Hy lig sy hemp in sy studeerkamer op ?en wys die operasieletsels van drie jaar gelede. Dit herinner hom daaraan dat hy die dood in die oë gekyk het.

Sedert die bekende sanger ’n noodoperasie vir ’n geperforeerde dikderm moes ondergaan, gis mense gereeld oor sy gesondheid. Veral toe hy nege maande daarna twee bloedklonte gehad het: eers in sy been en kort daarna in sy een long. Jou risiko daarvoor vergroot ná ’n groot operasie.

“Ja, dit was net so gevaarlik soos my dikderm-probleme, maar ek het dit ook oorleef!”

Hy hou nie daarvan as mense gedurig dink hy is siek as hy net effe “af” lyk nie, maar hy het inderdaad sy aanhangers groot laat skrik. Almal was bang die mediasirkus rondom sy egskeiding van die aktrise Natasha Sutherland vergroot sy kanse vir nog ’n perforasie. Dit was net ses maande ná sy noodoperasie.

Jou liggaam kan seker net soveel hanteer ná ’n hoop spanning en ’n vinnige pas?

“Nee wat, mense hoef nie oor my bekommerd te wees nie. Ek is blakend gesond. Ek weet nie eens van my dikderm nie!

“Ek draf weer en doen sit-ups met tien kilogram op my bors. Die trauma het my effe stadiger gemaak en ek is maar neuroties oor my dieet. Ek drink ook baie minder.”

Hy het ná die wake-up call ’n nuwe blaadjie omgeslaan, maar kon dit net ses maande lank regkry om die pas baie stadiger te vat. Toe het hy weer die krane oopgedraai, beken hy. Tog het sommige veranderinge gebly. “Ek is nou so bang vir doodgaan, ek verdra nie een oomblik se stagnasie in my lewe nie.”

Afskaal is nie heeltemal uitgesluit nie, verseker hy. “Miskien vroeër as wat ek gedink het. Ek het vele belangstellings. Rock ’n roll en celeb speel is maar twee daarvan. Ek is ’n rustige student van die klassieke en literêre. Ek floreer ook in isolasie.”

Hy het ná die perforasie sy ?humeur en stres geblameer, maar hy ontspan dan steeds nie! Wat gaan hy daaraan doen?

“Ek rasionaliseer ’n bietjie anders. En ek is al immuun teen die media-aanslag. Destyds kon ek nie verstaan wat hulle so knaend in my private kamers verloor het nie. Vandag gooi ek tee of bliksem joernaliste. Dis ook goeie raad vir hartpasiënte wat dinge opkrop! Ek bring meer tyd saam met my kinders deur – die beste terapie.”

Sy humeur is wie hy is, maar soms voel hy tog hy moet dit kalmer vat ter wille van sy gesondheid.

“Beslis. Ek het selfs ’n wag voor my mond aangestel. Hy tjaila af en toe, maar ek kan deesdae as vlieg teen die muur die offensief absorbeer.”

Hy beken hy het met sy siekte in die waakeenheid baie goeie voornemens gemaak, maar nie by almal gehou nie. “Ek het belowe ek sal nooit weer seks hê nie . . .

“Ek val nou en dan nog weg aan ‘warm’ kosse met rissies en ?Tabasco-sous en ek eet rooivleis. Maar ek kou my kos meer! My voornemens het niks met my ?maag te doen gehad nie, maar ?alles met my kinders en ?hul erfenis.”

Hy bestuur deesdae sy lewe beter.

“Wel, ek dink ek doen dit. Ek slaap byvoorbeeld baie meer as in ?die Spoegblog-dae. Ek luister na ?my lyf.”

Sy eetstyl is beslis aangepas. Hy ?eet min of glad nie saans nie. Sy groot ete vir die dag is smiddags. “Ek doen steeds my Brans en ?Special K in die oggend, maar dit doen ek al dekades. Ek’s nie groot op eiers en vleis soggens nie. My genesing is moontlik meer geestelik as dieet-gedrewe.”

Hy het nie so groot geskrik dat hy nou ’n gym freak is nie. Hy oefen sommer tuis met gewigte en probeer om sy gewig onder 100 kg te hou. Daar moet darem steeds plek wees “vir ’n boepie”, spot hy.

Hy is ook baie meer selfsugtig met sy tyd.

“Ek lees lank in die bad en spring nie elke keer as iemand bel vir onderhoude, ens., nie. Ek kan nie ?en hoef nie alles te doen nie en probeer minder as vyf konserte per week hou.”

Hy bepaal sy eie skedules en dagboek, gaan meer oorsee vir vakansies en steel ’n week hier of daar vir selfbederf.

“Maar as ek môre omkom, wil ek nie te veel spartel nie. Ek het geleef en dit was ’n voorreg!”

Hy sal altyd aan divertikulose ly, weet hy. (Klein, ballonagtige uitstulpings in die dikderm. Sien kassie hieronder.)

“Dit is slegs gevaarlik as een van daardie uitstulpings bars. My pa is daaraan dood. Dit het dié ou brawe Boer ook byna sy peetjie laat sien.”

Hy het voor hy siek geword het, simptome soos hardlywigheid en sporadiese maagpyn gehad. “Dit was later chronies en toe byna verlammend. Dit is nie dadelik deur dokters gediagnoseer nie. Maagpyn is maar algemeen in ons tyd.

“Dis was nogal ’n dobbelspel. Ek het drie konserte in daardie toestand gedoen. Maar met die laaste een, op Standerton, was ek byna dood.

“In die middel van die nag is ek soos ’n vrot vel uit die bed geslinger van pyn. Ek het gebukkend uitgehol en gelukkig mense in die gastehuis ?se kombuis teëgekom. ’n Pyn-?stillende drup het my tot by my huis in Midrand gekry. Maar ek kon nie weer regop staan nie.

“Ek en Natasha het dadelik hospitaal toe gejaag. Dié motorrit, asook die busritte terwyl ek op toer was, het my byna doodgemaak. ?(Hy toer met sy eie bus.) Ons ?paaie werk wreed met geperforeerde kolons.”

Vir hom was die sakkie (kolostomie) wat hy ná die operasie ’n paar maande lank moes dra “die enkel swaarste en mees vernederende straf vir die ego”.

Hy het dit minuut na minuut gehanteer. Jy leer die innerlike ritme van jou gestel ken soos die lirieke van die ‘Bloubul’, sê hy.

Hy hoop dit was die laaste ?keer dat hy deur so iets ?moes gaan.

“So ’n probleem ontwikkel nie oornag nie en daar’s min voorkomende advies. Eintlik is dit die stadige vergiftiging van ?jou ingewande.  

“Maar eendag het jy een rantsoen stres te veel gehad – en dan blaas die eindfluitjie so byna vir jou.

STEVE SE SIEKTE

• Met divertikulose vorm uitstulpings op swak plekke in die dikdermwand. Simptome: ligte krampe, opgeblasenheid, hardlywigheid, diarree en (soms) bloeding in die stoelgang. As dit nie bloei, ontsteek of gebars het nie, is geen behandeling nodig nie.

• Soms kan die uitstulpings ontsteek (divertikulitis). Simptome: pyn, koors en kouekoors. Dit word met antibiotika behandel.

• Die mees gevreesde komplikasie is as dit bars. Dit gebeur gelukkig taamlik min. Indien dit sou gebeur, is die sterftesyfer tussen 20% en 30%. Simptome: erge buikpyn (die dokter kan omtrent nie daaraan vat nie) en ’n buik wat baie hard is.

• Risikofaktore vir divertikulose: Baie vet en proteïene, en min vesel. Onaktiewe lewe, vetsug.

• Raad: Volg ’n dieet met baie groente en vrugte, aangesien dit baie natuurlike vesel het. Droë vrugte of sade en neute is die ideale happie as jy baie besig is. Oefen gereeld en drink baie water.

Bron: Dr. Fritz Potgieter, gastroënteroloog, ?Pretoria Oos-hospitaal