“Ek weet ek is mooi. My hart, minstens . . . en my oë, en my persoonlikheid. En my vol lyf en borste is mooi – dis wat hy aand ná aand vir my vertel.

Ek laat toe dat hy sy paspoort vir vyf minute van dieselfde sweterige travels oor my lyf stempel met sy leuens. Soos laas. Soos altyd.

Môreoggend is ek weer te dik vir daardie broek en pienk laat my effe varkerig lyk. Só sê hy. Groen is ook uit. Die truitjie wat sy ouma op vyf vir hom gebrei het en hy op elke familiefoto dra, was net te veel. Vir hóm, maar nou durf ek nie groen dra nie.

Dan probeer ek weer na myself in die spieël kyk en stry teen die gat in my binneste, wat net gevul kan word met iets soets, of romerigs. Of iets wat kraak wanneer ek dit byt . . . of pasta. Pasta met roomsous . . . roomys?

Dis só elke keer dat ek my oorgroot klere laag vir laag van my laat afgly. Ek weeg 130 kg en die Donna-Claire-etikette wat ek van my klere afknip, lees 20/44. Ek kyk nie na my refleksie in die spieël nie, ek loer skaam. Maar my melkwit lyf vol rekmerke kýk terug, loer nie. ‘Rekmerke is kinderbriefies,’ sê die ginekoloog wat instaan vir my gewone een. Ek rol my oë muur se kant toe.

Ek was altyd baie aktief – lyflik. Goed netbal gespeel, ’n outydse ses voet lank en 65 kilogram met trots rondgedra – en weggegee.

My (liewe) heks, oervriendin en selfhelp-ghoeroe Eleftheria Kakambouras van Grabouw skel my tot voor die spieël. Sy, met die turkoois ringe en wierook in haar hare, wat gereeld op die vreemdste plekke net verskyn. ‘It’s an assignment. From today onward, get naked. Get in front of a mirror. Love yourself.’ In die oggendlig sweef stofdeeltjies rond. Ek sal moet skoonmaak. Ek moet nog hoender ontdooi vir middagete. Ek moes seker my beenhare geskeer het. Ek is honger. Ek kan nie.

Dag twee van kaal na myself kyk, is dieselfde storie. Ek staan voor die groot spieël in die babakamer. My oë gly oor my lyf, vinnig, soos wanneer jy verby ’n ongelukstoneel ry. Ek lyk vir myself soos deeg. Ek moet brood bak. Ek is honger. Ek kan nie.

Dae gaan verby, vol van die gewone dinge. Huiswerk, die roetine van ’n 20 maande oue baba, doellose seks terwyl ek aan vlaskywe en die komende naweek dink. Daar is altyd ’n komende naweek en die Maandag daarna – dán sou ek myself in die gesig kan kyk. Net nie nou nie.

Ek probeer die ding van myself liefkry met tandeborsel in die hand voor die gesigspieël in die badkamer. Ek kyk skaam op soos ’n weggooihond, vinnig en weer weg. Jy hét mooi oë, dink ek . . . Jammer jou lyf is nie meer wat dit was nie. Jy lyk oud, dink ek . . . Ek is 27.

Die skuim van die tandepasta raak min. Ek besef ek gaan my mond binnekort moet uitspoel, dat die naeltjie-peinsery dan verby is. Dit gee my moed om tot anderkant my oë te kyk. Vir ’n oomblik is dit asof ek ’n ou vriendin in ’n skare raaksien . . . Die oë van die dogtertjie wat Barbie se lyfie gemeet het vir die een wat sy eendag wou/móés hê. Noodsaaklik om haarself lief te kon hê.

Ek soek daardie oë keer op keer op, tandeborsel in die hand. Ek kry haar op elf, waar sy haar T-hempie skaam van haar bors af wegtrek sodat ek nie weet haar lyfie verander nie. Ek kry haar op twaalf toe sy op ’n koshuisbadkamer se vloer sit en huil. Ek kan sien sy wil nie praat oor haar jong lyf en Meneer se hande nie. Ek kan sien sy het baie vrae.

My self-sielkunde-sessie op aanbeveling van my heks vir eers verby, is my tande blinkskoon en ek is honger. Hongerder. Altyd honger vir iets soets of souts – iets wat kraak, iets met sous oor . . . kaas . . . altyd kaas op alles. Ek is honger al is ek vol. Enigiets wat warm uit ’n toaster kom omdat die botter daarop my hart beter laat voel. Elke tweede blokkie van my seuntjie se Marmite-broodjie stoot ek in my mond. Terwyl ek wonder hoe hy sonder hom gaan grootword, sou ek sy pa los.

Ná my egskeiding is daar ’n plaasdans met te veel whisky. En ’n poëet wat in my siel klim met ’n sigaretsoen en mooi woorde. Jare later sou ek lag oor ek my in ’n vier jaar lange verhouding kon laat inlieg. Ek pak skottelgoed weg ná die aand se kuier, vol wyn en aartappelslaai, toe hy my soen met sy hande op my ronde heupe. Deur my hartklop in my ore hoor ek hom sê: ‘Dit sal so maklik wees om jou lief te hê, eendag.’ 

Later trek ek voor die spieël in die babakamer uit. Ek kyk en kyk. Gaan stort, skeer my beenhare die eerste keer in weke, haal die pers pasjmina uit waarmee ek altyd die rolle onder my T-hemde toegooi. Ek sit musiek aan, skink nog rooiwyn en begin stadig dans.

Ek word wakker met ’n droë mond en ’n SMS op my foon: ‘Jy’s beautiful.’ Dit het ’n permanente pyn onder my naeltjie en die mooi woordjies van ’n bedrieër gekos om alles te verander. Ek was mooi vir iemand en ek moes by ’n dokter kom.

Ná baie toetse en hospitale is ek gediagnoseer as glutenintolerant, met Candida albicans en oor die algemeen-teslim-vir-myself. En natuurlik erg oorgewig. Ek wou gesond wees. En mooi vir my poet.

My passie vir die plaasberge maak die aantrek van my stapskoene maklik, laat my hyg tot op die boonste punt. Dieselfde berg wat ek minder as tien jaar gelede nog kon uitdraf. Môreoggend maak ek weer so . . . en weer.

Foto ter illustrasie

Sy troetelnaam vir my is ‘Beautiful’. Vier jaar lank is ek ligter en ligter elke keer dat ek op die skaal klim. Ek sien my deur sy oë en wil vir hom beter en mooier en maerder wees. ’n Minioorwinning is die eerste keer toe Donna-Claire niks meer het wat pas nie. (Vandag nog loop ek middelvinger in die lug daar verby.)

Tot hy sê ons sal nooit saam kan wees nie. My poet is weg uit my lewe; my lyf en ek is alleen. Stukkend, brand die honger weer. Introspeksie met ’n tandeborsel is my voorland. Ek bel my heks en sê ek het vier jaar lank opge-slip. Sy sê sy hoop die seks was magies, gaan spieël toe en soek mooi.

Die eerste paar keer is my oë vol skuldgevoel en ek moet deurdruk. ‘Beautiful’ staar na haarself en huil die woorde ‘ek het jou lief, ek het jou lief, ek het jou lief ’ oor en oor tot sy dit glo. Dis rou en vals en soms kan ek eenkant staan en kyk hoe sy vir haarself lieg soos ’n lover wat nooit van plan was om sy lewe met haar te deel nie. 

‘Get yourself a physical reminder – a bracelet,’ leer my heks my. Ek was nog nooit een vir juwele nie, want groot, blink goed hoort aan Kersbome. Een oggend in ’n winkelsentrum kry ek ’n tatoe: Álainn – beautiful in Iers – op my pols, ’n konstante herinnering om te soek na die mooi. Na Beautiful, die vrou wat ek lankal vir myself moes gewees het. My honger is stiller.

Tog, tot vandag toe as iets my ontstel, kan ek voel hoe my maag instinktief begin brand, hoe ek outomaties begin kwyl terwyl ek na ’n boks glutenvrye choc chip-koekies reik. Nou weet ek egter: Soms, as jy liefhet, sê jy nee. 

* Tillia is ook die logistieke bestuurder van die avontuurstapgroep Silent Steps. Kontak Anette by 082 903 5445 of anette@silensteps.co.za, of besoek www.silentsteps.co.za en www.facebook.com/SilentStepsSA/

Ligter . . . emosioneel en fisiek

Namate ek meer en meer gewig afgeskud het, was dit vir my lekker om te sien wat my lyf kan doen. Die twaalf trappies by die plaaskantoor was altyd ’n gesteun met ’n toebroodjie-pouse halfpad. Binne ’n paar maande kon ek dit twee-twee klim en later uitdraf.

Daardie twaalf trappies het my geneem na die Visrivier-canyon in Namibië, staproetes reg oor die Wes-Kaap, die Camino in Spanje . . . Verskonings het begin wegval.

Jy glo mense as hulle vertel jy aard na jou pa se kant van die familie, almal ‘groot mense’. Vreemd genoeg is dit die einste mense wat ná die eerste 40 kilogram te vertelle het: ‘Jy kan darem so bly wees jy aard na jou ma se familie, kyk hoe lekker dun is jy.’

Mense vra my gereeld hoe ek oor vier jaar 60 kilogram kon afskud en ná tien jaar steeds ’n gesonde gewig handhaaf. Leer jouself en jou lyf onvoorwaardelik liefhê en wees jou eie beste vriendin. Kyk jouself in die oë en vertel die vrou in die spieël hoe lief jy haar het.

Elke tree wat jy tot dusver gegee het, elke besluit wat jy geneem het, het jou tot hier gebring. Elke lag en elke traan. Klop jouself gereeld op die skouer wanneer jy klein oorwinnings behaal en vergewe jouself vir voetfoute van enige grootte. Vergewe jouself gereeld.

Weet wat jy eet en hoekom. Is jy regtig honger, of is daar iets wat jou pla waarop jy net kaas strooi?

Wees eerlik met jouself oor hoekom jy oorgewig en ongelukkig is. Kry ’n kreatiewe uitlaatklep vir jou emosies – skryf, kleur in, verf, hekel. Beter nog, gaan stap ’n entjie voor jy uit verveeldheid of onsekerheid eet. Sorg dat jou hart elke dag minstens 30 minute vinnig klop – ’n goeie vrysessie tel ook. Korreksie: ’n Goeie vrysessie tel beslis!

Balans is belangrik. My gunstelinge is slaptjips en donkersjokolade en ek sê selde nee. Maar dan omdat ek bewus is van die bestanddele se gehalte, hoe dit met liefde berei of aan my gegee is. En omdat ek die hemelse, olierige slaptjips kan balanseer met ’n groenslaai vir aandete, of ’n stappie pad-af.