Jy sny jouself per ongeluk raak. Dit word rooi, seer en swel op.

Onplesierig, ja, maar noodsaaklik vir die seerplek om gesond te word.

As jy 'n wond of infeksie het, stuur jou lyf giftige chemikalieë om die indringers dood te maak. Opgeleide vegters - sekere witbloedselle - omsingel ook die vyand. Dis 'n hewige geveg - en onder die "ongevalle" is ook gesonde selle. As die "oorlog" verby is, laat weet boodskappers jou liggaam om die "geveg" te staak. Die inflammatoriese reaksie hou dan op.

Jou immuunstelsel is jou liggaam se hoof-verdedigingsmeganisme en inflammasie is die manier hoe jou lyf homself genees. Dis waarom anti-inflammatoriese medisyne versigtig en verkieslik nie te lank gebruik moet word nie, verduidelik dr. Bernard Brom, redakteur van die SA Journal of Natural Medicine en voorsitter van die SA Vereniging van Geïntegreerde Medisyne.

Inflammasie het egter ook 'n skadukant. Volgens Bernard vervaardig chroniese ontsteking sekere giftige byprodukte, wat bv. tot hartsiektes kan lei. Só is chronies ontsteekte tandvleis (gingivitis) 'n bekende onderliggende oorsaak van hartsiektes.

Nie net speel inflammasie 'n rol by hartsiektes nie, maar ook by kanker, tipe 2-diabetes en selfs Alzheimersiekte. Mediese navorsers is ál meer oortuig dié deel van jou immuunstelsel lewer 'n belangrike bydrae tot dié en ander verwoestende siektes.

Want wat as die ontsteking aanhou?

As dit chronies word? Die "soldate" steur hulle dan nie meer aan die reëls nie - en hou aan baklei.

Dis lankal bekend dat inflammasie 'n rol speel by outo-immuunsiektes soos onder meer tipe 1-diabetes (jou pankreas kan nie meer die hormoon insulien vervaardig nie), rumatoïede artritis en veelvuldige sklerose. Jou liggaam maak dan oorlog teen homself. Jou immuunstelsel val verkeerdelik jou gewrigte, senuwees of spysvertering aan. En dié toestande neem toe. (Lees meer op www.autoimmuneepidemic.com.)

Maar kanker, tipe 2-diabetes (jou liggaam raak weerstandig teen insulien) en hartsiektes?
Dis waaroor die belangstelling nou gaan.

 

Inflammasie het ook 'n skadukant.

 

Die Washington Post praat van 'n "ontploffing" van navorsing deur wetenskaplikes om die teorie te staaf - en dit te gebruik om nuwe maniere te vind om siektes te voorkom en te behandel.

Die idee dat inflammasie ook by ander siektes betrokke kan wees, het geloofwaardigheid begin kry toe navorsers gewys het stres en swaar gekruide kos is nie die oorsaak van maagsere nie - die ontsteking word deur 'n bakteriese infeksie veroorsaak.

Bewyse het begin opstapel dat inflammasie by meer as net maagsere 'n belangrike rol speel.

Deesdae gaan skaars 'n maand verby of navorsers ontdek nóg 'n manier hoe laegraadse, chroniese inflammasie jou liggaam kan beskadig. Is daar 'n faktor wat al die siektes verbind? vra die gesaghebbende tydskrif New Scientist.

Terwyl al hierdie toestande verskillende oorsake het en verskillende organe en weefsels betrek, kan die inflammatoriese reaksie dit dalk aanhelp. In sommige gevalle - en wetenskaplikes begin stadigaan agterkom waarom - loop iets verkeerd met die normale "seine" wat die inflammatoriese proses moet laat ophou. Inflammasie is nie die oorsaak van al dié siektes nie, maar dit kan sommiges laat gedy, aldus New Scientist.

Time Magazine stel dit só: Chroniese inflammasie kan die "enjin" wees wat van die mees gevreesde leefstylsiektes aandryf.

Jy hoef egter nie op die mediese wetenskap te wag vir nuwe "wapens" daarteen nie. Jy kan dit self beveg.