As Karli op Binnelanders kruip Pascal Pienaar vinning in haar pasiënte se harte, maar hoe hou sy haar eie hart gesond? Met oefening en ’n sjokolade per dag...

Oefen jy getrou?

Ek probeer ten minste 4 keer ’n week een of ander vorm van fisiese oefening doen.

Wat is jou motivering vir ‘n gesonde en aktiewe leefstyl?

Ek het een liggaam en dit moet my lank hou en ver dra.

Watse oefening doen jy?

Ek hou glad nie van hard oefen nie. So ek is nie die meisie wat met masjiene oefen nie. Ek verkies Zumba of enige iets anders naby dans in die gim, swem en draf. Johannesburg het ook lieflike parke, so ek hou daarvan om naweke saam met vriende te gaan stap en die groen seisoen te benut.

Hoe gereeld doen jy dit?

Ek doen ten minste twee dansklasse per week en swem is terapie vir my, so ek probeer dit elke tweede dag doen.

Pascal se gunsteling-oefening is dansroetines FOTO: Twitter Pascal se gunsteling-oefening is dansroetines
FOTO: Twitter

Waarom is dit vir jou belangrik om gereeld te oefen?

Ek kan vinnig "in my kop" wegraak, en oefening help met goedvoel-endorfiene wat negatiewe emosies afbreek. Die gim is ook ’n verskoning om bietjie in die sauna te sit en ’n smoothie te kry by Kauai na die tyd.

Watse tipe dieet volg jy saam met die oefening?

Ek glo nie in diëte nie. Ek probeer perserveermiddels en suiker vermy, maar dit gesê moet ek bieg, ek glo in sjokolade, elke dag. Mens moet die hart ook kos gee.

Wat dink jy is belangrike beginsels vir iemand wat hul lewenstyl gesonder wil maak?

Begin klein. Hoe eet mens ’n olifant? Of hoe eet mens nie ’n olifant nie? Mens hou stukkie vir stukkie op minder eet, kom vroeër in die bed, drink meer water en eet meer vars kos.

Pascal (regs) by haar Binnelanders-medesterre, Zeena Edwards (links) en Quanita Adams (middel) FOTO: verskaf Pascal (regs) by haar Binnelanders-medesterre, Zeena Edwards (links) en Quanita Adams (middel)
FOTO: verskaf

Wat motiveer jou om gereeld te oefen en gesond te eet?

Die pasiënte in Binneland-hospitaal wat versorg wil word deur Karli. Ek wil ’n sprankelende gees hê en oefening help my brein en lyf gebalanseerd en gelukkig voel.

Hoe voel jy as jy nie gaan oefen het nie?

Wanneer ek nie oefen nie, voel dit of die ekstra energie in my lyf my brein pla. Ek raak dan sommer vinnig rusteloos en geïrriteerd met myself. Wanneer ek die energie verbrand voel ek kalm, in beheer en in belans van my lyf en kop.

Hoe bly ander bekendes maer én gesond? Lees hier: