n Biopsie behels die verwydering van vloeistof of weefsel van ’n verdagte plek in jou bors, volgens die Amerikaanse kankervereniging (www.cancer.org). ’n Patoloog ondersoek dit dan onder ’n mikroskoop vir borskanker.

1. Daar is verskillende soorte bors-biopsies.

Die tipe wat gedoen word, hang van verskeie faktore af. Soos byvoorbeeld hoeveel weefsel jou dokter wil hê vir die laboratorium-ondersoek. Jou dokter sal die prosedure kies wat die minste indringend is, en dus die kleinste snytjie verg na gelang van jou individuele situasie. Hier is die beskikbare soorte.

Fynnaald-aspirasie-biopsie (FNA, Fine-needle aspiration)

Dit is die eenvoudigste soort en los gewoonlik nie letsels nie. ’n FNA word gedoen as die dokter die betrokke knop kan voel sodat die naald na die regte plek gelei kan word. Jy lê op ’n ondersoektafel en kry lokale verdowing. Die chirurg/radioloog plaas ’n baie dun, hol naald in die knop, verduidelik die Mayo Clinic (www.mayoclinic.org). Die naald is verbind aan ’n spuit wat selle of vloeistof vanuit die knop kan suig. As die dokter ’n bietjie vloeistof uit die knop kan trek, kan dit dui op ’n vloeistofgevulde sist eerder as ’n gewas. (Dit moet steeds vir bevestiging getoets word.) Maar as dit ’n soliede massa is, sal hy/sy ’n weefselmonster moet verkry om na die patoloog te stuur.

In gevalle waar die knop nie gevoel kan word nie, kan die chirurg/radioloog beeldvorming-tegnieke gebruik om die naald na die regte plek te lei. Met ’n ultraklank-gerigte biopsie hou die dokter die naald op die ultraklank-monitor dop en stuur dit na die regte plek. Met stereotaktiese mammografie word ’n mammogram vanuit verskillende hoeke geneem om die knop se posisie te bepaal.

Diknaald-biopsie (CNB, Core needle biopsy)

’n Groter, hol naald met ’n snyrand word gebruik om ’n groter weefsel-monster te neem, eerder as om net selle uit te suig. ’n CNB gee meer inligting as ’n fynnaald-biopsie, volgens die webtuiste breastcancer.org. Die bors word eers lokaal verdoof. As die knop nie met die hand gevoel kan word nie, word beeldvorming-tegnieke gebruik om die naald te lei, soos reeds verduidelik. ’n Klein metaalknippie kan as merker in die bors geplaas word, sou die knop kankeragtig wees en bykomende chirurgie benodig word.

Benewens vinnige resultate sonder beduidende ongemak en littekens, gee ’n naaldbiopsie (die fynnaald- sowel as diknaald-soort) jou die geleentheid om moontlike behandelings met jou dokter te bespreek – voor enige chirurgie. In sommige gevalle kan ’n naaldbiopsie sommer direk in die spreekkamer gedoen word, tensy jou dokter beeldtoerusting nodig het om dit te lei.

Die risiko vir ’n “vals negatiewe” uitslag is hoër met ’n naaldbiopsie. Die uitslag wys dan, verkeerdelik, dat daar nie kanker is nie, volgens breastcancer.org. Dis waarskynlik omdat ’n kleiner hoeveelheid weefsel met ’n naaldbiopsie verwyder word en die kankerselle dalk nie “raakgevat” word nie.

Vakuum-biopsie (Vacuumassisted core biopsy)

Dit staan ook bekend onder die handelsname Mammotome, of MIBB (wat staan vir Minimally Invasive Breast Biopsy) en is ’n nuwe manier om ’n biopsie te doen. In teenstelling met ’n naaldbiopsie, waar die naald verskeie kere deur die vel gesteek word, word ’n klein snit in die bors ná lokale verdowing gemaak. ’n Spesiale hol gidsnaald word slegs een keer deur die snit gesit en met behulp van ’n sonar in posisie geplaas.

Volgens dr. Pienaar is die naald verbind aan ’n suiermasjien wat die weefsel uit die abnormale deel van die bors suig. Die radioloog kan die gidsnaald beweeg om nog monsters te neem. Dit kan 8 tot 10 keer herhaal word sodat die hele gebied wat kommer wek, deeglik getoets kan word. Die toestel maak verskeie geluide en jy kan dit voel vibreer, sê sy. Die toets is nie gewoonlik pynlik nie, maar jy kan vir ’n kort tydjie ongemak verduur.

Meer weefsel kan verwyder word as met ’n naaldbiopsie. Hoewel dié soort biopsie meer algemeen word, is dit nog relatief nuut. Maak seker die radioloog het ervaring in die gebruik van die toerusting.

’n Chirurgiese biopsie

Dit behels óf die verwydering van ’n deel van die knop, genoeg om ’n diagnose te maak, óf die hele massa word verwyder (lumpektomie). Met’n lumpektomie sal die chirurg, benewens die verwydering van die moontlike kanker, oor die algemeen ook ’n randjie van die normale weefselrondom die gewas verwyder. As die chirurg nie die knop of verdagte plek tydens ’n fisieke ondersoek kan opspoor nie, kan hy/sy mammografie of ultraklank gebruik om te bepaal waar dit is. Of ’n prosedure bekend as gidsdraad-lokalisering (needle wire localisation).

Dr. Pienaar verduidelik: Gelei deur mammografie of ultraklank steek die chirurg ’n dun naald deur die vel tot by die gewas. ’n Draadjie word deur die naald tot op die betrokke plek gevoer. Dan word die naald verwyder. Die dokter kan die draad as gids gebruik om die regte plek vir die biopsie te vind. ’n Lumpektomie is die betroubaarste manier om ’n definitiewe diagnose – en nie ’n “vals negatiewe” uitslag nie – te maak. As die knop in sy geheel verwyder is, sal jy sommer meer gerus voel. Dis egter meer soos ’n gewone operasie, laat ’n litteken en jy gaan meer tyd nodig hê om te herstel, volgens breastcancer.org. ’n Chirurgiese biopsie word gewoonlik in die teater gedoen en jy kan ’n kombinasie van ligte narkose en plaaslike verdowing kry.

FOTO: Jen Armstrong / Unsplash

2. Jou dokter kan ook ’n biopsie van die limfkliere in jou armholte doen.

As jy met borskanker gediagnoseer word, is dit belangrik om te bepaal hoe ver dit versprei het. Gewoonlik versprei dit eerste na die nabygeleë limfkliere. Jou dokter kan ’n limfklier-biopsie met ’n naald doen, saam met jou bors-biopsie. Of dit chirurgies doen dieselfde tyd dat die kanker uitgesny word. Om te bepaal of die kanker verder as die bors versprei het, word een of meer limfkliere onder die arm (oksellimfkliere) verwyder en onder ’n mikroskoop bestudeer.

Dis belangrik om te bepaal in watter fase die kanker is. Wanneer die oksellimfkliere kankerselle bevat, is die kans groter dat dit ook na ander dele van die liggaam versprei het. Dit kan jou behandeling bepaal. Limfkliere word op verskillende maniere verwyder, na gelang van watter vergroot is, hoe groot die kankergewas is en ander faktore, volgens die Amerikaanse kankervereniging.

3. Hoe ongemaklik dit gaan wees, hang van die tipe biopsie af.

Dit behoort egter nie pynlik te wees nie. Jy kry gewoonlik plaaslike verdowing tydens ’n diknaald- of vakuum-biopsie volgens dr. Pienaar. Die inspuit daarvan kan ’n paar sekondes lank ’n brandsensasie veroorsaak, tot dit begin werk. Daarna kan jy ’n drukking tydens die biopsie voel, maar dit behoort nie skerp en pynlik te wees nie. Almal wat al ’n mammogram gehad het, weet dis nie seer nie, maar ook nie juis ’n plesier nie. En dieselfde geld vir ’n biopsie. Die drukking is lig, maar kan met tye ongemaklik voel.

4. Jy kan dalk ’n bietjie ongemak ná die biopsie ervaar.

Pynstillers en ’n yspak kan help. As die plaaslike verdowing se uitwerking begin afneem, kan jy ’n bietjie seer en geswel voel. Neem ’n pynstiller sónder aspirien, wat jou bloed kan verdun. ’n Yspak kan help om die pyn en ook kneusmerke daarna te verminder.

5. Vermy aspirien of ander bloedverdunners voor jou biopsie

Omdat dit jou makliker kan laat kneus. Moenie in die week voor jou prosedure aspirien drink nie. En lig jou dokter in as jy bloedverdunners neem, sê die Mayo Clinic. Dit kan bloeding en ongemak veroorsaak wat weke lank kan duur, maar maak vooraf by jou dokter seker of dit die moeite werd is om dit tydelik te staak. In sommige gevalle is die risiko dalk te hoog.

FOTO: Action Vance / Unsplash

6. Jy kan binne ’n dag of wat jou normale aktiwiteite hervat.

Vra egter jou dokter om seker te maak. Hoe lank ’n biopsie duur, sal afhang van watter soort jy ondergaan. ’n Fynnaald-aspirasie duur maksimum 20-30 minute. En ’n lumpektomie sowat ’n uur, volgens die Amerikaanse kankervereniging. Jy sal dieselfde dag nog huis toe gaan, maar dis belangrik dat jy die res van die dag rus. Dokters beveel dikwels aan dat jy ’n paar dae lank nie swaar goed optel of herhalende bewegings (soos met ’n besem vee) maak aan die kant waar die biopsie was nie. ’n Chirurgiese biopsie is die enigste een waar steke nodig is. Jou mediese span sal presies verduidelik hoe jy dit moet versorg om infeksie te vermy.

7. In sommige gevalle kan jou bors se voorkoms verander.

Maar dis nie algemeen nie. Die dokter verwyder egter baie meer weefsel tydens ’n chirurgiese biopsie as met ’n naald- of vakuum-biopsie, volgens die Mayo Clinic. Die kans is ook groter dat jy daarna ’n litteken kan hê as met die ander prosedures.

8. Jy kry tipies jou resultate binne ’n week.

En jy en jou dokter kan dan besluit watter roete verder gevolg gaan word. Dalk is ’n ander soort biopsie nodig omdat die uitslae nie duidelik was nie. As dit wel kanker is, moet moontlike behandelings bespreek word. En as daar nie rede tot kommer is nie, skeduleer jou volgende mammogram of opvolgbesoek. As jy enige ander vrae het, moenie huiwer om jou dokter voor die biopsie te vra nie.

Bykomende bron: self.com KONTAK: Besoek CancerCare (cancercare.co.za)