Slaap sagter

Verloor net sowat 10% van jou gewig. As jy oorgewig is, kan jy slaap-apnee só troef en rustiger slaap. Slaap-apnee is ‘n siekte-toestand waar jy kort rukkies snags ophou asemhaal. Bedags sukkel jy dan om te konsentreer, jy is slaperig en kan selfs hartsiektes ontwikkel. En jy weet waarskynlik nie eens jy ly daaraan nie. Jou risiko vir slaap-apnee is groter as jy oorgewig is. Daar word dan meer vet rondom jou nek geberg. Dit verklein die lugweë en jy kan moeiliker of luid asemhaal (snork) – of selfs vir rukkies heeltemal ophou! Dis egter vir party mense makliker om gewig te verloor as hul slaap-apnee eers behandel is, want as jy onrustig slaap, kan dit jou brein se seine deurmekaarkrap. Jou brein kan dan sukkel om te besluit of jy honger of versadig is. Jy is dus geneig om te veel te eet en nog meer gewig aan te sit.

Voeg jare en gehalte by jou lewe

As jy so min as 5% van jou liggaamsgewig verloor, kan dit jou kans op verskeie leefwyse-siektes verklein. Dis onder meer hartsiektes en tipe diabetes, sê dr. Riekie Smit, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Estetiese en Teenverouderingmedisyne (AAMSSA). (Weeg jy dus 90 kg, moet jy sowat 4,5 kg verloor.) Dit verminder ook rugpyn en verlaag bloeddruk, vergroot jou long-volume en verbeter spierbeheer en -sterkte jou energievlakke. En natuurlik jou selfbeeld, sê sy. Daardie rolletjies kan jou boonop voor jou tyd oud maak. Dit kan chromosoom-veranderings veroorsaak wat die verouderingsproses versnel, volgens ‘n studie deur die Amerikaanse National Institute of Environmental Health Sciences. As jou gewig egter jou lewe lank gesond was, is die kanse daarvoor kleiner. Bron: www.news-medical.net

Beskerm jou brein

Om in jou middeljare vetsugtig te wees, kan jou risiko vir demensie met tot 74% vergroot. Só wys ‘n studie in die British Medical Journal (www.bmj.com). Die navorsers waarsku dat die vetsug-epidemie in die toekoms tot ‘n ontploffing van demensie kan lei. Hulle glo vetsug kan jou kans op demensie verhoog: Óf weens ‘n direkte uitwerking op die brein, óf omdat dit verbind word met mediese toestande wat beslis jou risiko vir demensie verhoog, soos hartsiektes en diabetes. Verder wys ‘n Sweedse studie hoe hoër jou liggaamsmassa-indeks (LMI, BMI in Engels) is (sien “Is jy oorgewig?” hierbo), hoe groter is jou kans om breinweefsel te verloor, en dís een van die eerste tekens dat jy moontlik demensie gaan ontwikkel. Bron: www.bbc.co.uk

Nóg 7 voordele PLUS wat die kenners sê - lees HIER

Nina Swart op ons Februarie 2014- voorbladIn die nuutste uitgawe van SARIE - Voel goed, leef gesond

10 bladsye

  • Verloor gewig sonder dieet
  • Oefen sonder moeite
  • Ontspan met joga
  • Jou werk en lewe: is balans moontlik?
  • Gesondheidsdinge

Is jy oorgewig?

Bepaal jou liggaamsmassaindeks (LMI): die verhouding tussen jou gewig en jou lengte. Deel jou massa (in kg) deur die kwadraat van jou lengte (in meter). Voorbeeld: As jy 1,66 m lank is en 52 kg weeg, is jou LMI 18,9.

Tussen 20 en 25 is gesond, tussen 25 en 30 is oorgewig en hoër as 30 word as erg vetsugtig beskou.

*LMI is net een van die tegnieke wat jy kan gebruik om oorgewig te meet, maar is nie altyd reg vir alle mense nie.

Verwerk uit SARIE, Januarie 2010