Hier is 'n uittreksel uit die volledige onderhoud met Antoinette Louw in die September-uitgawe van SARIE:

Jy het al gesê jy was gebroke toe jou kontrak vir 7de Laan nie hernu is nie. Hoe kyk jy nóú, jare later, daarna?

Ek is dankbaar dat dit gebeur het. Ek sou andersins nooit gegroei het nie. Nie in my persoonlike lewe nie. Nie in my spirituele lewe nie. Veral nie in my werk nie. Dit het my gedwing om my eie ding te doen.Om nie op my agterent te sit en wag vir werk nie

Jy het die bedryf al probeer verlaat. Voor 7de Laan was jy ’n sub by ’n koerant.

Ek was eers ’n ruk oorsee. En skryf is my sterk punt, dink ek. Ek het werk by die Daily Sun gekry en ek het gedink dit sal my help om weer met my skryfwerk aan die gang te kom. Toe kry ons die nuus dat Charlize ’n Oscar gewen het. Ons is dieselfde ouderdom en ek het besef ek kan nie meer vir myself jok oor wat ek regtig wil doen nie. Die bedryf is nie maklik nie en jy sit soms sonder werk, maar ek wil niks anders doen nie.

Jy praat openlik oor jou depressie. Die onseker bedryf waarin jy is, is sekerlik nie aan te beveel vir iemand wat daarmee sukkel nie?

Soos vir sir Winston Churchill, loop my “swart hond” van depressie dikwels saam met my. Gelukkig kom ek uit ’n gesin van vegters. [Lag haar aansteeklike lag.] My ma sê dikwels: “Ag, my kind, wil jy nie maar iets

anders doen nie?” Maar as ek op daardie verhoog is en ek doen iets lekker, is alles die moeite werd.

Dit lyk of jy met ’n silwerlepel in die mond gebore is, en tog ...

Mense dink omdat ek uit ’n gelukkige gesin kom wat presteer, het ek nie my oppe en affe nie. Dis nie waar nie. Die lewe is nie altyd regverdig nie en jy dra dikwels self daartoe by. En onthou: Mense bou prentjies van ander. Wat jy sien, is nie altyd die werklikheid nie, of dit nou ’n aktrise, ’n sportster of jou buurman is. Moenie jouself met ander vergelyk nie, want jy weet nie wat in dié mens se lewe aangaan nie.

Antoinette wys haar foto's:

Reeds vroeg aan't wuif vir die kamera ; Op 10 aan die Laerskool D.F. Malherbe in Vanderbijlpark

My eerste karretjie, Kandas, in matriek.

Met vakansie in Thailand

In 'n toneel uit Die Laaste Tango

Saam met Sandra Prinsloo in Nag, Ma

Ek en my kêrel, Reenen Malan

Lees die volledige onderhoud in die September-uitgawe van SARIE