Die man ter sprake is Selma se nuwe ridder op sy wit perd, die sielkundige Theodor Swanepoel. Hoekom het Louise haar nie gewaarsku toe sy sien Selma se verhouding met Theo is besig om ernstig te raak nie? Wat die arme Selma nie weet nie, is dat daar groter verraad gepleeg is deur haar bloedvriendin met wie sy al haar geheime reeds sedert hul kinderjare deel. Selma en Louise deur Susan Coetzer (Human & Rousseau, R295) vertel die twee vroue se verhaal, van hoe hul vriendskap tog op die ou einde sterker is as die verraderlike gebeure wat hulle moes hanteer. Selma vlug na Indië om haarself weer te vind, en om oor die wond in haar hart te kom wat veroorsaak is deur Louise se verraad. Net om in Indië weer vas te loop in Louise wat haar agtervolg het. Hul reis is emosioneel en hulle moet al hul bagasie vanuit die verlede weer oopmaak en deurwerk. Wanneer Louise haar wip en terugvlieg na Suid-Afrika, gaan Selma na ’n ashram waar sy vrede vir haar siel gaan soek. Sy leer daar meer oor haarself en haar verhoudings en besef dat sy weer wil uitreik na Louise. Wonderbaarlik genoeg kan hulle hul verskille bylê sodat hul vriendskap behoue bly. Die lekkerleesroman laat jou lag, huil en jou asem intrek van verontwaardiging. Jy gaan saam met Selma en Louise op hul emosionele reis en is verlig wanneer hul vriendskap behoue bly.

                Ek het per e-pos met Susan gesels oor haar roman.

Waar het jy aan die idee gekom vir jou roman, Selma en Louise?

Wanneer ek ’n roman begin, het ek gewoonlik net ’n vae gevoel oor ’n tema(s) wat ek wil aanpak, glad nie beplande storielyne met karakters nie. Ek gaan sit letterlik voor die rekenaar en kyk wat gebeur. Die eerste poging van die manuskrip is as’t ware ’n spaghetti approach. Daarna begin ek weer van voor af en besluit wat het waarde om te behou en uit te bou. As ek so terugkyk, het ek ’n beter idee oor die gevoel van die roman, die karakters en die storielyne en kinkels. Ek skuif myself uit die pad van die karakters en plaas die pen in hul hande soos ’n aflosstok om mee te hardloop. By NB Uitgewers het ek geleer ’n roman moet oor en oor geslyp word en ryp word soos goeie rooiwyn om diepte en goeie geur te kry. Die fiksiespan het my baie gehelp om te groei as skrywer (dis my eerste roman vir hulle), sowel as al die buitekeurders wat terugvoer op die manuskrip gegee het.

Hoe skep jy jou karakters? Put jy uit eie ervaring?

Dis ’n misterieuse skeppingsproses waarvoor ek myself as skrywer oopstel. Die karakters is vooraf vir my onbekend en maak letterlik hul opwagting in my psige. Ek is soms baie verbaas om hulle te ontmoet en weet nie altyd waar hulle vandaan kom nie. Ek het iewers gelees Agatha Christie weet nooit wie die moordenaar in haar verhale is tot aan die einde van die boek nie! Ek dink wel my agtergrond as aktrise help my met die uitbeelding van eg-menslike karakters en veral hul dialoog. Ek klim soos ’n aktrise in hul skoene in en hoor hulle dink en letterlik praat in my ore. Ek vee enigiets wat vals klink en nie eg is aan die spesifieke karakter se stem nie uit. Verder dink ek in visuele prentjies. Ek sien die gesigte, klerestyl en plekke wat hulle besoek. 
In al my romans is daar beslis universele temas en raakpunte ingeploeg wat stryk met my eie ervaring asook die van duisende vroue wat oor die jare hul stories met my gedeel het. Ek gebruik van my eie ervarings sowel as die van ander en gooi ’n groot handvol fantasie by en bak ’n splinternuwe koek of dan nou boek uit die bestanddele. Ek’s ook van kleintyd lief om mense fyn dop te hou. Ek stoor die indrukke en bring die waarnemings graag na my romans.

Verwys die titel na die rolprent Thelma and Louise en is daar raakpunte?

Daar is tong in die kies verwysings na die fliek Thelma en Louise – die twee hoofkarakters wat besties is, fantaseer graag hoe hulle soos Thelma en Louise ontsnap van hul verlede vol geweld en donker geheime. Ek glo ’n titel moet prikkelend wees en ’n gesprekspunt kan uitlok. Die titel het in my kop gespring, nog voor die skryfproses in alle erns begin het. Hierdie is egter ’n boere Selma en Louise-vriendskapstorie en die verhaal is nie op die fliek gegrond nie.

Die  verhaal speel af in twee tydlyne, die hede en die  verlede. Hoe het jy kopgehou daarmee; het jy chronologies geskryf of het jy rondgespring tussen die hede en die verlede?

Ek dink om ’n karakter werklik te verstaan en begrip en deernis te hê vir die volwassene se (soms eienaardige) gedrag, is ’n terugblik in die kinderjare van groot waarde. Ek hou persoonlik nie te veel van terugflitse nie. Dit kan maklik kunsmatig en geforseerd voorkom. Ek het die tydspronge so organies moontlik aangepak en laat uitvloei vanuit hul gedagtewêreld – soos wat ons gereeld elke dag terugdink aan insidente en dan weer terugkom na die hier en nou van vandag. Gedurende die slypproses het ek besluit om spesifieke datums, tyd en jaar by te voeg as gids, sodat nie ek of die leser deurmekaar raak tydens die reisroman nie. 

Een van die temas waaraan jy raak, is die krag van vriendskap. Waarom wou jy juis so sterk vriendskap tussen twee vriendinne uitbeeld?

Ek self het nie ’n heel beste vriendin of ’n vriendskap wat sedert my laerskooldae strek nie. Ek het wel ’n paar hegte vriendskappe met ’n handjievol vroue oor die laaste 20 jaar gevorm. Hiedie vriendinne wat die toets van tyd en die gety wat draai deurstaan het, is vir my van onskatbare waarde, veral in tye van nood. Dit bevat lewensgewende krag. Die veilige spasie van ’n lojale vriendin, waar jy letterlik als kan deel, gee aan vroue ’n plek van belonging en aanvaarding. Ek het dit oor en oor uit die monde van baie vroue gehoor en vandaar die tema van hegte vriendskap as goue draad deur die roman getrek.

Moes jy baie navorsing vir die verhaal doen en hoe het jy dit aangepak?

Ja, ek het amper ’n jaar aan die roman gewerk vanweë al die navorsing. Om die bedrading van ’n narsistiese/psigopatiese persoon te verstaan, het ek baie nagevors op die internet en in boeke. Ek het ook vertroulike inligting van slagoffers bestudeer, asook na gevallestudies op kanaal 171 gekyk om die karakter Theo Swanepoel se charisma en manupilerende gedragspatrone geloofwaardig uit te beeld.Verder het ek baie oor Indië nagevors – opgelees daaroor en met vriende wat daar getoer het, gesels oor hul ervarings. Ek is egter onverwags geseën deur ’n Bollywood filmspan van Moembai, wat tydens die slyp van die roman, my huis in Linden vir ’n maand gehuur het. Ons het ’n paar kuiersessies gereël en ek kon vrae vra en luister na die verskillende dialekte. Dit het my in staat gestel om werklik onder die vel van die land in te kom. Hulle het die fyner menslike dinge gedeel wat ek nie in boeke sou kon navors nie. Lesers glo dat ek wel deur Indië gereis het, en dis ’n groot pluimpie vir my. Vir my volgende roman sou ek verkies om wel vooraf na die plek te reis.

Jy gebruik aan die begin van die hoofstukke aanhalings. Hoe het jy die aanhalings gekies?

Ek het gedurende die skryfproses oral in boeke en op die internet na aanhalings gesoek wat gepas sou wees om die hoofstuk as ’n mini-reis in te lei vir die leser. Dit dien as gids en help my ook met die struktuur en progressie van die roman. Ek het aanvanklik bladsye vol aanhalings neergepen en uiteindelik ná voltooiing van die roman, eers die gekies wat ek gedink het die (innerlike) reisverhaal die beste sou dien.

Jy dra die boek op aan jou eerste kleinkind, Frankie. Het ouma-wees verander hoe jy na die lewe kyk?

My kleinseun, Frankie Opperman die 4de, is op 25 Januarie 2018 gebore. In die tyd is ek gevra aan wie ek die boek wou opdra, want dit moes drukkers toe. My hart was so vol verwondering en dankbaarheid nadat ek die nuwe piepklein familielid in die hospitaal ontmoet het. Daar was net een opsie. Ek hoop my kleinseun sal die reisverhaal eendag kan geniet. Ouma-wees het my hart onmiddellik verruim. Daar het oornag ’n nuwe ouma kamer in my hart ontstaan –  ’n nuwe ruimte met liefde en ’n drang om die nuwe seuntjie wat deel is van my bloedlyn, te beskerm en te bederf. Dis ’n ongekende gevoel, ’n groot blessing om ’n ouma te mag wees. Om in ’n ouer fase van jou lewe weer bottels en doeke te mag aansit en te koer, nie as ma nie, maar as wyser ou-ma. Dit voel soos ’n tweede kans om die lewe weer deur die oë van onskuld te ontdek.

Is jy ’n gedissiplineerde skrywer met ’n roetine of skryf jy enige tyd, enige plek?

Ek moes dissipline aanleer, anders sal ek net idees en halwe boeke bly skryf soos toe ek ’n buierige tiener was.Ek begin altyd met ’n begindatum asook ’n keerdatum wat ek in my dagboek in rooi aanteken. Daarna doen ek somme, wat dit sou behels om die keerdatum te haal. Ek mik vir  ’n sekere kwota woorde per dag/week en probeer gedissiplineerd daarby hou. Maar soos met  ’n dieet val ek gereeld van die wa af, veral wanneer ek moet reis … en moet dan weer my kwota inhaal. Dis vir my moeilik om enige plek en op enige tyd te skryf wanneer ek reis. Ek vind dat my fokus verskuif. Ek verkies om in langer tydgleuwe te skryf, wanneer ek tuis is en dieselfde roetine kan handhaaf. Ek begin gewoonlik vroegoggend, as ek vars is en skryf tot die son sak asof ek op kantoor is – so 10 ure maksimum van 07h00 tot so 17h00. As ek tot ounag skryf, raak my brein voos en kan ek glad nie slaap nie. Die karakters en hul storielyne hou my wakker en ek kan nie my brein afskakel nie. Wanneer die kalf in die put is – die laaste pylvak – skryf, skryf, skryf ek net dag en nag, tot my tong uithang.

Wat lees jy en het jy
’n gunsteling-skrywer?

Ek lees wyd en is altyd op soek na treffende boeke wat mense aanbeveel. Ek lees meestal in Engels. Ek het nie net een gunsteling-skrywer nie. Ek hou van Elizabeth Gilbert se skryfstyl, Jo Jo Moyes en Jodi Picoult. Shantaram van Gregory David Roberts is moontlik my gunsteling-boek wat ek al gelees het. Ek dink Roberts is meesterlik.