Wat is trombose?

Bloed verander in ’n vaste stof en vorm ’n bloedklont. Dit kan dodelik wees: Versper dit ’n bloedvat na die hart, kan dit ’n hartaanval veroorsaak; na die brein ’n beroerte; en in ’n ledemaat gangreen.

Die Pil is sedert sy ontstaan in 1960 revolusionêr, bevrydend en lewensveranderend genoem. Dit het vroue die mag gegee om self te besluit wanneer hulle kinders wil hê. En daarmee saam het ongekende vryhede gekom. Verdere opleiding, ’n loopbaan.

Dis egter nie vir alle vroue beskore nie. Op die voubiljet saam met die verpakking word ’n lang lys moontlike risiko’s genoem. Een wat baie duidelik uitgestippel word, is trombose. Dis reeds sedert die jare negentig bekend dat die gekombineerde Pil (dus die hormone estrogeen en progestogeen, die sintetiese vorm van progesteroon) bloedklonte kan veroorsaak.

Vir baie vroue lyk die kans klein genoeg om die gebruik van dié gerieflike geboortebeperkingsmiddel te regverdig. Nuwe navorsing in die British Medical Journal (BMJ) kwantifiseer dit: As jy die gekombineerde Pil met die ouer generasie progestogeen neem is jou risiko sowat 2,5 keer groter vir trombose as vroue wat nie op die Pil is nie. Die risiko kan skynbaar nog groter wees as jy op die Pil met nuwer soorte progestogeen (sien kassie) is – sowat 4 keer.

Dis nie die eerste omstredenheid rondom die nuwer soorte progestogeen nie. In Amerika was klasaksies teen Merck & Co (vervaardigers van NuvaRing, ’n vaginale ring) en in Duitsland teen Bayer AG (vervaardigers van Yasmin en Yaz). Dis in die afgelope twee jaar teen etlike miljarde rande buite die hof geskik. Die maatskappye hou vol al het hulle opgedok, beskou hulle steeds hul produkte as veilig.

Om te verstaan waarom die nuwer soorte ’n groter risiko vir bloedklonte kan hê, ’n bietjie geskiedenis. Sedert die Pil se bekendstelling het navorsers die progestogeen-deel van die Pil aangepas. Dit was om newe-effekte soos aknee, hoofpyn, depressie, gewigstoename, teer borste en deurbraakbloeding te verminder. Soos Time.com dit stel: Die prys is dalk meer bloedklonte.

Selfs nadat die Britse navorsers aanpassings gemaak het vir bydraende faktore soos kanker, hartsiektes, spatare, artritis, rook, vetsug en toestande soos lupus en Crohn se siekte, was die verband steeds groot tussen nuwer voorbehoedmiddels en ’n groter risiko vir bloedklonte. Die verband tussen die Pil en bloedklonte is kontroversieel en vorige studies kon dit nie klinkklaar bewys nie. Die Britse studie help egter om vorige teenstrydighede op te klaar, volgens redaksionele kommentaar in die British Medical Journal.


LOS JY NOU DIE PIL? 

Nee, sien dit in perspektief, sê prof. Leon Snyman van die departement verloskunde en ginekologie aan die Universiteit van Pretoria. Vroue wat weet hulle het ’n risiko vir bloedklonte, is meer geneig om nuwe pille “uit te toets”. Dit kan die statistieke skeeftrek. Daar was dieselfde vrese toe die ouer generasie progestogeen (bekend as die tweede generasie Pil) op die mark gekom het. Jou werklike risiko om trombose te kry is egter steeds baie klein.

Die navorsers verduidelik: Die Pil met die nuwer soort progestogeen beteken tussen 6 tot 14 meer trombose-gevalle per jaar vir elke 10 000 vroue wat dit neem – teenoor die ouer generasie progestogeen. Maar jou risiko is steeds heelwat kleiner as met swangerskap, wanneer jou kans op trombose sowat 10 keer groter is as wanneer jy die Pil gebruik. Volgens dr. Corné Brink, ginekoloog van Johannesburg, is ’n belangrike boodskap dat jy nie ’n “breek” moet vat as jy op die Pil is nie.

 “Jou risiko vir trombose is hoër die eerste jaar dat jy daarmee begin. Elke keer wat jy dit los en ná ’n ruk weer begin, is jou risiko dus vir die volgende jaar hoër. Ek voel persoonlik as jy bo 35 is en jy wil die Pil gebruik, moet jou risiko vir klonte baie goed geëvalueer word, en ander opsies, soos die Mirena, liefs oorweeg word. Selfs al is jy jare op die Pil.” (Die mediese riglyne sê bo 52.) 

Sien die Pil vir wat dit kan doen, sê prof. Snyman. Die gevolge van ’n onbeplande swangerskap is baie erger. Jong vroue wat swanger raak, is bv. minder geneig om tersiêre opleiding te begin/te voltooi. “Die Pil is ’n goeie en veilige keuse vir baie vroue, hoewel nie vir almal nie,” sê hy.

PROGESTOGEEN – NUWER SOORT

(effens hoër risiko vir bloedklonte as ouer soort)

DROSPIRENOON: Yasmin, Yaz DESOGESTREL: Mercilon, Marvelon SIPROTEROON: Diane, Ginette, Minerva GESTODEEN: Melodene, Minette, Minulet NORGESTIMAAT (Ortho Evra-plakker), ook ’n nuwer generasie progestogeen. Die risiko vir bloedklonte is egter soortgelyk aan die ouer generasie s’n, volgens die Britse studie. P

ROGESTOGEEN – OUER SOORT

(effens laer risiko vir bloedklonte as nuwe soort) 

LEVONORGESTREL: Triphasil, noodkontrasepsie NORETISTEROON: Mini-Pil MEDROKSIEPROGESTEROON: Depo-provera (inspuiting)

HOSPITAAL TOE!

SIMPTOME VAN ’N BLOEDKLONT IN JOU BEEN

Krampe, rooiheid, warmte of swelling in een van jou bene

IN PULMONÊRE SLAGAAR (NA LONGE) 

Kortasem, borspyn, val flou of hoes bloed

Bron: www.nhs.uk

Het jy van dié trekke?

Dink dan voor jy enige hormonale geboortebeperkingmiddels neem:

  • Oorgewig, vetsugtig
  • Geskiedenis van klonte of dit kom in jou familie voor
  • Migraine met aura 
  • Lewerprobleme
  • Bo 35 en rook
  • Ses maande tevore ’n akute infeksie of chirurgie gehad
  • Swanger, of het onlangs ’n baba gehad
  • Het kanker, of het kankerbehandeling ontvang
  • Gedehidreer
  • Het ’n toestand wat jou bloed makliker klonte laat vorm 

As jy bekommerd is of jy die Pil moet neem, bespreek dit met jou ginekoloog/ gesondheidswerker.

Bron: www.nhs.uk

BYKOMENDE BRONNE

Meer oor die BMJ-studie: www.bmj.com/ content/350/bmj.h2135 Ander: www.medpagetoday.com, www.time.com, nytimes.com, www.reuters.com, www.nhs.uk

Lees ook:

10 voorbehoedmiddels - kies die regte een vir jou

Die pil gelos? 10 maniere hoe jou lyf kan verander