Van die eerste bladsy tot die laaste een neem die aksie jou op ’n jaagtog van wraak saam met die Sluiper, Steve se hoofkarakter in Die Lucky Strike (Zebra Press, R200). Die Sluiper wil vrede gaan maak met sy neef majoor Darius Keiser, wat op ’n wildsplaas in die Kgalagadi woon. Ongelukkig val die Sluiper se vredespyp vinnig in die as wanneer hy uitvind dat sy neef die ergste verraad denkbaar teen hom gepleeg het. Darius sit agter die brand waarin die Sluiper sy huis en sy gesig verloor het, en ook die vrou in sy lewe. (Dié gebeure het afgespeel in Die Onaantasbares, Steve se vorige boek.) Of so het hy gedink, want die vrouelyk wat gevind is, was onherkenbaar vermink. Maar toe loop hy homself in haar vas op die plaas – springlewendig en gesond. Die gekonkel moet gewreek word, besluit hy.Die verhaal wat ontvou, vertel van die kameraadskap wat daar eens tussen die Sluiper en sy makkers (Darius ingesluit) was, maar wat versuur het ná ’n mislukte operasie in die DRK. Hoe hy as ’n professionele huurmoordenaar moes werk om te oorleef omdat hy nie meer as huursoldaat kon werk kry nie.Wees gewaarsku dat die verhaal nie vir sensitiewe lesers is nie. Van die tonele word in grafiese detail beskryf en Steve se woordeskat is op die man af en ongesensor. Dis ’n bloederige storie waarin dood ’n ereplek kry. Maar ook een van onvervulde liefde, van hoe blind die liefde ’n man kan maak. Die verhaal stoomroller jou en die gebeure speel blitsvinnig af. Voor jy jou kan kry, is die einde daar. Skryf kan Steve skryf en hy is besonder vernuftig met hoe hy woorde inspan. Soos reeds op bl. 3:

“Ons maak wat ons wil met bome. Alle bome. Behalwe die kapokboom. Hy lok jou met sagte katoen wat hy soos liefdesbriewe op die bries laat sweef. Jy wil jou wang teen hom skuur. Maar die kapokboom praat nie. Hy doen. Hy kan nie kaalhand aangepak word nie.” Nou ja, hierdie boek moet jy ook nie kaalhand aandurf nie. Trek jou pantser aan en laat jou kleinserigheid en kleinsieligheid agter. Maak jou gereed vir ’n verhaal wat jou sal skok, boei en verras.

Ek het per e-pos met Steve oor Die Lucky Strike gesels.

Toe jy Die Onaantasbares geskryf het, het jy beplan dat daar ’n opvolg gaan wees? En gaan dit net Die Lucky Strike wees, of maak jy dit ’n reeks Sluiper-verhale?

 Die Onaantasbares was so 90 bladsye langer, maar ek en die uitgewer het besluit om die verhaal vroeër te stop. In kort, Die Lucky Strike was toe al 90 bladsye geskryf. Ek is redelik lus om aan te gaan met ’n reeks. Ek geniet die styl, die karakter en wat dié boeke sê van my en jou Suid-Afrikaanse psige.

Waarom juis in die misdaad- en spanningsgenre skryf?

Dis wat ek geniet om te lees. Ek vind egter Afrikaanse aksieboeke redelik aksieloos en vreeslik suutjiestrapperig al om die politiek inkorrekte narratiewe daar buite. In my twee boeke sterf enigiemand, enige tyd, op maniere wat as “heel inheems” beskryf kan word.Hoe het die Sluiper tot lewe gekom op papier? Het jy hom op iemand gegrond of is hy totaal uitgedink?

Hy is gegrond op ’n paar makkers in my vriendekring, meestal oud-soldate. Dat hulle moor vir geld is my fiksie. My Sluiper is ’n stafsersant Danny Roxo-tipe, wat teen wil en dank moet aanpas in civvystraat. Hy slaag amper, maar met gemengde sukses. Liefde pootjie hom.

In Die Lucky Strike speel die tema van verraad ’n groot rol. Die Sluiper wil hom wreek op die wat hom te na gekom het. Is hy regtig so hardvogtig soos hy voorkom, of is daar tog ’n romantikus iewers in hom verskuil?

Ek speel met daardie tema: hoe oud-soldate geweld versoen met verlief raak; dis ook die konflik waarmee die Sluiper wroeg. Dis paradoksaal, maar realiteit. Menige bomgeskokte moes sin maak van normaliteit ná Operasie Savannah, Askari, Kakebeen, Gomma, ens.

Die gebeure stormram voort en voor mens jou kan kry, is die einde van die verhaal daar. Het jy dit uitgeplot en toe geskryf, of het dit net vanself gevloei?

Ek verlang, onderliggend aan al die lekker aksie, ’n skerp plot, die uitkoms van ’n dénouement wat jou asem wegslaan. Ek dink lank daaroor, maak seker ek omhels en systap sekere clichés en toets dan die grense van geloofwaardigheid daarvan (die Suid-Afrikaanse konteks bied meer speling hier as enige plek op die planeet).

Moes jy navorsing doen vir sekere aspekte van die verhaal, soos die wapens wat gebruik word, die plekke waar dit afspeel, ens.?

Ja. Baie daarvan het ek net vergeet en baie daarvan is lank ná my tyd as jong soldaat in die vroeë 80’s. Soos hommeltuie, selfone en Uber. Oor die liefde hoef ek nie na te vors nie. Oor seks met ’n blinde wel. Ek laat my vrou maar oor my skouer loer, want my Google-voetspoor moet lyk soos Charlie Manson s’n.

Het jy weermagondervinding waaruit jy kon put vir die verhaal?

Ek was ’n gewone pantsertroepie tussen ’82 en ’83. Ons operasie was Askari. Ja, daardie ondervinding help.

Waarvan hou jy van jou hoofkarakter, die Sluiper?

Persoonlik hou ek van sy anonimiteit. Ek identifiseer met sy binnekonflikte, sy frustrasies, sy strewe na vrede. Ek geniet sy brutale eerlikheid. Dis dalk ondiplomaties, maar diplomasie kan soms tyd en bladsye mors. Ek is darem nie so genadeloos nie, maar die schadenfreude is soms bevrydend.


Was daar iets in die verhaal waarmee jy gesukkel het?

Skrywersblok. Omdat dit fiksie is, kan jy jouself darem uit enige knoop losmaak. Die moeilikste is om jouself as leser voor te stel wat NIE die einde ken nie.

Voor op die boek staan: “Die liefde is blind. Soos ’n koeël.” Glo jy dat liefde blind is?

Alleen omdat liefde soms so buite ons beheer is. Glo ek dat liefde werklik onvoorwaardelik is? Miskien nie. Wat jy daaruit kry, is so goed vir jou. Ek verstaan dat mense sal moor daarvoor.

Die Sluiper is gesigloos, nadat hy in Die Onaantasbares ’n baie erge brand oorleef het en heelwat rekonstruksie aan sy gesig moes ondergaan. Jy is in die openbare oog. Wens jy soms dat jy onsigbaar kon wees?

Selebriteit is ’n vreemde monster. Ek is ná 30 jaar nog onseker daaroor. Ek stel myself steeds voor by Afrikaanse funksies. Selfs by ’n braai. Die Sluiper sluip, baie soos ek. Maar hy is ’n tragiese sanger. Hy het eintlik geen kapasiteit vir die kunste nie. Hy weet darem wie Demis Roussos is!

Waaraan werk jy nou – ’n nuwe boek of album?

Beide. Ek het goeie notas vir nog ’n Sluiper en ek wil voor Kersfees weer ’n country-CD uitbring. Die res van my lewe is toer – en die spoegbekkie van ’n eenjarige dogtertjie.