Ons ondersoek elke week ’n  gewilde dieet en hoor wat die eksperts daarvan sê. Dié week kyk ons na die Sirt-dieet wat bekendes soos die Britse sangsensasie Adele al gehelp het om gewig af te skud.

Wat is dit?

Sirt is snelskrif vir sirtuïen-ensieme wat belangrike take in die liggaam het. Só het dit ’n rol in die regulering van prosesse verantwoordelik vir selbeskerming en reproduksie. Die aktivering van dié ensieme word onder meer ook gekoppel aan ’n vinniger metabolisme, vetverlies en langlewendheid. Sirt-kosse bevat sekere plantvoedingstowwe wat die produksie van dié ensieme stimuleer, skryf Aidan Goggins en Glen Matten in hul blitsverkoper The Sirtfood Diet (Yellow Kite, 2016).

Hoeveel kan jy verloor?

Jy kan glo tot 3 kg binne ’n week verloor. Let wel: The Sirtfood Diet moedig ook gereelde oefening (5 keer per week vir 30 minute lank) aan.

Hoe werk dit?

Wanneer die produksie van die Sirt-ensieme verhoog word, kan die liggaam se gebruik van vet of koolhidrate teoreties verhoog, sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige en skrywer van Dik vir dieet (Naledi, 2015).

Die sogenaamde Sirt-kosse is egter nie die enigste manier om die ensieme te “aktiveer” nie. ’n Lae-kJ-dieet doen dit óók, en dis juis een van die redes waarom “min eet” geassosieer word met langlewendheid (longevity). En waarom ’n oormaat kilojoules, hetsy afkomstig van proteïen, vet of koolhidrate, ’n groot rol speel in vinniger veroudering en by siektes.

Dan is die Sirt-kosse boonop supergesond, want dis ryk aan fenole en ander aktiewe fito-nutriënte wat gesondheidsvoordele inhou. Dit wil voorkom asof dit juis dié aktiewe plantbestanddele is wat ’n rol speel om die Sirt-ensieme “aan te skakel”. Volg jy dus die dieet, kan jy nie anders as om ’n oormaat “gesonde” kos te eet nie.

Kan dit vir jou werk?

Volgens Mariza bepaal jou genetiese samestelling watter soort dieet vir jou ideaal is. As jy byvoorbeeld geneties min koolhidrate moet eet en jy lê weg aan Sirt-kos se appels en lemoene, gaan jy dalk nie gewig afskud nie. Net so as jy vetsensitief is en Sirt-kosse by ’n vetryke dieet voeg.

Tog: Die toevoeging van Sirt-kosse by jou maaltye dien dalk net as motivering om voedselsoorte wat dikwels in ons Westerse dieet kortkom, soos kappertjies, borrie en pietersielie, ’n plek op ons spyskaart te gee, reken sy.

FOTO Unsplash / Peter Feghali FOTO Unsplash / Peter Feghali

Wat mag ek eet?

• groentee

• donkersjokolade (minstens 85%-kakao)

• borrie

• rooiwyn en koffie

• kool

• sitrus

• kappertjies

• brandrissies

• seldery (ook blare), roketslaai, pietersielie, bronkors (watercress)

• bokwiet

• ekstra-suiwer olyfolie

• dadels

• rooi sigorei

• rooi-ui en bruinui

• soja

• aarbeie en bessies

• okkerneute

• quinoa

• broccoli

• appels

• baie kruie en speserye

• salm en garnale

Daar is nog talle ander soorte groente en vrugte met baie fenole.

Vleis is nie ’n Sirt-kos nie, maar jy kan dit eet. Die idee is om Sirt-kosse by jou dieet te voeg en nie dat jy ander kos moet verban nie.

Die eetplan

Dag 1 – 3

Jy neem 4 200 kJ per dag in by wyse van 3 groensappe (soos kool, pietersielie, seldery, groentee, groenslaai en suurlemoen). En een maaltyd ryk aan Sirt-kosse: bv. kalfskyfies (escalope) met salie, kappertjie en pietersielie; hoender-en-kool-kerrie; of garnaal- roerbraai met bokwiet-noedels (buckwheat). Bederf jouself met 15 – 20 g 85%-donkersjokolade.

Dag 4 – 7

Jy kan 6 300 kJ inneem. Drink daagliks 2 groensappe, eet twee maaltye met Sirt-kosse en ’n sjokoladelekkerny soos bo.

Daarna volg ’n instandhoudingsfase van 14 dae.

Volgens The Sirtfood Diet is dit ’n realistiese manier om gewig te verloor e´n dit af te hou. Op lang termyn beveel hulle aan jy eet drie gebalanseerde maaltye ryk aan Sirt-kosse en drink een groensap per dag.

As jy nie gewig wil verloor nie, maar die energie en gesondheidsvoordele wil benut: Eet 7 dae lank daagliks 3 maaltye met Sirt-kosse, drink een groensap en eet die voorgestelde hoeveelheid sjokolade.

Gratis resep

Sirt-groensap

Genoeg vir 1

• 2 groot hande vol (75 g) kool

• ’n groot hand vol (30 g) roketslaai

• ’n klein hand vol (5 g) pietersielie

• 2 – 3 groot stingels (150 g) groen seldery (met blare)

• groenappel (opsioneel; as jy dit uitlaat, gebruik gemmer)

• 1 – 2 cm (lengte) vars gemmer, geskil (opsioneel)

• sap van ½ suurlemoen

• ½ teelepel matcha (Dis verpoeierde groentee, te kry by gesondheids- of teewinkels. Jy kan dit ook aanlyn bestel.)

Meng kool, slaai en pietersielie en versap. Herhaal met oorblyfsels tot jy sowat 50 ml sap het.

Versap seldery en appel of gemmer (of albei). Druk die suurlemoen met jou hand dáárby. Gooi ’n klein bietjie sap in ’n glas, voeg die matcha by en roer energiek tot opgelos.

Matcha bevat kafeïen, gebruik dus net vroeg in die dag. Voeg die res van die sap by en roer. Voeg water na smaak by. Dit kan die vorige dag gemaak en in die yskas gebêre word.

Ter illustrasie FOTO Unsplash / Brooke Lark Ter illustrasie
FOTO Unsplash / Brooke Lark

Uit: The Sirtfood Diet Recipe Book deur Aidan Goggins en Glen Matten (Yellow Kite, 2016)

SARIE skryf geen diëte voor nie. Praat eers met jou dokter voordat jy groot leefstyl-veranderinge maak.

Verwerk uit die artikel “Omhels jou maer ‘gene’ (nes Adele)” in die November 2016-uitgawe van SARIE.

Lees nou

'Vet'-taks, dieet vir ekonomie?

Lyk skraler in ’n japtrap, sónder ’n dieet!

Dieet net 2 dae van die week