darius …

Die Sluiper.

Darius … is dit jy?

Die Sluiper hang aan ’n tou in my skuur. Wat ’n eer.

Darius …?

My neef onthou my naam, Siebert. Kan jy meer!

Waarvan praat jy … jou kak … maak my los.

Sewe-en-twintig sluipmoorde. Geluk, neef.

Waarvan … wat?

Ek het getel. Jy dalk nie.

Agttien … negentien, miskien.

En die ander?

Ander … watter ander?

Wie het die ander gepleeg?

Hoe sal ek weet, Darius? Na-apers.

Na-apers? Met harpsnare? Wat’s die kans, neef?

Wat … probeer jy sê?

Ek probeer sê jy was altyd te dom om die wiskunde te doen.

Rêrig. So wat … wat is die wiskunde?

Daar was net een.

Een wat?

Een copycat. Een na-aper, soos jy my noem.

Wie?

Wie, vra hy. So dom soos grond.

Not ’n fok …

Jy was altyd so selfvoldaan. So diep in jou eie hol op.

Jy? Jy bedoel … jy?

Ek. Jou neef. Jou nemesis. Stil-stil op jou spoor.

Nou praat jy stront, Darius.

Ek’s dalk nie jou beste soldaat nie, maar ek gebruik dieselfde harp.

Jou … fokker. Maak my los.

Ek het gesien daar’s hope geld tuis vir outjies met ons, hoe sal ons dit noem, talente?

Ek is nie ’n moordenaar nie, Darius. Ek’s ’n professionele huurmoordenaar.

Nee, maar ek ook.

Darius het sy vingers geklik. Sy sidekick het die koelhouer oopgeskop, twee blikkies bier uitgelig en een na Darius ge--gooi. Die gas het gesuis toe hy die blikkie oopknak. Siebert het sy baas se voorbeeld gevolg. Darius het ’n groot burp gelos en die meeloper het weer onderdanig gevolg. Toe bars hulle uit van die lag. Dit was alles takties, maar Darius moes teen hierdie tyd geweet het dat ek die weerstand van tien kakkerlakke het; veral onder kruisverhoor. ’n Kernbom onder my rektum sal my nie maak smeek nie. Uiteindelik was wat ek weet, en wat ek te sê gehad het, daardie aand irrelevant.

Ek moes dood. Dadelik en meer suksesvol as tydens sy vorige mislukkings. Daarvan sou Darius seker maak. Die duiwel in hom wou egter die proses uitrek. Vir sy genot. En sy dors na aksie. Sy onverbloemde jaloesie.

Ek het tyd probeer wen. My spraak was erg belemmer en my asem kort.

Wie … het jou gehuur om my te vermoor?

Die brand?

Die brand, ja.

Daai een was sommer gratis, ou neef.

Daar moes … ’n rede wees.

Jy het jou neus vir die soveelste keer in my sake gesteek.

Waarvan praat jy?

Jy’t gelol met die liefde van my lewe.

Isolde?

Raai weer.

Tes? Tes was … die liefde van jóú lewe?

Tes was altyd die liefde van my lewe.

Jy was getroud, Darius!

Ba! ’n Klein glitch in die matrix.

My verloofde was die liefde van jou lewe?

Prost. Op die liefde. Laat hy val waar hy wil.

Jy’s … jy’s ’n slegter etter as wat ek gedink het, Darius.

Jy’s een om te praat.

Wie was die lyk dan … die lyk … in my huis …

Dit het my ontglip. Kom ons praat nie daaroor nie.

O my jirre … nee …

Isolde het aan epilepsie gely. Sy was nie deel van die plan nie, maar ’n gawe meevaller.

’n Meevaller? Sy het nie verdrink nie?

Wel, sy het. Maar haar lyk is nooit gevind nie omdat ek dit … beter kon aanwend.

Ek verstaan nie hoekom jy … my wou vermoor nie.

Wou laat vermoor het.

Is dit nie dieselfde ding nie?

Jy was ’n hoëkaliberdoos. Jou hele lewe.

Is … dit maar al? Nou hoekom lewe jý nog?

Slim vang sy baas. Jy’t ’n kort geheue.

Lig my in.

Jy het Tes geslaan. Altyd die lafaard.

Ek was in terapie! En … besig om reg te kom.

Jy het haar geslaan soos die siellose boelie wat jy altyd was.

Julle kon wegstap. Saam. Jy en Tes.

En die kans mis om jou terug te betaal vir jare se verne-dering?

Ek is … dors.

Ek is dors, asseblief. Waar’s jou maniere?

Fok jou.

Fok my? Fok jou. Môreoggend voer Siebert jou vir die leeus. My plan is om jou lewend te hou tot dan.

Ek kon nie meer praat nie. My kake kon nie woorde vorm nie. Ek wou vasstel of Tes in die vertrek is. Ek het daaraan getwyfel. Sy was allesbehalwe ’n koue slagter. As ek reg onthou, een met ’n delikate maag vir geweld.

My kop het swaar gelig. Voor my was Siebert, het ek afgelei. En as ene Siebert die derde persoon in die skuur was, was dit sy maatjie, Anton, wat sonder harsings op die gim se vloer gelê het. Omdat Darius nooit sy hande bevuil nie, het ek geraai dat dit Siebert was wat skielik vorentoe gekom het om my hard en reguit teen die geswelde oogbank te peper.

Die nartjie het oopgebars en die hitte het teen my wang en in my nek afgeloop. Die pyn was ondraaglik en al die wonde op my lyf het weer begin klop. Die impak het die gewenste uitwerking gehad. My brein het deur die spinale vloeistof in my skedel begin stamp en toe rustig in sy eie gelatien begin swem. Harsingskudding, dan bloeding op die brein, dan so long, Marianne.

Ek moes aanhou dink.

Ek kon hulle sien deur die oog wat nog nie toegeswel was nie. Twee gedaantes. Een in wit en een in kakie. Op die vloer, ’n koelhouer vol bier, vir effek. Die stank van wild; karkasse dalk. Of wildsvelle. Ek kon sien hoe Darius vir Siebert knik. Hier kom dit nou, het ek gedink. Ek was nie seker of ek nog so ’n hou sou kon deurstaan nie. Ek het op my tande begin byt, maar hulle het saam uitgestap en die skuurdeur toegeslaan.

Daar was geen reverberasie nie. Die stoor was dus vol, of alles binne was van hout, velle en gras. My oë wou nie meer oop nie. My arms wou uit hul skouerholtes skeur. Ek kon nie dink nie, maar ek wás al hier. In die voorportaal van die hel. Uitgelewer aan rou instink. Ek moes loskom en uitkom, maar my brein het vasgeval onder die gewig van vrae en die siek waarheid wat stadig voor my ontsluit het: dat ek goed gekelder is, oorweldig deur meesters; dat die liefde van my lewe toe altyd verlief was op my oudkameraad, wat eintlik getroud was. ’n Vertoontroue, miskien. Ek kan nie onthou deur wie nie, maar ek is gewaarsku daarteen. Destyds was ek egter te stukkend om die groter prentjie te snap, maar nou kon ek sin daarvan probeer maak. Die regte vrae vra.

Ek het gewonder of sy aan hom gedink het wanneer ons mekaar in die badkamer teen die teëls gevat het; hoeveel van sý koorsblare ek deur haar mond opgedoen het en hoeveel keer my piel in haar geskommel het in sy laaste orgasme.

Daar was net een manier om klaarheid te vind. Nie gebed nie. Nie berading nie. Nie vergifnis nie.

Net ’n skoot deur die kop.

En as jy dit nie verstaan nie, ken jy nie verraad nie.

Haar besluit om by sy diaboliese plan in te val, het glo iets te doen gehad met die feit dat ek haar fisiek aangerand het. As ek Darius reg verstaan het. Ek twyfel egter of Tes ingeligis oor die volle omvang van Darius se siek plan. Sy vrou,Isolde, sterf en hy versteek haar tot sy plan twee dae later voltrek kon word. Hy jaag ’n haatbende in om my huis af te brand en my te vermoor, maar nie voor hy haar wegsmokkel en sy vrou, Isolde, se lyk in die puin los om saam met my te verkool nie. Almal glo dat dit Tes se oorskot is. Ook ek. Ek moet hom krediet gee vir die oordaad van detail. Hy het selfs die vroue se ringe omgeruil. Darius en Tes verdwyn sodra hulle kan, maar sonder om moontlike onvoorsiene gebeure in ag te neem. Soos die kans dat ek die vuur sal oorleef. In stukke en onherkenbaar verbrand, maar lewend genoeg om hulle op te spoor. Per on--geluk, om eerlik te wees. Ek begin stadig die gemors in my jaart op ’n hopie hark. Die as wat Tes se beste vriende op ’n grasperk in die Pretoriase Botaniese Tuine gestrooi het, was nie die oorskot van Tes Mallet nie, maar dié van Darius se vrou, Isolde. En wie weet watter ander onthullings ek nog te wagte kan wees. Dis nou as ek lewend daar kan uitkom, het ek gedink.

Waar ek aan ’n ketting hoog deur ’n balk in die skuur van meneer en mevrou Keiser gehang het, moes ek erken dat ek ordentlik geflous was. Dat drie jaar van my lewe ’n mite was. In ’n parallelle heelal. Dit alles was amper te absurd om oor te vertel. Die jaloerse kameraad kry my uitgegooi uit professionele diens; sien dan dat ek in die privaat sektor meer geld as hy verdien, en met dieselfde vaardighede begin hy my moorde na-aap. Dan gaan raak ek verlief op sy skelmpie, en dit op sy troue. Hy reël my moord en verdwyn met Tes.

Ek vra jou. Hoe vertel ’n mens dít oor?

Wel, ek sal moet probeer. Eers aan myself. Op ’n geloof-waardige manier, sodat ook ek dit kan verteer. Sonder om my varkies te verloor. Eers as ek dit alles kan kleinkry, kan ek begin dink aan ’n manier om my tweede dood te vermy.

Ek wou pluk aan die ketting, maar alle krag het my verlaat. As my arms uit my skouers kon skeur, kon ek ten minste op die grond sit. Maar nie eers daardie gelukkie was my beskore nie. Ek kon nie ’n enkele spier beveel nie. Tog het my vel iets gevoel. ’n Koeligheid. ’n Ligte trek.

Ek weet nie wanneer Tes ingekom het nie, maar sy het voor my gestaan.