Jy kan vanjaar gesonder wees én steeds lekker eet! Kies net jou peuselhappies slim, sê geregistreerde dieetkundige Mariza van Zyl van BeterEet.

Jy drink gewoonlik ...

Sider en ander alkoholiese vrugtedrankies

Kies eerder ...

Gin, tonic en soda

• Dis warm en iets koels is verfrissend. Verdun die suiker en kJ deur ekstra sprankel by te voeg. ’n Glas (250 ml sider) bevat maklik 30 g koolhidrate. Terwyl ’n glas tonic byna die helfte minder het. Verdun jy die tonic verder met soda, spaar jy sommer ’n hele klomp leë kJ.

Jy kan natuurlik ook die hoeveelheid alkohol beter beheer. Wyn het baie min koolhidratesuiker, maar die alkohol in 150 ml wyn gaan meer energie (kJ) hê as ’n sopie (25 ml) gin.

FOTO Designed by Freepik FOTO Designed by Freepik

Jy drink gewoonlik ...

Kits-chai latte en kits-cappuccino

Kies eerder ...

Cappuccino met soja- of amandelmelk

• Kits-chai latte of kits-cappuccino het dieselfde hoeveelheid koolhidrate as 4 – 5 teelepels suiker. Dis soortgelyk aan ’n gewone cappuccino met sowat 3 teelepels suiker. En dis nog voor jy suiker byvoeg! Wees slim en bestel ’n amandelmelk- of sojamelk-cappuccino – jy sny dan jou suiker- en vetinname drasties na minder as ’n teelepel elk.

FOTO Unsplash / Drew Coffman FOTO Unsplash / Drew Coffman

Jy eet gewoonlik ...

Roomys

Kies eerder ...

Sjokolademousse

• Klop ’n bietjie lug by! Dit maak die volume meer, maar die kilojoules (kJ), suiker en vet minder. ’n Halwe koppie roomys het byna 3 keer meer suiker en vet as ’n halwe koppie sjokolademousse. Of maak jou eie “basaarpoeding” met jellie en ingedampte melk om kJ te spaar.

Lees DEEL 1 en DEEL 2 hier

Onthou

• Besluit vooraf: Is dit ’n maaltyd, of wil jy peusel? Peuselkos moet liefs nie meer as 500 – 800 kJ per keer bevat nie. En kombineer dit met ’n vrug.

• Onthou! Jou maag moet versadig voel om die boodskap na jou brein te stuur dat jy genoeg gehad het. Iets baie vetterigs maar klein – dit het dus baie kJ, maar is nie besonder groot nie – kan jou laat aanhou eet. Kombineer etes en peuselgoed met ’n glas water of ’n beker rooibostee.

• Moenie eet terwyl jy werk/lees/loop nie – jou aandag is elders en voor jy jou oë uitvee, is die pak leeg.

Probeer om nie elke dag verfynde kos (witmeel, witbrood, muffins) te eet nie. Vrugte, neute en jogurt is ’n voedsame, kJ-vriendelike maaltyd of peuselhappie.

*Kry nog wenke in Mariza se boek Dik vir Dieet (Naledi). Besoek haar webblad.