In Gifbeker (Penguin, R230) is sampioene ’n sentrale deel van die gebeure wat aanleiding tot ’n paar moorde in die verhaal gee. Ek dink Irna is braaf om daardie sampioene wat sy geoes het gaar te maak en te eet! Ek sal dit nie waag nie. Daarvoor is ek te veel van ’n bangbroek.

Storm van der Merwe en Andreas Moerdyk speel weer die hoofrolle in die verhaal. Hierdie keer moet Moerdyk aan die kantlyn staan, terwyl Storm ’n paar raaiselagtige moorde moet oplos, want hy het uit die polisie bedank. En summier in Hermanus kom afpak by Storm. Op die eerste bladsy van die boek tref ons die eerste lyk aan. ’n Bekende (en giftige) kosblogger stort ineen in Zebardines, een van die spoggerigste restaurante in die dorp. Toevallig is Storm daar om die toneel waar te neem. Nou moet sy agter die kap van die byl kom. Is die blogger vergiftig? Hoeka is sjef Zeb bekend vir sy versamelkos en so ook is daar verskeie sampioengeregte op sy spyskaart. Soos wat die ondersoek vorder, sterf daar nog mense. Almal het ’n konnotasie met Zeb. Moerdyk meng natuurlik heerlik in by Storm se ondersoek.Irna van Zyl se karakters het reeds met haar eerste boek, Moordvis, ’n vashouplek in my kop gekry. Hulle stel nie teleur in hierdie verhaal nie. Die agtergrond van superster sjefs en spoggerige restaurante skep ’n interessante milieu vir die gebeure. Van Zyl het haar huiswerk gedoen en maak haar navorsingsmateriaal naatloos en geloofwaardig deel van die verhaal. Ek kyk met nuwe oë na die glansryke wêreld van sjefs en hul werkplekke! En ek vermoed ek gaan nie vinnig ’n sampioengereg bestel nie, veral nie as die sjef self die sampioene gaan oes het nie ... Storm is nie ’n karakter sonder baggasie nie en ná die lees van Gifbekerverstaan ek haar beter. Haar storie is nog nie uitgeskryf nie en ek hoop dat daar nog verhale gaan kom waarin sy ’n sentrale rol speel. - Phyllis Green

Ek is Liza Smit, Liza Smit met Raquel Lewis (Jacana, R240)
Toe die politikus, Dr. Robert Smit en sy vrou Jean in 1977 in Springs vermoor is, het hul twee tiener kinders, Robbie en Liza, se lewens oornag drasties verander. Hulle het by hul oom en tante op ’n plaas in die Vrystaat gaan woon en veral Liza het moeilik aangepas. Voor hul dood het die Smit-gesin in verskeie lande oorsee gewoon en was Liza  aan ’n glanslewe gewoond maar skielik was dit alles weg. Nou, veertig jaar later, vertel sy haar aangrypende lewensverhaal en dat sy steeds na antwoorde oor die moorde soek. Die meeste mense onthou die Smit-moorde vir die woorde RAU TEM wat met rooi spuitverf op die moordtoneel geskryf was, maar daar is soveel meer wat Liza oor die jare vreesloos oopgekrap het. Dikwels onder lewensgevaarlike omstandighede. Tog is die boek veel meer as ’n speurverhaal want Liza se eerlike vertelling oor haar eie swakhede, haar verkeerde keuses en vele terugslae is hartverskeurende leesstof. Sy vertel ook in groot detail van haar skokkende ervaring toe een van die vorige regering se bekendste ministers sy onwelkome attensies op haar afgedwing het en sy van hom moes wegvlug. Liza Smit is ’n sterk vrou en haar inspirerende verhaal moet gelees word. – Susan Puren

 

The Cull, Tony Park (Macmillan, R285)

Sonja Kurtz lei ’n span vroue op wat moet sorg dat die wild in Sabi Sand Natuurreservaat nie gestroop word nie. In die omgewing is die smokkel van ivoor en renosterhoring besig om toe te neem en dit moet gestop word. Sonja en haar span tot die redding! Nadat ’n operasie nie volgens plan verloop nie, word Sonja deur Britse besigheidsvrou Julia Clyde-Smith genader om vir haar op haar natuurreservate te kom werk. Julia sal alles moontlik doen om stropery te bekamp … Oral waar Sonja en haar span werk, sterf daar meer betrokkenes. Hudson Brand word gevra om een van die sterftes van ’n beweerde stroper te ondersoek en dan kom hy en Sonja teenoor mekaar te staan. Ou gevoelens en wonde word weer oopgekrap. Hulle moet begin saamwerk om agter die geheime van die onderwêreldse sindikaat wat agter die stropery sit, te kom.Park se kennis oor die situasie rondom natuurbewaring en stropery van olifante en renosters word so  ingevleg in die verhaal dat dit ’n ryk agtergrond skep. Dié verhaal is aksiebelaai met genoeg testosteroon om jou vir maande tevrede te hou!Phyllis Green

 

The Tattooist of Auschwitz, Heather Morris (Zaffre, R280)

Tydens die Tweede Wêreldoorlog word Joodse gesinne verplig om ’n kind, 18 jaar of ouer, as werknemer aan die Duitse regering af te staan. Lale Sokolov bied aan om te gaan om sodoende sy gesin te beskerm. Die uiteinde van sy onselfsugtige daad is hy dat hy in die gevreesde konsentrasiekamp, Auschwitz, beland. Hy word in diens geneem as tatoeëerder van die nuwe aankomelinge. Hy ontmoet Gia,’n jong vrou, wanneer hy haar nommer op haar arm moet aanbring.
Heather Morris slaag baie goed daarin om die ware verhaal op ’n leesbare wyse oor te dra. Uit die aard van die saak is van die gebeure ontstellend, maar dis nie ’n verhaal wat die leser depressief en sonder hoop laat nie. Lees dit gerus as ware verhale jou interesseer.
‘I saw  half-starved man risk his life to save you. I figure you must be someone worth saving’. P 34  - Karin Behrens

 

The Wanderers, Meg Howrey (Simon & Schuster, R245)

Almal praat deesdae oor hoe ons, die Aardlinge, Mars eendag gaan besoek en selfs koloniseer. Howrey kyk met dié literêre wetenskapsfiksie met groot verbeelding en hope feite in só ’n toekoms in. Haar drie hoofkarakters, die Amerikaner Helen Kane, die Rus Sergei Kuznetsov en die Japannees Yoshihiro Tanaka, werk vir Prime Space, die firma wat mense Mars toe wil stuur. Die boek volg hul avontuur oor 17 maande waarin hulle vir die eintlike missie oefen. Die oefenlopie behels ’n totale simulasie sonder enige pouse waarin selfs die kleinste detail ’n nabootsing van ’n regte missie is, soveel so dat een van die vaarders later begin glo hulle is in der waarheid werklik op pad Mars toe. Die drie indrukwekkende en hoogs vaardige ruimtevaarders beskou ook die simulasie as ’n keuringsproses vir die eintlike missie, waarop hulle brand om te gaan. Die boek is propvol interessante feite, groot en klein, oor ruimtevaart, maar die interessantste is die sielkundige spel tussen die drie wat vir alle praktiese doeleindes gewillige gevangenes in ’n groot blik in die woestyn is. Prime Space se personeel hou dag en nag elke beweging en interaksie fyn dop en orkestreer natuurlik ook allerhande uitdagings vir die drie proefkonyne om te bowe te kom. Dis duidelik dat die tegnologie wat só ’n vaart moontlik sal maak die maklike deel is – die swak skakel is die mens, want op so ’n vaart is daar geen ruimte vir foute nie. Dis ’n besonder goeddeurdagte boek en ek kon dit uit pure fassinasie nie neersit nie. Dit het my ook net weer laat dink: As ons werklik so slim is om Mars toe te kan gaan, en klaarblyklik is ons, kan ons dan nie eerder ’n plan beraam om ons eie planeet te red nie?  - Helen Schöer

 

Fragments, Sarah Foot (Quercus, R300)

Fragments vertel die verhaal van twee families, die Snowe- en Cusack-families, en hoe hul lewens verweef is. Phillip Snowe is ’n suksesvolle sakeman en is gelukkig getroud met Julia, ’n ewe suksesvolle advokaat. Phillip verlaat egter die korporatiewe wêreld om meer tyd saam sy gesin deur te bring en gemeenskapswerk te doen. Maar dinge werk nie altyd uit soos mens verwag of hoop nie en alhoewel Phillip hard probeer, bly hy vervreem voel van sy vrou.  Laura Cusack is ’n enkelma van ’n baie besige tweeling. Om by haar passie, skilder, uit te kom is ’n byna onmoontlike taak.  Laura en Phillip se paaie kruis by die kinders se skool en weer later waar hulle saam by ’n staatskool probeer om ’n verskil te maak. En dit is dan hier waar die vonke spat! Laura is ’n vurige vrou wat haar mening lug en Phillip is nie gewoond daaraan om teëgegaan te word nie!
Dit is ’n roerende verhaal van twee mense wat probeer om die regte ding te doen, aan die druk van hul familie verpligtinge te voldoen en tog op ’n manier ook getrou te bly aan hulself en hul drome. – Alma Liebenberg

 

Going back to say goodbye, Kenneth de Kok (Kwela Books, R195)

Die boek begin in 1986 waar De Kock, wat tans in Kanada woonagtig is, sy sterwende pa in die hospitaal besoek. Hy vertel vervolgens van sy grootwordjare tussen 1954 en 1961, op die myne in Stilfontein in die eertydse Wes-Transvaal. In meer as twee dosyn sketse uit sy kinderjare word ons herinner aan speletjies soos kleilat en albasters, middagvertonings van westerns, kerk op Sondae en vakansies aan die Suidkus. Ons hoor van beledigings soos rooinekke en hairybacks, en van die vaste rangordes by die myne wat tot by die kinders gestrek het, soos “My pa kan jou pa tog afdank”. De Kok slaag daarin om in kort, eenvoudige sketse, wat dalk onbenullig mag voorkom, die spanning rondom sosio-ekonomiese-, taalkundige- en rassistiese kwessies wat gedurende dié tyd geheers het, en miskien nog steeds in die land voorkom, uit te beeld. Die vertellings is egter veel meer as net ’n reeks nostalgiese herinnering oor sy kinderjare. Dit is ook ’n gevoelvolle en humoristiese waarneming oor die verhouding tussen vaders en seuns en die gesinslewe in die algemeen. – Gert Venter

 

Goud kan nie roes nie, Paul-Constant Smit (Penguin Random House, R230)

In die aksiebelaaide roman neem Smit ons op reis deur die geskiedenis. Die ontdekking van dagboeke uit die tyd van koningin Skeba (998 vC) se ekspedisie na Suider-Afrika lei tot Con Slaughter, bobaas vuis- en rewolwervegter uit die Amerikaanse Wilde Weste, se ontdekking van die goudneerslag by Barberton en die rykdom wat daarop volg. Ons hoor van die rol wat kanselier Otto von Bismarck gespeel het in ’n sameswering tussen Engeland en Duitsland wat die wêreldgeskiedenis, asook die van Suid-Afrika, kon verander het. Ons beleef die wrede tirannie van Vasco de Gama oor sy skeepslui en maak ’n draai in die Anglo-Boereoorlog. Ten laaste voer Slaughter ’n gesprek met Paul Kruger in Nederland en die Kruger-miljoene kom ter sprake. Tussendeur beleef Slaughter avonture met ’n Boesman en ’n swart man en hulle voer diep gesprekke wat insig in hul kulture gee. Dan is daar nog sy liefde vir die twee susters, Lorelei en Andia. Goud kan nie roes nie, Smit se eerste boek, is ’n boeiende verhaal vol avontuur, aksie, intrige en passie vir vervloë tye. – Gert Venter

 

One with You, Sylvia Day (Penguin Books, R180)

Hierdie is die laaste boek van die Japanees-Amerikaanse skrywer se Crossfire-vyftal. Gideon en Eva is in die geheim getroud en nou begin die stryd om al die geraamtes uit hul verlede te oorkom en getroud te bly. Hul families en vriende is nie gelukkig daarmee dat hulle sonder hulle getroud is nie. Terwyl hulle ’n behoorlike troue beplan, sien hulle ook ’n terapeut om albei, wat baie sterk persoonlikhede het, te help om die slegte dinge wat met hulle gebeur het en ’n groot invloed op hul lewens het, te verwerk.  In die proses groei die liefde tussen Gideon en Eva net so baie en word hulle sterker. Lesers wat hou van liefdesverhale oor superrykes, alles wat blink en ’n vinnige leefstyl, sal hierdie boek verslind. Maar wees gewaarsku dat die eksplisiete taalgebruik en seks moontlik kan aanstoot gee. – Amanda van Schoor