Een van die mees misterieuse siektes, noem die dagblad The New York Times dit. Die alledaagse raak ’n bedreiging, som dr. Franco Colin, ’n psigiater van Pretoria en aanbieder van ’n Lewe met op kykNET, dit op. Depressie.

Al hoe meer mense word wêreldwyd deur dié siekte verlam. En enigeen kan dit kry. Maar daar is hulp én hoop.

Ons het na die nuutste navorsing gaan kyk en gepraat met mense met intieme kennis van dié donkertes.

Depressie: hand om die lyf met stres

Die tekens

Jy voel bedruk … stel in niks belang nie, niks is meer lekker nie ... slaap te veel/te min … voel nutteloos, het oormatige skuldgevoelens … is gedurig moeg en het nie energie nie … sukkel om te konsentreer … dink aaneen oor die dood/selfdood. Jou eetlus is swakker/ beter, jy verloor gewig of sit aan. Die simptome duur 14 dae of langer.

Bron: Prof. Oosthuizen se boek Ontsnap van depressie (Tafelberg, 2007)

Die misdaadsyfer, dalende rand, werkloosheid, huweliksprobleme … depressie?

Sit enige mens lank genoeg onder genoeg druk en hy gáán depressie kry, verduidelik prof. Piet Oosthuizen, ’n psigiater aan die Universiteit Stellenbosch. As jy ’n genetiese geneigdheid het, gebeur dit net vinniger.

Méér mense as in die verlede het byvoorbeeld in 2012 met depressie by hulle aangeklop weens die swak ekonomie en gevolglike geldknyp en werksverlies, sê Zane Wilson van die SA Ondersteuningsgroep vir Depressie en Angs (SADAG).

Navorsers weet deesdae hoe stres en depressie met mekaar verband hou. Depressie laat sekere chemiese stowwe in jou brein afskakel, verduidelik dr. Franco Colin, ’n psigiater van Pretoria. Maar die fokus val nie meer soseer op serotonien, noradrenalien en dopamien nie.

Dis die breinafgeleide neurotropiese faktore (BNF) wat nou in die kollig is – die sogenaamde “kunsmis” vir jou senuweeselle, wat selle vinniger laat groei en sterker verbindings ontwikkel. As die BNF afskakel, krimp selletjies in sekere dele van jou brein en jy word depressief. (Die krimping is sodanig dat dit gemeet kan word.) Behandeling keer dit dikwels in ’n mate om en jou brein “groei” met ander woorde weer ’n bietjie. Maar ongelukkig nooit weer tot waar dit was nie, sê prof. Oosthuizen.

Dié proses gaan hand aan hand met jou lyf se stresreaksie, verduidelik dr. Colin. Jou byniere skei adrenalien af as gevaar dreig. Dis die oorlewingshormoon: Dit help jou om in ’n boom te klim – en vinnig! Met chroniese stres (jy sit darem nou al dae lank in die boom!), word ’n tweede streshormoon, kortisol, afgeskei. Dis nodig vir stamina en oorlewing. Maar word jy te lank daaraan blootgestel, raak dit giftig vir jou brein. Jy kan onder meer ’n maagseer kry, jou suiker- en cholesterolvlakke kan styg – en jy kan depressief raak.

Antidepressante en elektro-konvulsiewe behandeling stimuleer die BNF, maar so ook oefening. Die probleem is dat jy dikwels eenvoudig nie energie het vir oefening as jy depressief is nie, sê prof. Oosthuizen. 

En jou gene? Aan die een kant het jy ’n aangebore geneigdheid tot depressie, wat soos ’n tydbom in jou brein tik, verduidelik dr. Colin. Aan die ander kant is stres, wat enigiets kan wees van werksverlies tot die buurman se lawaaierige hond. Sien dit só: Jy het slegte skokbrekers in jou kar (die geneigdheid tot depressie) en jy ry deur ’n slaggat of twee (stres). Nou breek jou kar. Gene + stres = kar wat breek. Maar jy kan selfs sonder die genetiese saadjie depressief raak. Dit gebeur net vinniger as die saadjie daar is. 

Ons liggame werk en leef teen ’n pas waarvoor dit nie gemaak is nie, sê prof. Oosthuizen. Jou kortisolvlakke (streshormoon) styg en jy kry uiteindelik depressie. Ons noem dit burnout.

En as jy eers eenmaal depressief was, gaan dit jou altyd volg. Al word jy beter, is die kans goed dat jy later weer depressief gaan raak. Dus: Jy beleef erge stres en raak depressief. Maar die volgende episode word deur minder stres veroorsaak. Ná ’n paar herhalings kan dit spontaan gebeur, sonder enige noemenswaardige spanning, sê hy.

Streshantering is dus baie belangrik om depressie te voorkom. Dit sluit in oefening en ’n gesonde leefstyl met balans tussen werk en speel. Die rede hoekom medikasie en terapie sáám die beste werk, is voor die hand liggend, sê prof. Oosthuizen. Antidepressante stimuleer die vlakke van die BNF. Terapie en leefstylaanpassings verlaag die vlakke van kortisol. Só kan jy depressie beheer en selfs hokslaan.

Nuwe hoop?

Medikasie plus terapie word al jare lank ingespan teen depressie. Vir die eerste keer in ’n lang tyd is daar ’n nuwe middel wat die pad aandui vir behandeling in die toekoms.

"Depressie"

dis asof jy al hoe meer binne-in jou oë wegraak asof jou voorkop al donkerder jou wange al hoe beweegloser jou mond verder word as wat enige iets nog ooit van my was jou lyf so deursigtig asof my hand deur jou steek as ek probeer keer dat jy verdwyn ...

“Depressie”, Antjie Krog (Uit: Verweerskrif, Umuzi, 2006)


Ian Thorpe, Australiese swemkampioen en vyfmalige Olimpiese gouemedalje-wenner, beskryf sy lewe met dié “verlammende’’ siekte in sy outobiografie, This Is Me: The Autobiography (Simon & Schuster, 2012). Dit het hom tot alkohol gedryf. En selfdood laat oorweeg. 

“Ek het selfs spesifieke plekke of maniere oorweeg om dit te doen. Maar ek het telkens besin, en dan besef hoe belaglik dit was. Kon ek dit gedoen het? Nee, dink ek nou as ek terugkyk. Maar daar was dae, selfs nou, wat my laat sidder.” Vandag nog, in ’n tyd dat hy nogal gelukkig oor sy lewe voel, moet hy ’n baie ernstige siekte in toom hou. “Elke dag is ’n moontlike donker een – ek besef dis iets waarmee ek my lewe lank sal moet saamleef.” 

Prof. Lizette Rabe van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en voormalige redakteur van SARIE se briljante seun, Fritz, het in Augustus 2009 weens depressie gesterf. Haar dapper pogings om sin daarvan te maak beskryf sy as “bluf en oëverblindery; net skelet en sening wat siel aanmekaar hou, dis al”. 

“Van myself het niks oorgebly nie. Terwyl ek weet ek moet vir my ander twee kinders die ma wees wat hulle verdien, en vir my liewe man die vrou wat hy verdien, het daar geen vreugde oorgebly nie. Dis wat hierdie siekte doen. Hy vernietig nie net ’n geliefde se lewe nie, maar ook almal om hom.”

Depressie gaan teen 2020 die tweede grootste oorsaak van ongeskiktheid in die wêreld wees. En nommer een in baie lande en onder vroue. (In ons vrugbare jare ly meer vroue as mans daaraan. Ná ons menopouse steek mans ons verby.) Kardiovaskulêre siektes is al wat dit gaan troef, volgens die Global Burden of Disease-studie.

Baie geld word aan navorsing bestee om depressie beter te behandel, sê prof. Piet Oosthuizen, ’n psigiater aan die Universiteit Stellenbosch. Mense besef nie hoe ’n groot las dit op die wêreld-ekonomie en -gesondheid plaas nie. Tog is daar sedert die jare sewentig nie ’n werklik nuwe antidepressant (wat op ’n unieke manier werk) ontwikkel nie. 

Nou kan ’n klubdwelm, genaamd Special K, dit dalk verander. Special K is eintlik die narkosemiddel ketamien, en dit kan binne ure help om major depressie te verlig, selfs by mense op die randjie van selfdood. Een studie wys ’n verbetering binne 40 minute, terwyl dit met tradisionele medikasie 6–8 weke kan duur. In sommige studies met ketamien het proefpersone 7–10 dae later nog goed gevoel, volgens webmd.com.

Dit help ook mense (sowat 30%) vir wie antidepressante soos Prozac® nie werk nie. Die joernaal Science noem dit “een van die grootste ontdekkings in die veld van depressie die afgelope vyftig jaar”.

Maar dis onwaarskynlik dat ketamien die volgende groot middel teen depressie sal word. Dit het baie newe-effekte, wat buiteliggaamlike ervarings, hallusinasies en geheueprobleme insluit. Jy kan daaraan verslaaf raak en die gereelde gebruik daarvan word gekoppel aan ernstige geestes- en gesondheidsprobleme. Dit kan ook organe soos jou lewer en niere aantas. Die meeste mense wat dit al gekry het, het dan ook aan studies daaroor deelgeneem.

Nuwe middels

Navorsers wéét hoe dit werk en ondersoek dus nou ander middels wat dieselfde breinpaadjie volg, maar veiliger is. Daar word gehoop die nuwe inligting kan uiteindelik tot ’n meer doeltreffende manier lei om depressie te behandel.

Bestaande medikasie werk hoofsaaklik op die breinboodskappers serotonien, dopamien en noradrenalien. (Alleen of in kombinasies met mekaar.) Die idee dat depressie veroorsaak word deur lae vlakke van serotonien, of ’n “wanbalans” van sekere sleutel-breinboodskappers, is stewig in die kop van Jan en alleman vasgelê, sê die nuustydskrif Time. Maar wetenskaplikes weet al dekades lank dit kan nie so eenvoudig wees nie. Antidepressante verander die breinboodskappers dadelik. Maar jou depressie verdwyn of verminder dikwels eers weke later.

Volgens Time is nog ’n teorie dat depressie nie deur die breinboodskappers per se veroorsaak word nie, maar weens skade aan senuweeselle in sleuteldele in die brein waar gemoedstemming beheer word. Dis in pas met bewyse dat stres depressie kan veroorsaak. Hoë vlakke van streshormone kan ’n oorvrystelling van die breinboodskapper glutamaat veroorsaak. Dit beskadig senuweeselle en beïnvloed presies dieselfde dele van die brein, daar waar jou bui beheer word.

Vonk vir jou brein

Ketamien (Special K) draai klaarblyklik die proses om. Studies met diere wys dit prikkel die vrystelling van hormone en breinboodskappers wat beskadigde senuweeselle herstel, aldus Time. Dis soortgelyk aan die manier waarop tradisionele antidepressante werk, maar met ketamien gebeur dit baie vinniger.  

Ketamien versterk naamlik die sinapse, ’n baie klein gaping aan die punt van ’n senuweesel. Senu-impulse beweeg daaroor van een senuweesel na ’n ander. Dis dus via die sinaps dat inligting van een sel na die ander vloei. Dit word gedoen deur die vrystelling van breinboodskappers of oordragstowwe (soos serotonien en dopamien). Chroniese stres kan dié verbindings verswak en dis klaarblyklik die wortel van depressie en ander stresverwante siektes.

’n Gesonde senuweesel lyk soos ’n boom in die lente met baie takke en blare wat uitspruit na ander senuweeselle. Maar as jy depressief is, ‘‘verlep’’ die ‘‘takke’’ en ‘‘blare’’ en lyk dit soos ’n boom in die winter. Ketamien laat dit weer soos ’n lenteboom lyk, volgens die webblad www.npr.org. (En dis sommer weer lente in jou gemoed óók.) Bestaande antidepressante herstel uiteindelik ook senuweeselle op plekke in jou brein wat belangrik is vir jou gemoedstemming. Dit gee ’n alternatiewe verklaring hoekom dit werk, sê Time. Maar dit neem tyd voor jy die volle krag daarvan voel. En in daardie kritiese tyd kan iemand wat baie depressief is, dalk sy eie lewe neem.

Die toekoms

Verskeie farmaseutiese maatskappye woeker nou met navorsing om chemiese verbindings te ontwikkel wat dieselfde uitwerking as ketamien het, maar sonder die probleme. Baie van dié middels word reeds op mense getoets.

Intussen word ketamien wel in uiterste noodgevalle gebruik. Dis ’n alternatief vir elektro-konvulsiewe (skok)behandeling (EKB) vir pasiënte wat nie op standaardmedikasie reageer nie, volgens prof. Oosthuizen. Dit word binneaars toegedien en baie versigtig gemonitor. “Ek kan die Suid-Afrikaanse psigiaters wat ervare genoeg is om dit te gebruik, op my een hand tel,” sê dr. Colin.

Bestaande medikasie

Maar waar staan ons tans met die behandeling van depressie? “This terrible disease,” soos die Britse skrywer Virginia Woolf dit in haar laaste briefie aan haar man beskryf vóór sy in die rivier gestap het. Soos reeds gesê, werk bestaande antidepressante in op serotonien, of dopamien, of noradrenalien (of ’n kombinasie van die drie).

’n Middel, Valdoxane®, werk op ’n effense ander manier: Dit stimuleer melatonien in jou brein, die hormoon wat onder meer jou slaappatroon reguleer. Een van die hoofsimptome van major depressie is immers ’n versteuring van jou slaappatroon. Al die bestaande antidepressante het newe-effekte, wat gewoonlik die ergste is kort nadat jy dit begin gebruik het. Dit neem af hoe langer jy dit neem, sê prof. Oosthuizen.

Daar is wanopvattings oor antidepressante. Só beskryf iemand haar reaksie nadat sy met depressie gediagnoseer is: “Ek het gesê ek gaan nie gewoontevormende medikasie neem nie en seer sekerlik nie ’n psigiater besoek nie. Ek was nog altyd in beheer van my emosies. Die dokter het verduidelik dat ek nie besig is om my varkies te verloor nie; dat enige mens depressie kan kry. Die idee dat ’n stigma aan my kleef omdat ek ’n ‘geestesiekte’ het, het my dieper die duisternis in laat tuimel.”

Antidepressante is nié verslawend nie. Volgens prof. Oosthuizen moet jy bang wees as jy depressie het en nié jou medikasie gebruik nie. Want soos reeds verduidelik, beïnvloed onbehandelde depressie jou brein. Ja, sommige mense raak weerstandig. Maar in die algemeen word die middel meer doeltreffend hoe langer jy dit gebruik, sê hy.

En enigeen kán depressie kry. Dit sê niks van jou as mens of jou persoonlikheid nie. Dis ’n siekte. Soos diabete se pankreas nie genoeg insulien vervaardig nie, net so het depressiewe mense se brein nie genoeg van sekere chemiese stowwe nie.

Jy voel vrotter ná medikasie?

Jy en jou psigiater moet aanhou soek na die regte resep. 

Daar het iets gebeur wat jou depressie vererger: Jy het weer begin drink, jou vrou los jou, jy verloor jou werk.

Gaan sien weer jou psigiater. Die diagnose was depressie, maar dis iets anders, soos bipolêre versteuring. antidepressante maak dit dan erger. Jou dokter moet dus besin: Was die diagnose reg en is dit stééds reg?

Bron: Dr. Franco Colin

Gemoedstabiliseerders

Die grootste onlangse ontwikkeling is waarskynlik die gebruik van gemoedstabiliseerders. Dit word aanvullend tot antidepressante gebruik. Jou psigiater gaan dit nie met die wegspring voorskryf nie, sê prof. Oosthuizen.

Maar as ’n tweede antidepressant óók nie werk nie, kan ’n gemoedstabiliseerder voorgeskryf word. Dit kan die werking van die antidepressant versterk. Een benadering is die byvoeging van klein dosisse middels wat in die ou dae as antipsigotiese middels beskou is. Daar is taamlik goeie bewyse dat dit breinboodskappers soos serotonien en dopamien verhoog.

Nog ’n middel wat bykomend voorgeskryf kan word, is die tiroïed- of skildklierhormoon. Depressie is een van die gevolge van ’n siek skildklier.

Kielie jou brein

Elektrokonvulsiewe behandeling is hoofstroom. Dit word gegee vir pasiënte by wie die gevaar van selfdood bestaan en wat nie op enige medikasie reageer nie.

Vagussenuwee-stimulasie: Die vagussenuwee verbind jou brein en belangrike organe soos jou hart, longe en ingewande. ’n Klein toestel word chirurgies in die boonste linkerkant van jou bors geplaas en met ’n draad aan die vagussenuwee gekoppel. Seine beweeg van die toestel via die vagussenuwee na die brein en verlig depressie. Dr. Colin sê hy het dit al gedoen, maar dis nie hoofstroombehandeling nie.

Met transkraniale magnetiese stimulasie (TMS) word magnetiese velde gebruik om senuweeselle te stimuleer. Dit help vir depressie, maar is nog baie eksperimenteel. Dit word min gebruik en dan net as ander behandelings nie werk nie, sê dr. Colin. Die Valkenburg-hospitaal in Kaapstad het onder meer so ’n masjien.

Met diep breinstimulasie word elektrodes in ’n spesifieke deel van jou brein geplant. Die breinweefsel word met ’n lae vlak elektriese stroom gestimuleer. (Dit word ook vir Parkinson-siekte gebruik.) Dit verg ’n chirurgiese breinprosedure en word net in uiterste gevalle gedoen, sê hy.

Pille alleen g’n antwoord

Navorsing wys terapie en medikasie sáám werk die beste vir depressie. Psigo-/hipnoterapie of kognitiewe gedragsterapie help jou om deur onderliggende probleme te werk wat tot jou depressie kan bydra. Kognitiewe gedragsterapie help jou bv. verstaan hoe jy gekom het waar jy is. Jy leer ook stres- en ander hanteringsmeganismes. Práát dus met iemand. Besoek ’n sielkundige wat jou kan help om perspektief te kry, sê hy. Mense sê jy moet jouself regruk? Dr. Colin: “Snert! Hoe kan ’n siek brein homself regruk?”

Dieet en Depressie

Daar is nie wetenskaplike bewyse dat jou dieet depressie veroorsaak nie. Dit speel wel ’n belangrike rol in jou algemene gesondheid en beveg boonop stres. Volg dié algemene dieetreëls as jy aan depressie ly. (Sáám met jou antidepressante.)

  • Eet ses klein (gebalanseerde) maaltye per dag. Dit stabiliseer jou bloedsuikervlakke en voorkom die vrystelling van streshormone soos kortisol.
  • Eet minstens twee keer per week vis (’n ryk bron van omega 3-vetsure). Sardiens, sardyne (pilchards) en tuna is goedkoper bronne van “goeie” vetsure as die duurder salm.
  • Neem elke dag ’n goeie multivitamien-en-mineraalaanvulling, asook sowat ’n gram van spesifiek ePA, ’n omega 3-vetsuur wat veral in visolie voorkom. (Sien verpakking.)
  • Drink minder alkohol en kafeïen.
  • Hou op rook.
  • Moenie uithonger-diëte volg nie. 
  • Vermy eetlusdempers. 

Bronne: Prof. Marthinette Slabber Stretch, emeritus-professor aan die departement menslike voeding, Universiteit van die Vrystaat; Prof. Piet Oosthuizen.

KONTAK SADAG 0800 75 33 79 (tolvry), of SMS 31393.

Besoek www.sadag.org; www.survivorsofsuicide.org.za

Lees ook:

Rolanda Marais: As die donkerte jou vat

Melanie du Bois oor die pad ná 'n geliefde selfdood pleeg

Ly ek aan depressie?

Tieners en selfdood: Ken die simptome

* Hierdie artikel het oorspronklik in SARIE se Feburarie 2013-uitgawe verskyn.