MITE 1

Dis nie regtig ’n mediese toestand nie

Dit word as ’n mediese toestand erken in die 4de uitgawe (2000) van die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorder, tans die amptelike “Bybel” van sielkundiges en psigiaters. ADHD het ’n biologiese oorsprong en is die gevolg van ’n wanbalans in chemiese boodskappers in die brein, sê www.additudemag.com.

MITE 2

Kinders vir wie spesiale aanpassings ?gemaak word omdat hulle ADHD het, kry ?’n onregverdige voorsprong

’n Vrou in ’n rolstoel gaan supermark toe. Daar is nie ’n oprit vir die rolstoel nie. Die bestuurder sê as sy wil inkopies doen, moet sy opstaan en loop. Lagwekkend? Wel, dis presies wat ons van dié kindertjies verwag, sê dr. Gawie Malherbe, ’n psigiater van Somerset-Wes wat op kinders/adolessente fokus. “Ons verwag hulle moet meer georganiseerd en minder impulsief wees, maar dis nie moontlik sonder behandeling en ondersteuning nie.”

MITE 3

Jy ontgroei dit later

Nee. Die amptelike syfer is dat sowat ’n derde van kinders met ADHD dit ontgroei. Maar daar is ’n hipotese dat selfs húlle steeds tekens van die sindroom het as hulle behoorlik geëvalueer word, sê dr. Malherbe. Dalk het hulle maar net beter daarby aangepas, of dit in ’n ligter graad gehad. Dat ’n derde hul behandeling kan stop as hulle groot is, beteken nie noodwendig hulle het nie meer ADHD nie – dalk het hulle ’n nis gevind waarin hulle goed kan funksioneer.

MITE 4

Net seuns het ADHD

Die amptelike syfer is drie seuns vir elke meisie. Maar kenners reken dis net so algemeen onder meisies en dat hulle dikwels ?bloot nie gediagnoseer word nie, sê dr. Malherbe. Hulle ?ontwikkel dan later toestande wat met ADHD saamgaan, soos angs, depressie en alkoholmisbruik. Meisies met ?ADHD is soms oordrewe perfeksionisties en georganiseerd. ?Hulle het meestal emosionele probleme en onderpresteer. Jong meisies met emosionele probleme, swak interpersoonlike ?verhoudinge, wat alkohol en dwelms misbruik en rook en ?hulself met skerp voorwerpe sny, moet vir ADHD geëvalueer word. Hulle het ’n 60%-kans om ADHD te hê, sê hy.

MITE 5

Dis omdat jy ’n slegte ouer is

As ’n kind met ADHD in die klas uit sy beurt praat of nie kan stilsit nie, is dit nie omdat hy nooit geleer is sulke gedrag is verkeerd nie, sê additudemag.com. Dis omdat hy nie sy impulse kan beheer nie. Die probleem se oorsprong lê in die brein, nie ’n gebrek aan dissipline nie. Te streng ouers, wat die kind straf vir dinge wat hy nie kan beheer nie, maak inderdaad sy simptome erger. Hy moet professionele hulp kry, soos medikasie, psigo- en gedragsterapie.

MITE 6

Kinders wat Ritalin en ander medikasie neem, is as tieners meer geneig tot dwelmmisbruik

Nee, dit lei nie tot dwelm-verslawing nie. Die omgekeerde is dalk eerder waar: Kinders met ernstige ADHD kan later meer vatbaar vir dwelms wees, omdat hulle sukkel om sosiaal aan te pas, sê prof. André Venter. Meer as ?50 jaar se gebruik van ADHD-medikasie het ?bewys dis veilig en doel-treffend. Dit kan nie ADHD ?genees nie, net die simptome verminder. Maar dit sal nie jou kind in ’n dwelmverslaafde of zombie verander nie.

MITE 7

Mense met ADHD is dom of lui en hulle sal nooit iets in die lewe bereik nie

“Ek is nie dom nie,” sê Graeme Watkins, Idols-finalis. “Ek’s trots op verskeie prestasies. Veral om deur universiteit te kom. My gradeplegtigheid was een van die mees emosionele oomblikke van my lewe.”
Jamie Oliver, bekende sjef, Will Smith, Amerikaanse akteur en sanger, en Michael Phelps, Olimpiese swemheld, het al vertel van hul ADHD. Maar volgens dr. Malherbe styg mense daarmee uit ten spyte van hul ADHD – en nie as gevolg daarvan nie.

ADHD tas jou altyd op een of ander manier aan: jou beroep, persoonlike of sosiale lewe; iewers lê dit jou aan bande. Hy waarsku ons moet versigtig wees om diagnoses te maak oor geskiedkundige mense. Richard Branson? “Ek weet nie of hy ADHD het nie. Alle hoogs aktiewe, suksesvolle, onstuimige avontuursoekers het nie noodwendig ADHD nie.”              

KONTAK

Dr. Malherbe: 021 851 4233 of besoek http://GabrielMalherbe.wordpress.com