Toekomsblik. Dis stikkend wárm. Jou klere plak aan jou lyf. En binne reikafstand is jou asma-pompie vir die onafwendbare asemnood. Uit die kraan drup, drup net ... modderwater. Die vensters is dig: Jou verweer teen die aanslag van muskiete en vlieë. Want die aarde rebelleer teen die mens se uitbuiting. An Inconvenient Truth, die voormalige Amerikaanse visepresident Al Gore se dokumentêre prent oor aardverwarming, het pas die waarheid weer bruut onder ons aandag gebring. Met skoktonele van smeltende gletsers en woestyne wat groter word. Hongersnood, vloede, hitte ... en siektes.

Want aardverwarming gáán ons siek maak, verseker die Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC). Dié organisasie bestaan uit die wêreld se voorste wetenskaplikes wat die uitwerking van aardverwarming op ons gesondheid ondersoek (besoek www.ipcc.ch). En die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) raam dat aardverwarming reeds jaarliks tot meer as 150 000 sterftes lei en die oorsaak van siektes by 5 miljoen mense is.

Ons planeet het koors. Dis weens die kweekhuiseffek - eintlik ’n natuurlike proses wat keer dat die aarde vries. Beeld (4 Junie 2002) verduidelik dit só: “Sonder gasse soos koolstofdioksied en metaan in die atmosfeer sou die aardoppervlak baie koeler gewees het. Kweekhuisgas-konsentrasies, wat ’n ‘kombers’ om die aarde vorm en hitte in die atmosfeer vasvang, het egter die laaste paar dekades toegeneem. Dit is o.m. weens die verbranding van fossielbrandstowwe (olie en steenkool).” Wetenskaplikes stem nou feitlik deur die bank saam dat dit klimaatsveranderinge veroorsaak, wat kan lei tot ’n toename in sterftes weens onder meer hittegolwe, aansteeklike siektes, allergieë, cholera en hongersnood. As die voorspellingsmodelle reg is, kan die gemiddelde jaarlikse temperatuur teen 2100 sowat 2°C tot 6°C hoër wees, sê dr. Guy Midgley, spesialiswetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi).

Wat is die Kioto-protokol?

Daarvolgens moet ontwikkelde lande die vrystelling van kweekhuisgas van 2008 tot 2012 verminder tot sowat 5% minder as in 1990. Dit het op ’n dooie punt uitgeloop omdat Amerika dit nie wou onderteken nie. Amerika is verantwoordelik vir sowat 25% van alle kweekhuisgasse wat wêreldwyd vrygestel word. Australië, wat baie steenkool uitvoer, het dit ook nie onderteken nie. Bron: Beeld

Volgens hom het temperature die afgelope drie dekades veral in die Wes-Kaap met een graad gestyg. Dit ryp ook minder in die binneland, sê hy. Marthinus van Schalkwyk, minister van omgewingsake en toerisme, het juis in 2005 in sy parlementêre begrotingspos gesê die tien warmste jare in die geskiedenis van die moderne mens is sedert 1990 aangeteken, luidens Beeld op 7 April 2005. Volgens Guy hou dit allerhande implikasies in vir oeste, peste, onkruid en watergebruik. “Sommige mense sê: ‘Hoe erg kan dit nou wees as dit 2 °C tot 6 °C warmer is? Die temperatuurverskil tussen dagbreek en teetyd is meer.’ Maar stel jou voor jy word teen dagbreek wakker en dis reeds teetyd-temperatuur. Toe die Ystydperk 20 000 jaar gelede in volle gang was, het ’n yslaag van 2 km die noordelike vastelande bedek. En wêreldwyd was die gemiddelde temperatuur net 5 °C laer as nou.” Selfs ’n klein temperatuurtoename kan ’n geweldige impak op die aarde hê:

Warmer dae en meer hittegolwe is ons voorland

Hittegolwe
Warmer dae en meer hittegolwe is ons voorland, sê Olivia Rose-Innes, EnviroHealth-kenner by die gesondheidswebblad Health24. Stadsjapies gaan die ergste sweet: Die oerwoud van teer en beton hou hitte vas. Boonop genereer motors en nywerhede hitte - en hitte kan jou doodmaak. Meer as 30 000 mense is dood toe ’n hittegolf Wes-Europa in Augustus 2003 geteister het. Dit was dié streek se warmste somer in menseheugenis. En hittegolwe gaan in die toekoms meer intens wees en langer duur. Mense met hartprobleme (jou kardiovaskulêre stelsel werk dan harder) en chroniese asemhalingsiektes is meer kwesbaar. Hitte-uitputting is ook ’n probleem. Bejaardes en chroniese siek mense is veral vatbaar daarvoor.

Asma en allergieë
Asma en allergieë (soos sinusitis, rinitis en ekseem) neem wêreldwyd toe. Sowat 10% van die wêreld se bevolking het bv. asma. Een teorie is dat aardverwarming en lugbesoedeling daartoe bydra. Daar is bevind opportunistiese onkruid en bome soos populiere, esdorings en berke word deur hoër koolsuurgas-konsentrasies gestimuleer. Dit vervaardig meer stuifmeel en blom ook ál vroeër in die lente. Hoër temperature moedig ook die groei van fungi en skimmel aan, wat kan bydra tot asemnood. Dieseldeeltjies is veral doeltreffend om stuifmeel en skimmelallergene na die immuunselle in die longe te vervoer, berig The Lancet (8 Mei 2004). Volgens die Amerikaanse Environmental Protection Agency (www.yosemite.epa.gov) verhoog hoër temperature ook die persentasie troposferiese osoon - die “slegte” osoon naby die aarde se oppervlak. (Dit moenie verwar word met die natuurlike osoonlaag bo in die atmosfeer wat keer dat skadelike ultravioletstrale die aarde bereik nie.) Dit beskadig die longweefsel en veroorsaak probleme veral as jy asma of ’n chroniese longsiekte het. En ’n geringe blootstelling daaraan kan selfs by gesonde mense borspyne, naarheid en longkongestie veroorsaak.

Olivia sê klimaatsveranderings sal ook waarskynlik die risiko van bosbrande vermeerder. Dit word verbind met ’n toename in siektes van die lugweë, akute asma-aanvalle, brongitis en borspyne. “Volgens Philip Prins, bestuurder: brand- en tegniese dienste by die Tafelberg Nasionale Park, is die brandseisoen in die Wes-Kaap reeds langer.”

Malaria
Hitte en vloede kan jou doodmaak, maar aardverwarming kan onregstreeks meer slagoffers eis weens siektes. Veral weens skadelike mikrobes wat ’n “saamry-geleentheid” by insekte en ander organismes bedel. Een so ’n siekte is malaria. Die muskiet wat malaria versprei, is gewoonlik beperk tot vogtige tropiese gebiede. Aardverwarming kan veroorsaak dat geskikte habitats in meer gematigde plekke ontwikkel. Volgens die WGO (www.who.int/globalchange) kan sowat 100 miljoen meer mense jaarliks wêreldwyd aan malaria blootgestel word. Temperature moet maar net met 2 °C tot 3°C styg. En dis ’n ernstige probleem vir Suid-Afrika, waar dit reeds in sommige gebiede endemies is, sê Olivia. Malaria is tans tot die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal en die Laeveld-gebiede in Mpumalanga en Limpopo beperk. Marthinus van Schalkwyk het gesê Mpumalanga, Limpopo, Noordwes, KwaZulu-Natal en selfs Gauteng kan teen 2050 malariagebiede wees (The Star, 5 Mei 2005). Volgens dr. Jane Olwoch van die departement geografie aan die Universiteit van Pretoria is malaria nie moeilik om te beheer nie. Maar ontwikkelende lande het nie die infrastruktuur nie. Daar moet plaaslik ’n groter bewussyn van die siekte geskep word. Meer geld moet vir navorsing bewillig word. En hospitale moet beter daarvoor toegerus word.

 

Skadelike stowwe, wat andersins verdun sou gewees het, raak boonop gekonsentreerd en besmet die water.

 

Cholera
Aardverwarming sal die water meer gasvry vir cholera maak. Dis ’n akute infeksie van die dunderm wat swaar diarree en braking veroorsaak. Jane verduidelik die bakterie wat cholera veroorsaak, gebruik klein skaaldiere (krustaseë) wat in water woon en van alge leef as saamryklub. As die water warmer is, bloei die alge en die skaaldiertjies floreer. Die bakterie het dan meer “taxi’s” en dit lei tot meer infeksies. Vloede veroorsaak dat ander waterbronne ook besoedel raak. Volgens dr. Paul Epstein, mededirekteur van die sentrum vir gesondheid en die globale omgewing aan Harvard se mediese skool, is skoon drinkwater reeds ’n probleem in ontwikkelende lande. Die voorraad veilige drinkwater word in droogtes net minder. Skadelike stowwe, wat andersins verdun sou gewees het, raak boonop gekonsentreerd en besmet die water. Goeie higiëne bly ook dikwels in ’n droogte in die slag. En daar is ook nie genoeg water vir mense met toestande wat dehidrasie veroorsaak, soos cholera, nie. (Bron: www.cnn.com)

Kosproduksie
Volgens Olivia kan die gehalte van kos agteruitgaan en dit kan ons gesondheid beïnvloed. Maar niemand weet regtig hoe kosproduksie geraak gaan word nie. Sommige studies toon dat hoër koolsuurgasvlakke plante in sekere gebiede vinniger kan laat groei en dat dit ook groter kan word. Maar dit kan belangrike voedingstowwe kort. Hoër koolsuurgasvlakke kan ook veroorsaak dat sommige plante meer nie-voedingstowwe (soos tannien) produseer. Dit kan selfs giftig wees.

Die internettydskrif scienceinafrica.co.za voorspel aardverwarming sal armoede (en dus hongerte) in Suider-Afrika verder vergroot. Voorspellingsmodelle dui daarop dat die Wes-Kaap in die tweede helfte van dié eeu tot 20% droër kan wees. In die res van Suider-Afrika is droogtes reeds algemeen. Maar hoër temperature kan dit vererger - warmer lug laat meer water uit die grond en plante verdamp. Die oostelike dele van die land kan dalk in die toekoms meer reën kry, maar in die vorm van ekstreme weerstoestande, soos vloede. Reënseisoene is ook besig om te verander - die winterreën in die Wes-Kaap is later en in die somerreënvalstreke hou dit vroeër op. Volgens Guy kan temperatuursensitiewe wyn-variëteite (soos sauvignon blanc) in die Wes-Kaap ’n knou kry. Ook dié streek se appel- en sagtevrugtebedryf. En die Swartland en Overberg se canola en koring. Landbou gaan boonop toenemend met stedelike waterverbruik moet meeding, sê hy.

Sake lyk ook beroerd vir mielies, Suider-Afrika se stapelvoedsel. Marthinus van Schalkwyk het in genoemde begrotingspos gesê: “Die warmer en droër toestande kan mielieproduksie na verwagting met tot 20% laat krimp.” Jane sê mielie-misoeste in Suider-Afrika het met 90% toegeneem. Daar is reeds bestaansboere wat nie meer mielies plant nie. Die reënpatroon het net te wisselvallig geword. In die verslag “A national climate change response strategy for South Africa” word gesê mielieboere sal weens langdurige droogtes binne die volgende drie dekades dalk nie meer ’n bestaan kan maak nie (www.unfccc.int).

Guy sê ons kan swaarkry as temperature met meer as 2,5 °C of 3 °C styg. Armoede kan toeneem soos wat die grond minder lewensvatbaar word. Boere sal hul plase moet verlaat, peste kan in sommige gebiede ’n groot probleem word en water sal ’n luukse wees. Met gepaardgaande maatskaplike en politieke rimpelings. Volgens hom kán ons aanpas, maar dis moeilik om skielik nuwe gewasse aan te plant. Boere moet nuwe tegnieke leer, nuwe markte ontgin, ens. In sommige gevalle is dit duur.

Armageddon?
Dis nie só dramaties nie, sê Olivia. Maar miljoene arm mense gaan nóg meer sukkel om te oorleef. En uiteindelik is dit dalk ons almal se voorland. As jy dink dis nog net ’n vae toekoms-scenario - dink weer, want dit gebeur reeds. Olivia verduidelik: “Let op na die veranderings in jou onmiddellike omgewing. Warmer somers, lugbesoedeling, watertekorte, plant en dierspesies wat uitgewis word en oorbevolkte stedelike gebiede.“ * Besoek ook die webblad www.health24.com.

8 dinge wat jý kan doen

1. Verminder, herverbruik, sirkuleer. Verminder afval deur produkte te koop wat hergebruik kan word (in plaas daarvan dat dit weggegooi moet word). En sirkuleer papier, plastiek, koerante, glas en blikkies waar moontlik. As daar nie ’n hersirkuleringsprogram by jou werk of skool is nie, begin een!

2 Gebruik minder hitte en lugverkoeling. Maak jou huis digter en jy sal minder energie nodig hê om dit warm of koel te hou.

3. Ruil gloeilampe om. Vervang gewone gloeilampe deur kragbesparende fluoorligte (CFL’s). Dit hou 10 keer langer en gebruik tot 60% minder krag.

4. Ry minder en bestuur slimmer. As jy minder ry, beteken dit minder uitlaatgasse. Jy bespaar ook brandstof. Begin ’n saamryklub. Maak seker jy kry die beste werkverrigting uit jou motor. Jy kan bv. brandstof spaar deur net jou banddruk gereeld na te gaan.

5. Koop produkte wat energie doeltreffender gebruik. Soos ’n motor met goeie brandstofverbruik. En huishoudelike toestelle met etikette wat aandui dat dit minder krag gebruik. Moenie produkte koop wat in lae plastiek en karton verpak is nie, veral as die verpakkingsmateriaal nie hersirkuleer kan word nie.

6. Gebruik minder water. Stel die temperatuur van die warmwatertoestel in jou huis laer. As dit ouer as 5 jaar is, draai dit in ’n kombers toe om dit te isoleer. Was jou wasgoed in koue water om warm water (en dus krag) te spaar.

7. Gebruik die “af“-skakelaar. Bespaar elektrisiteit en verminder aardverwarming deur die ligte af te skakel as jy ’n vertrek verlaat. En skakel jou televisie, radio, DVD-speler, rekenaar en ander elektriese toerusting af as jy dit nie gebruik nie. Draai die water toe as jy dit nie gebruik wanneer jy tande borsel of die hond of jou motor was nie. Installeer ’n sonverwarmer.

8. Plant ’n (inheemse) boom. Bome absorbeer koolsuurgas en verskaf suurstof. Dis ’n wesenlike deel van die natuurlike atmosferiese uitruilsiklus. Maar daar is te min om die toename van koolsuurgas wat deur menslike aktiwiteite veroorsaak word, teen te werk. Een boom sal in sy leeftyd sowat 1 ton koolsuurgas absorbeer.
Bron: www.environment.about.com