Die aktrise Odelle de Wet (beter bekend as die bose Delia van Binnelanders) is vir 26 dae in Bali op ’n joga-kursus. Sy en haar ma, wat nog altyd baie graag Bali wou sien, bly vir dié tyd in die dorpie Ubud.

Odelle blog eksklusief vir SARIE.com oor dié ervaring.

odelle de wet

Ná ’n 19 uur lange vlug van Johannesburg na Doha, Doha na Denpasar (die hoofstad van Bali) en sowat 2 uur se taxi-rit na Ubud, het ons uiteindelik by die joga shala [’n plek waar joga beoefen word] aangekom.

Ná ’n ent se stap met ’n nou voetpaadjie al tussen die huisies deur is ons deur twee Balinese dames verwelkom met ’n alkoholvrye verwelkomingsdrankie met ’n bamboesstrooitjie.

Ons is bewus gemaak van die kookwater en reeds gemengde vars gemmer waarvan ons kan drink en ek het ook my eerste koppie Balinese koffie gedrink. Daarna is ons na ons kamer om uit te pak, verwelkom deur ’n gemmerkatjie wat land en sand terugpraat.

Die volgende oggend is ek so kwart oor 6 op vir my eerste koppie gemmer-en-water.

{-----}

Maar eers ’n paar waarnemings ...

Die mense is besonder vriendelik en ons is reeds genooi na ons taxi-bestuurder se compound waar hy en sy hele familie (kinders, ouers, ooms, ens.) woon. Elke gesin het sy eie kombuis en as die drie slaapkamers te knap word, bou hul nog ’n huis in die compound. Elke familie het ook sy eie familie-tempel.

Almal rits vinnig rond met ’n poegie (bromponie) en die taxi-bestuurder toet elke keer voor hy om ’n draai gaan om die aankomende verkeer bewus te maak van sy teenwoordigheid.

odele de wet

Ons drywer, Nyoman, se 3-jarige dogter se naam is Lakshmi. Sy is vernoem na die godin van rykdom en voorspoed met 7 arms - my gunsteling naas Ganesha, die olifantkop-god wat, soos in die boek Eat Pray Love, bekend staan as remover of obstacles.

odele de wet

Terwyl ek op hierdie Saterdagoggend in die bed lê met my koppie Balinese koffie - aangesien jy volgens die Ashtanga joga-filosofie nie op ’n Saterdag fisiek op jou mat mag oefen nie en meer introspeksie beoefen - lees ek uit Prem Carlisi se boek The Only Way Out is In. In die boek vertel hy hoe ons verkeerdelik die Asana-oefeninge [die fisieke deel van joga] ’n egotistiese oefening maak pleks van ’n manier om jou liggaam "skoon" te maak om sodoende vir langer periodes introspeksie te kan toon. Hy skryf ook dat jy joga weg van die mat af moet saamneem en dit in die daaglikse lewe moet toepas, soos om jou stresvlakke deur asemhaling te beheer.

{-----}

Iets om in gedagte te hou.....

Ek en my ma het Saterdag sentrale Ubud verken, so 'n halfuur se stap van ons shala af. Ons het by Starbucks koffie gedrink (ja, daar is ’n Starbucks Ubud) en bietjie klere gekoop.

Rokkies van 60 000 roepees (ongeveer R55), T-hemde wat jou tot 200 000 roepees uit die sak kan jaag. Jy moet maar oral probeer onderhandel so goed jy kan. Hoe meer jy koop, hoe meer geneë is hulle om die prys af te bring.

Orals op die strate lê blare met blommetjies, brandende wierook en kos as offers wat elke paar uur uitgesit word. Jy moet oppas of jy trap in een!

Interessant is dat ’n hele paar Balinese woorde dieselfde is as Afrikaans, bv. "gang" is ook ’n nou straatjie en "rok" is dieselfde as in Afrikaans. "F" spreek en spel hul uit as "p", so ’n koffie word ’n "koppie" en "eleven" word "elepen", wat jou nou en dan effe deurmekaar maak.

Die meeste restaurante en koffiewinkels vra ’n 5% of 10% belasting- en diensfooi wat nie by die prys van die ete of drankies ingesluit is nie.

Wi-Fi is volop, daarom is dit betreklik maklik om met jou mense by die huis in kontak te bly sonder dat dit jou ’n fortuin uit die sak jaag.

odele de wet

{-----}

Matthew Sweeney

Maandag was my eerste twee joga-sessies saam met Matthew Sweeney. Die eerste vroegoggend tot 11:00, en dan weer vanaf 14:00 tot 17:00. Soggens werk ons aan die tradisionele roetine, dus primary series, intermediate of advanced of alternatiewelik aan chandra krama - ook genoem Matthew se moon sequence - wat 'n rustiger weergawe is.

Middae kan insluit tegniek, satsang of groepsbespreking, asook meditasie en pranayama/ asemhaling.

{-----}

’n Week is reeds verby en ek voel al deel van die gemeenskap. Die ontbyt of middagete sluit gewoonlik eiers, tuisgebakte piesang- of pampoenbrood met pynappelkonfyt en Balinese grondboontjiebotter (’n mengsel van grondboontjies en kasjoeneute) in. Dan kan jy swart ryspoeding met klappermelk en klapperstroop eet, vrugte met jogurt of piesang-pannekoeke met gerasperde klapper en stroop. Ja, dis ’n droom vir enige palet! As joga-praktiseerders probeer ons so vegetaries moontlik leef dié maand, en vir my beteken dit geen vis asook geen rooiwyn.

odele de wet

Vrydag was my eerste primary series-oefensessie, wat natuurlik insluit ’n kombinasie van gly in sweet en op jou kop probeer staan en jou voete agter jou kop knoop. Dis nou as jy avontuurlustig is ...

Dis vir my ’n groot voorreg om by Matthew te oefen sodat hy my kan korrigeer, want hy het 28 jaar se joga-ondervinding.

Dis ’n ongelooflike avontuur en ek voel of my siel elke dag ’n nuwe les leer of konsep begryp. Vandag begryp my siel ’n heerlike ontbyt, ’n jogurt-lassi (’n tradisionele drankie), nasi campur of goreng vir aandete en ’n tradisionele auyrvediese Shirodhara massering ....

Bali-soene

Odelle

* Alle foto's verskaf deur Odelle de Wet

Lees ook