Eet sampioene

Sowat 2 koppies sampioene per dag kan jou risiko vir borskanker met twee derdes verlaag, volgens ’n studie in die internasionale Journal of Cancer. Hou dit vars deur dit uit die verpakking te haal en in ’n bruinpapiersak te sit. Vou toe en bêre in die yskas. Bronne: health.usnews.com, Glad

Eina, roomys-hoofpyn!

As jy koue kos of drankies vinnig wegsluk, kan jy ’n “roomys”- of kouestimulus-hoofpyn kry. Die pyn is gewoonlik in die voorkop of albei slape. Dit verdwyn weer ná minder as 5 minute. Wenk: Druk jou tong teen jou verhemelte om dit warm te maak. Bron: www.health.harvard.edu

6

Die minimum kere wat jy per dag jou hande moet was om jouself teen diarree en respiratoriese siektes te beskerm, volgens die Global Hygiene Council. Handewas is die goedkoopste en doeltreffendste manier om jou risiko te verminder om dié siektes te kry (maar hou waterbeperkings in ag en moenie die kraan laat loop nie!). Bron: www.hellodoctor.co.za

DIER-BAAR

Die aroma van peperment kikker jóú dalk op. Maar Kieter-kat hou nie van sulke sterk reuke nie. ’n Volwasse kat se reuksin is sowat 14 keer sterker as joune. Katte is ook baie sensitief vir aërosols en dit kan selfs ’n asma-aanval of chroniese bronchitis veroorsaak. Wees voorts versigtig met essensiële olies. Sommige, soos lemoen en suurlemoen, kan selfs giftig vir Kiets wees. Bron: petmd.com