Gryp jy instinktief na ’n sjokolade, ’n koppie koffie of ’n energiedrankie wanneer jy moeg is? Daar's gelukkig baie beter, goedkoper, én natuurlike maniere om ’n energie-skop te kry.

1. Eet ontbyt

Studies het al bewys dat mense wat ontbyt eet, beter in hul daaglikse take vaar as dié wat dit oorslaan. Dit is omdat hulle meer energie het om dié take te verrig.

Maak ’n lekker frittata een aand met enige groente wat jy in die huis het en eet maklik ’n paar oggende daaraan. Hier is SARIE se ontbyt-trittata resep.

2. Oefen

Ja, ons weet. Die laaste ding waarvoor jy lus is wanneer jy moeg is, is om te oefen. Maar kenners meen dat ’n bietjie oefening eintlik beter vir jou energievlakke is as om ’n middagslapie te vat.

Miskien lê die oplossing in iets so eenvoudig soos om vinnig deur die kantoor te stap. Want om heeldag agter ’n rekenaar te sit, is baie sleg vir jou gesondheid. Lees HIER wat 4 ure se sit vir jou lyf doen.

3. Drink water

Dit klink dalk te eenvoudig, maar water is die beste vloeistof wat jy kan ineem as jy moeg is. Stres het ook ’n manier om jou te dehidreer, so wanneer jy moeg voel tydens ’n stresvolle week, maak seker dat jy meer water drink.

FOTO: Phyllis Green FOTO: Phyllis Green

Dit is baie moeilik om tydens winter genoeg water te drink, veral wanneer die temperatuur daal - volg dié wenke om ook tydens die winter genoegsame water te drink.

4. Koop (geel) blomme

Volgens Women's Health is geel die kleur wat die sterkste met ’n beter gemoed en gesonde lewensuitkyk geassosieer word. As jy vroliker is, sal jy ook outomaties meer energie hê. Daarom is ’n groot bos geel blomme nie net mooi nie, dit is ook nodig.

5. Ontmoet iemand van wie jy hou vir koffie

Miskien dink jy dit is beter om op jou eie te wees wanneer jy moeg is, maar volgens die Amerikaanse gesondheidswebblad WebMD is die positiewe uitwerking wat jou gunsteling-mense op jou het baie beter as om alleen by die huis te sit.

Bel ’n vriendin - al is dit net vir ’n vinnige koffie-afspraak. Haar positiewe energie sal jou sommer dadelik vir die res van die dag krag gee.

Bronne: Huffington Post, WebMDWomen's Health

Nóg wenke vir ’n beter jy

5 gevolge van slegte postuur PLUS verbeter dit só

Staan op – te veel sit is sleg vir jou!

Nuwe studie: Die beste manier om gesond oud te word

Die 10 vuilste plekke in jou kombuis + Só raak jy die kieme baas