Dokters sê dis ons algemeenste klagte! Gesonde gewoontes (eet, slaap en oefening) is meestal die oplossing. En as jy blitsvinnig ’n bietjie oemf nodig het, probeer dié wenke eerder as koffie. 

FOTO Unsplash

Op ’n drafstap

’n Vinnige stappie van 10 minute kan jou energie vir minstens 2 uur ’n hupstoot gee, volgens ’n studie in die Amerikaanse Journal of Personality and Social Psychology.

Water is lewe

Neem gereeld slukkies water deur die dag. Moenie wag tot jy dors is nie, want jou “dorsalarm” is nie altyd akkuraat nie. Selfs al is jy net effens gedehidreer, kan dit jou moeg laat voel.

Blaas ’n borrel

Kou kougom vir ’n wakkerder brein en om jou konsentrasie te verbeter, is in ’n Britse studie bevind. Dis waarskynlik omdat die gekou bloedvloei vermeerder.

FOTO Unsplash

Span jou neus in

Sit 2 druppels pepermentolie op ’n sneesdoekie en asem diep in. Jy gaan meer gefokus en wakkerder voel vanweë die natuurlike stimulerende eienskappe. As jy meer tyd het, gooi dit by jou badwater saam met 4 druppels.

Voete omhoog

Lê op jou rug en gebruik kussings om jou voete ’n bietjie hoër as jou kop te lig. Of lê op ’n verstelbare oefenbankie of ander oppervlak wat skuins is. Dit verhoog bloedvloei na jou brein, wat jou kop wakkerder laat voel.

FOTO Unsplash

Bronne: realbuzz.com, besthealthmag.ca, ourbetterhealth.org