Jare gelede het sy juis weggevlug hiervandaan omdat haar jeugliefde nie tot trou kon kom nie. Al was Adam baie lief vir haar, het hy haar reeds sedert hul skooljare aan ’n lyntjie gehou. Bailey skep ’n nuwe lewe in Londen, waar sy die Fransman ontmoet met wie sy trou. Wanneer sy die ontstellende tyding van haar ouers se moord kry, het sy geen keuse nie. Sy moet terugkeer om haar erfporsie uit te sorteer. En om te probeer vrede maak met haar broer, Zak.

Pat Stamatélos se nuwe roman.

Jy raak vinnig ingesleep by die lewe van Bailey en die mense om haar in Aankoms en vertrek (Penguin, R230) deur Pat Stamatélos. Natuurlik is daar Adam, maar dan ook Zak met sy plofbare humeur. Temperance, die huishulp, is Bailey se steunpilaar. Dis sy wat die huis ná die moord aan die gang gehou het en nou ook toesien dat Bailey haar met praktiese reëlings besig hou. Die bure versorg die gesin se honde. Stukkie vir stukkie word Bailey se geheime blootgelê. Asook dié van Zak, die bure, die huishulp, en selfs Adam. Die grootste raaisel lê egter opgesluit in die kluis in Bailey se ouerhuis. Wat gaan onthul word as dit uiteindelik oopgemaak word? Pat Stamatélos neem jou op ’n reis in elke karakter se binnewêreld. Met patos, humor en deernis vertel sy ’n verhaal waarin ’n traumatiese gebeurtenis mense tot nuwe insigte bring. Elkeen kom aan, en vertrek, en kom dan uiteindelik tuis.

Pat Stamatélos FOTO Verskaf

Ek het per e-pos met Pat oor Aankoms en vertrek gesels.

Wat was die inspirasie vir jou nuwe roman, Aankoms en vertrek?

My inspirasie het homself aangemeld in ’n boek deur my liewe mede-skryfster Helene de Kock – van iemand wat ná ’n lang afwesigheid terugkeer na ’n leë huis (dankie, Helene). Daar is soveel vrae wat ontstaan ... ’n leë huis is ietwat van ’n misterie. Die allerlekkerste reënweer het ek gesteel van Helena Hugo se Ragel-boek (dankie, Helena). Dit skep net die regte atmosfeer in my storie (en in hare). Ernest Hemingway het gesê: “Remember to get the weather in your damn book – weather is very important.” Daar het jy dit.

Hoe skep jy jou karakters? Weet jy van meet af hoe hulle lyk en watter eienskappe hulle het, of ontwikkel dit soos die skryfproses aangaan?

Ja wat, mens moet weet hoe jou karakters lyk, ek is selfs geneig om my karakters te skets. Ek weet ook vooraf watter eienskappe hulle gaan hê en hoe hulle gaan praat, maar die skryfproses help beslis om dinge ’n bietjie duideliker te maak.

’n Openingstoneel is ’n leser se eerste kennismaking met ’n verhaal. Hierdie verhaal begin met ’n besonder dramatiese toneel. Hoe besluit jy watter toneel ’n verhaal moet afskop?

Dit vat soms ’n tydjie voor mens finaal besluit waar watter hoofstuk moet wees. My oorspronklike manuskrip het nie met hierdie hoofstuk begin nie. En soms vat dit ’n kennis om vir jou te sê die openingstoneel is boring, dan begin jy hoofstukke rondskommel om te sien watter een werk die beste.

Verhoudings speel soos in jou ander verhale weer’n belangrike rol in die verhaal. Waarom fokus jy so sterk op verhoudings?

Omdat verhoudings so ’n belangrike rol in mens se daaglikse lewe speel. Ons het tog almal ’n versugting na goeie liaisons – met ons familie, die bure, ons vriende, die apteker ... Dit maak die alledaagse meer opwindend, die eensaamheid meer draaglik en ons uiteindelik meer vergenoegd. Tevredenheid is soms ’n goeie doel om na te streef. Ons is dit eens: We love it when a plan comes together (vernaamlik in ’n boek).

Elke karakter in die verhaal dra ’n geheim in hulle rond wat later onthul word. Hoe het jy gekies wie watter geheim moet dra?

Dit was die maklikste deel van die beplanning. Maar ek moet erken die geheime het hulself stelselmatig by my aangemeld (my slimgeit is nie van so ’n aard dat ek alles eensklaps kon uitgedink het nie ...).

’n Groot deel van die konflik tussen Bailey en Zak ontstaan omdat hulle nie openlik met mekaar kommunikeer nie. Net so met Bailey en Adam. Hou jy van gefolterde karakters?

Nou ja, liewer gefolterd as befoeterd. Perfekte kommunikasie is deel van ’n volmaakte wêreld en dié is nog aan die kom. Intussen gooi ek olie op die waters (deur my skryfsels).

Wie was jou gunsteling-karakter in die verhaal?

Beslis die vierpote, Freddie en Asjas. Die vreugde en uitbundigheid van ’n hond se blydskap is iets van ’n ander aard. Ek het saam met Bailey ’n traantjie gestort.

Hoe werk jou skryfproses? Is jy gedissiplineerd met ’n vaste roetine, of kan jy enige plek en enige tyd skryf?

In dié stadium van my lewe is ek die CEOvan my kom en gaan en het ek glad nie ’n vaste roetine nie, nie vir my skryfwerk nie. Daar is te veel ander, lekkerder dinge om te doen! Ek skryf net tuis, by my eie lessenaar.

Hoe maklik is dit vir jou om aan die einde van ’n boek afskeid te neem van jou karakters en na ’n volgende verhaal aan te beweeg?
’n Boek se afgee is soos ’n kind se weggee, maar wanneer die SEND-knoppie gedruk is, is dit voorwaarts na die volgende storie. En moenie omkyk nie ...

Is jy besig met ’n volgende verhaal?

Ja, ek is besig met ’n regte, egte liefdesverhaal tussen ’n boeremeisie, Helen, van Kokstad en ’n soldaat, William, van die Queen’s Guards. En ’n eksentrieke oujongnooi-skrywer. Of dit ooit die rakke gaan haal, weet ek nie, intussen geniet ek en Helen die uitpluis, die beplanning, navorsing, foto’s, liefdesbriewe en baie memories.