Die regte sort op die regte tyd kan jou energie 'n hupstoot gee. Maar te veel onnodige aanvullings kan jou dalk vandie wal af in die sloot help. Waar trek jy die streep?

Aanvullings het 'n plek in jou gesondheid, maar . . . Jy moet daagliks 'n hand vol pille sluk om gesond te bly. Of só kan jy maklik glo as jy luister na die bemarkingsbeloftes van die verskaffers van die legio kosaanvullings wat in ons gesondheidsbehepte samelewing te koop is. Maar drink jy te veel, of die verkeerde kombinasies daarvan, maak jy jouself dalk siek. En is hierdie aanvullings hoegenaamd nodig? Dikwels nie, sê dr. Jacqui Davies, eienaar van The Wellbeing Waysentrum in Kaapstad.

"Een van my pasiënte het daagliks 30 pille gedrink in 'n poging om supergesond te wees. Dit het natuurlike kure, aanvullings en medisyne ingesluit. Die verskeie dokters by wie sy dit gekry het, was onbewus van mekaar se voorskrifte. Toe sy by my aanklop, was haar lewer reeds ernstig beskadig." Jacqui het die vrou al die pille laat los en vir haar 'n dieet, oefenprogram en slegs drie aanvullings voorgeskryf.Dit gaan weer goed met haar. Dis wel 'n uiterste geval, maar selfs 'n wateroplosbare vitamien, waar jou liggaam 'n oordosis eenvoudig uitskei, kan gevaarlik wees.

Soos Elmari Fischer (48, skuilnaam) uitgevind het, wat chroniese maagprobleme ontwikkel het nadat sy jare lank groot hoeveelhede (wateroplosbare) vitamien C gedrink het. Jacqui sê 'n bietjie - 300 mg tot 1 000 mg - vitamien C-aanvullings en immuunversterkers (vra jou apteker) kan help as jy verkoue het. Maar dis belangriker om die oorsaak reg te stel. "Wanneer jy verkoue kry, sê jou liggaam eintlik jy't rus nodig - klim in die bed en ontspan. Maar die meeste van ons drink allerlei onnodige kure, en gaan voort met ons besige program. Jy takel dan jou liggaam net verder af."

Te veel, Te vinnig:

Ons is 'n nóú-generasie, sê Jacqui. "As ons siek voel, wil ons gou 'n pil drink en verwag dan om dadelik gesond te wees. Ek sien gereeld pasiënte wat om dié rede te veel pille drink. Eerder as wat hulle te min drink wanneer hulle siek is."

Koop jy 'n bekende handelsnaam, is die gehalte van die produk gewoonlik goed. Die probleem ontstaan wanneer jy onwetend groot hoeveelhede en verkeerde kombinasies inneem.

  • Só kan kalsiumaanvullings bv. Die opname van sekere antibiotika en ander medisyne verhinder, sê Sarah Wildy, 'n Johannesburgse dieetkundige.
  • En moenie Sint Janskruid natuurlike antidepressant, saam met voorbehoedmiddels drink nie, gee Martin Wessels, 'n navorsingsapteker by SOLAL Technologies, raad. Dit kan die Pil ondoeltreffend maak. 
  • Ander natuurlike middels, soos Ginkgo biloba, knoffelaanvullings en Panax-ginseng, kan weer die werking van bloedverdunners beïnvloed. Vermy dit dus as jy medikasie vir hoë bloeddruk neem.
  • Daar is angswekkende statistieke oor die langtermyn-uitwerking van groot dosisse aanvullings op jou liggaam. Een studie het gewys meer gevalle van longkanker kom voor onder rokers wat betakaroteen-aanvullings (wat jou liggaam in vitamien A omsit) neem.

In nog 'n studie was daar 'n hoer sterftesyfer onder mense wat groot dosisse vitamien E inneem, vertel Sarah. Voorts kan 'n oormaat yster vry radikale (molecules wat selle beskadig) se skade vererger, sê Martin. En selfs 'n klein oormaat yster kan naarheid en maagprobleme veroorsaak. Moet dit dus nie gebruik as bloedtoetse nie wys jy het 'n tekort nie. Ook medisyne word soms soos Smarties gesluk. Dr.Gavin Zipp, 'n Randburgse algemene praktisyn, het selfs al pasiënte met harsingontsteking behandel nadat hulle te veel pynpille geneem het.

"Pynstillers word dikwels misbruik en sowat 25% van pasiënte met nierprobleme wat dialise kry, is in dié posisie omdat hulle te veel pynpille gedrink het," sê hy. Martin maan dat byna enigiets waarvan jy te veel neem, giftig is - selfs water.Hou dus matigheid voor oë. En Jacqui voeg by dat niemand régtig weet wat al hierdie pille en kure op die lang duur aan ons liggame doen nie. "Daar word byna daagliks 'n nuwe kuur van die mark afgehaal omdat dit negatiewe gevolge het,"waarsku sy.

Dokter toe of nie? Natuurlik hoef jy nie elke keer dokter toe te hardloop as jy nies nie. Jy sal nie sommer gesondheidsprobleme ontwikkel as jy jouself vir iets kleins soos 'n verkoue dokter nie, sê Gavin. "Maar wat as jou 'verkoue' eintlik 'n ernstige siekte is? Soos 'n bakteriese keelinfeksie wat tot longontsteking (en in die ergste geval die dood) kan lei." As jou simptome dus binne 'n paar dae nie effens begin opklaar nie, besoek 'n dokter.

  • Baie aanvullings is verbruikersvriendelik. Volg die aanwysings op die verpakking om te voorkom dat jy 'n oordosis drink. Onthou egter: Verskillende soorte aanvullings bevat dikwels dieselfde bestanddele. As jy dus vyf verskillende soorte pille drink wat elk dieselfde aanvulling as 'n sekondêre bestanddeel het, kan jy te veel inkry.
  • Hoesstroop is 'n voorbeeld. Omdat jy as leek nie tussen 'n nat en droë hoes kan onderskei nie, kan jy dalk die verkeerde soort koop. Jy drink dan te veel daarvan omdat jy aanhou hoes. Dit kan gevaarlik wees, aangesien baie hoesstrope verslawende bestanddele bevat. Vra jou apteker se raad.
  • Selfs iets wat so onskuldig soos energie-tonikums voorkom, kan amok maak met jou bloedsuikervlakke, jou laat bewe en selfs hartkloppings veroorsaak (weens die hoë suiker- en kafeïen-inhoud), sê Gavin.
  • Met self-medikasie word die oorsaak van jou toestand dikwels nie behandel nie, sê Jacqui. As jy byvoorbeeld depressief is, sal Sint Janskruid jou dalk 'n wyle beter laat voel. Maar dit gaan nie jou depressie wegvat nie. En onkunde kan jou skade berokken. Dr.Debbie Smith, 'n homeopaat en akupunktuur-praktisyn, sê baie depressielyers gebruik natuurlike produkte wat hulle in advertensies gesien het, terwyl hulle liefs by hul huisdokter of 'n psigiater moet aanklop.
  • Sy behandel baie pasiënte wat weens newe-effekte (soos naarheid, = duiseligheid en hoofpyn) ophou om hul bloeddrukmedikasie te neem. Hulle prober hulself dan dokter - en vererger die toestand.
  • Luister na jou liggaam en maak die nodige leefstylveranderinge, sê Jacqui. "Vra jouself af: Hoekom is ek moeg of siek? Behandel die oorsaak of jou liggaam gaan net aanhou om jou te waarsku op die enigste manier wat hy ken - deur siek te word!"

Elmari se verhaal

 

"Ek het klokslag twee keer 'n jaar verkoue gekry en lees toe hoë dosisse vitamien C kan jou immuunstelsel versterk. "Aanvanklik het ek twee pille van 1 000 mg elk daagliks gedrink. [Die aanbevole hoeveelheid vir gesonde mense is 30 - 100 mg per dag, hoewel die meeste kenners sê dis heeltemal te min.] "Al het ek fantasties gevoel, het ek twee maande later weer verkoue gekry.  Terwyl ek siek was, het ek 4 000 mg per dag gedrink en vinnig beter gevoel. Toe hou ek aan met dié hoë dosis." Elmari het in 'n stadium weer teruggegaan na 2 000 mg per dag. Maar toe sy 'n effense krapperige keel ontwikkel, het sy haar dosis na 5 000 mg per dag verhoog - in poeiervorm om dit makliker te drink. Sy het chroniese diarree en maagkrampe gekry, 'n simptoom van 'n oormaat vitamien C, maar nie besef dis die oorsaak nie. Sy is dokter toe, maar het aangehou met die hoë dosis vitamien C. "Ek het nie eens daaraan gedink om dit vir die dokter te noem nie. Dit was al so deel van my daaglikse roetine dat ek dit nie as medikasie gesien het nie." Ná nog 'n doktersbesoek, 'n swetterjoel simptomatiese maagmedisyne en selfs kalmeermiddels (die dokter het vermoed dis 'n simptoom van stres) het sy toevallig vir 'n homeopaat genome hoeveel vitamien C sy drink. Hy het gesê sy moet dit los, 'n ligte vorm van Echinacea ('n immuunversterker) voorgeskryf en haar tegnieke geleer om stres te hanteer. Haar maagprobleme het verdwyn. Dis seker meer moeite om die oorsaak van 'n probleem te soek en reg te stel - daarom doen 'n mens dit nie, sê sy. "In my geval is dit stres: Dit takel my immuniteit af. Dit verg tyd en werk om my stresvlakke te beheer. Ek oefen drie keer per week, mediteer daagliks 'n kwartier lank en doen asemhalingsoefeninge wanneer ek gespanne raak. "Dit neem ook lank voor jy resultate sien. My vitamien C oorlading was twee jaar gelede. Die jaar daarna het ek  weer eens verkoue en griep gekry. Maar ek het deurgaans my gesonde roetine gevolg en het presies 13 maande laas verkoue gehad."

Die moets & moenies

 
Die moets
  • Bespreek al die pille wat jy drink met jou dokter - ook aanvullings. Sekere aanvullings verdun byvoorbeeld jou bloed, wat ernstige komplikasies kan veroorsaak tydens operasies.
  • Dis meestal nie raadsaam om voedingstowwe in pilvorm afsonderlik te neem nie. Drink dus 'n goeie multivitamien-en-mineraal-aanvulling, eerder as verskillende voedingstowwe op hul eie.
  • Die meeste mense kan baat vind by 'n omega 3-aanvulling. Dit versterk jou immuunstelsel, is antiinflammatories en kan help om hartsiektes te voorkom. Moenie die aanbevole hoeveelheid op die pakkie oorskry nie.
  • Moet liefs nie omega 6-aanvullings drink nie: Dis "goeie" vette,maar Westerse diëte bevat te veel daarvan en die verhouding omega 3:6 is versteur. Daarom word omega 3 meer beklemtoon.
  • Magnesium is nodig vir meer as 400 liggaamsfunksies en dus 'n belangrike aanvulling.Neem dit egter apart van kalsium, aangesien dié twee met mekaar "meeding" vir absorpsie.
  • Vitamien C en D is nodig vir 'n sterker immuunstelsel. Ons is van die min soogdiere wie se liggaam nie vitamien C kan vervaardig nie. Vitamien D, weer, word net vervaardig as jy in die son kom, hoewel sekere kosse soos sampioene en olierige vis ook klein hoeveelhede bevat. Aanvullings is dus 'n goeie idee as jy siek is. Die voedingskenner Patrick Holford bevel 15 mikrogram per dag aan.
  • Daaglikse pro- of prebiotika hou jou spysverteringstelsel gesond. Probiotika is "goeie"bakterieë in jou spysverteringskanaal wat voorkom dat mikro-organismes wat siektes kan veroorsaak, floreer. Prebiotika, weer, stimuleer die groei en/of werking van probiotika.

Die moenies

  • Baie mense drink daagliks onnodige groot hoeveelhede vitamien C, yster, kromium en vitamien B as aanvulling.
  • Neig jy tot nierprobleme, bly weg van kalsiumkarbonaat. En as jy 'n niersiekte het, moet jy glad nie aanvullings drink sonder om 'n dokter te raadpleeg nie.
  • Te veel nagblomolie (evening primrose oil) kan inflammasie vererger. Te veel yster kan lei tot hardlywigheid of naarheid.
  • Oormatige kalsium-aanvullings kan nierstene veroorsaak.
  • Moenie omega 6-aanvullings drink nie. Westerse diëte bevat groot hoeveelhede hiervan en jou liggaam moet 'n balans van omega 3- en 6-vette hê.
  • Kalium verhinder die werking van sekere medisyne, soos vir die hart en medikasie wat bloedklonte voorkom.
  • Moenie vitamien A en Roaccutane (vir aknee) saam drink nie. 'n Oormaat vitamien A kan ook tot blindheid lei.
  • Moenie Chinese kruie gebruik sonder om 'n kenner te raadpleeg nie - dis baie sterk.
  • Neem detoks-kure net onder dokterstoesig. Dis 'n skok vir jou liggaam en jy kan jouself skade berokken.

Om te weet:

  • Gebruik aanvullings saam met 'n gebalanseerde dieet, sê Sarah. "Kos bevat koolhidrate, vesel, noodsaaklike vette en proteïen wat jy nie altyd net met aanvullings kan inkry nie."
  • Voordat jy aanvullings begin drink, gaan dokter toe vir 'n deeglike ondersoek, beveel Gavin aan. Jou dokter kan dan vasstel of jou liggaam enige tekorte het, of wat jou leefstyl benodig. Só kan baie siektes selfs voorkom word.
  • Jy neem ongelukkig nie vandag alles wat jy nodig het deur jou diet in nie, aldus Debbie. Studies wys die gehalte en voedingswaarde van ons kos het die afgelope dekades verminder. Landerye word oor en oor gebruik en die grond raak uitgeput. Die massaproduksie van kos noodsaak die gebruik van chemiese stowwe soos insekdoders. Dit word boonop met hormone en preserveermiddels behandel, wat dit van baie vitamiene en minerale beroof.
  • Jy kan 'n tekort aan 'n voedingstof hê lank voor die simptome van 'n verwante siekte verskyn. Selfs 'n effense tekort aan magnesium kan jou byvoorbeeld depressief of moeg laat voel.
  • Vegetariërs moet veral versigtig wees vir 'n tekort aan vitamien B12, wat in vleis en diereprodukte soos melk en kaas voorkom. Simptome sluit in bloedarmoede, geheueprobleme en moegheid - en in uiterste gevalle selfs psigose en beskadigde senuwees. "Dit kan tot vyf jaar later eers kop uitsteek en neem nog langer om te herstel," sê Debbie.
  • Volgens Melani Botes, 'n navorsingsapteker by SOLAL Technologies, kom sekere plantstowwe glad nie in jou kos voor nie. (Soos die kruie Rhodiola rosea en ashwagandha, wat vir stres help.) Jy moet dus 'n ekstrak van dié kruie neem. Doen navraag by jou naaste gesondheidswinkel en groot apteke.