Dit het nes ’n sproet gelyk, doodgewoon, agterop haar boarm. Plat, glad nie grof, verhewe, seer of oneweredig nie. Dit het egter groter geword. Mareli Visser is gebore en getoë op Douglas in die Noord-Kaap. Die son is venynig en velkanker algemeen daar. Elke vyf jaar het sy vir ’n roetine-ondersoek by ’n velspesialis gegaan. ’n Gewoonte, soos ook vir die res van haar familie.

Sy was bekommerd oor ’n “horinkie” op haar neus. Maar dis toe die sproet, waarvan sy nouliks bewus was, wat die dermatoloog se aandag trek. Melanoom, ’n aggressiewe soort velkanker, fase 1. Omdat dit so vroeg opgespoor is, kon dit bloot uitgesny word, geen verdere behandeling was nodig nie. Die letsel, so 7-8 cm, die enigste bewys daarvan. “Jy besef nie jy kan doodgaan van ’n sproet nie,” sê sy.

Son, see en saffier, mos die Suid-Afrikaanse manier van dinge doen. Mareli het bekend geraak vir haar vaardigheid in die kombuis. Sy was die wenner van kykNET se eerste Koekedoor-reeks, en is van 5 Desember terug op Via vir die tweede reeks van haar bakprogram, Die Koektannie.

Haar grootwordjare was sorgeloos in die son. G’n met-voorskoot-aan-agter-die-stoof nie! Haar pa het net buite die dorp geboer en die veld was haar en haar vier jonger broers se speelbal. Met die Vaalrivier feitlik op hul stoep het hulle baie geswem. Hulle trek steeds gereeld saam in hul huisies op die oewer van die Vaal, oorkoepelend FOMO (fear of missing out) gedoop. Op die rivieroewer, of op hul boot met plek vir dertig mense, dáár kry jy hulle gereeld in die warm somermaande.

Mareli het donker hare, maar ’n ligte vel en sproete. Een van daai mense wat rooi brand voor sy bruin word.

“Ek was nooit juis lief vir sonbaai nie. Dalk so nou en dan as student. Op ’n tyd het ek so twee keer per jaar op ’n sonbed verbruin. Maar toe besluit nooit weer nie. Die afgelope sowat twintig jaar dra ek sonskerm en ’n hoed in die buitelug.”

Die mense van Douglas se omgewing is bewus van die son se gevare. Haar broers, almal boere, ry byvoorbeeld met sonskerm voor in hul bakkies rond. Maar die manne verkies om gholfpette te dra, nie ’n behoorlike hoed nie, hul ore en die agterkant van hul nek steek uit. Dr. Erich Bam, dermatoloog van Bloemfontein, sê hy sien baie boere in sy praktyk en hulle ís traag om hoede te dra. Pette beskerm nie die ore of kant van die gesig voldoende nie.

Dit kan met enigeen gebeur, sê Mareli. “Ons preek vir die kinders: Bly uit die son. Soos ’n reddingsbaadjie, is sonskerm ’n moet as hulle rivier toe gaan. Hulle dra UV-beskermende T-hemde met lang moue.” Só het sy haar twee, Mila (11) en Cilliers (14), van kleins af geleer.

Waar sy self altyd net sonskerm aan haar gesig gesmeer het, bedek sy nou haar lyf oral waar die son kan bykom. “Maar dis nie die sonskade wat jy nou kry wat melanoom veroorsaak nie.” Want tot 80% van sonskade word aangerig vóór jy 18 is. Al het jy net één keer as kind blase gebrand, vergroot dit jou kans op velkanker later, volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).As jy ’n sonbed gebruik voor jy 30 is, is jou kans 75% groter, sê Kansa.

Veilige sonbaai is ’n mite, waarsku dr. Izolda Heydenrych, dermatoloog van Kaapstad. Moenie jouself troos jy doen dit net nou en dan nie. Melanoom floreer juis op kort, onderbroke sarsies son. “Jou sonbruin vel is tydelik, maar DNS-skade onomkeerbaar,” sê sy.

Suid-Afrikaners, soos inwoners van Australië, Nieu-Seeland en verskeie Suid-Amerikaanse lande, loop vanweë ons ligging veral gevaar, volgens ’n artikel in die aanlyn akademiese tydskrif The Conversation. Dis relatief na aan die ewenaar en in die lente en somer blootgestel aan die gevolge van osoon-uitputting. Dit beteken die son is dan baie strawwer.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat ’n 10%-afname van osoonvlakke kan lei tot die diagnose van ’n bykomende 4 500 melanoom-velkankers en 300 000 ander velkankers, volgens Kansa.

Australië en Nieu-Seeland staan bekend as die lande met die hoogste voorkoms van velkanker ter wêreld. In Australië, sonaanbidders soos Suid-Afrikaners, word sowat 2 uit 3 mense met velkanker gediagnoseer teen die tyd dat hulle 70 is, volgens www.cancer.org.au. Jou kans op velkanker daar is sowat 13 keer meer as die globale gemiddelde.

Wit Suid-Afrikaners is waarskynlik nie ver agter nie. Volgens dr. Bam is dit egter moeilik om die voorkoms van velkanker in die twee lande te vergelyk aangesien die Aussies se statistieke soveel beter is.

Wat die voorkoming en behandeling daarvan betref, is hulle ons wel ver vooruit. Hulle bestee sedert die 1980’s miljoene Australiese dollar per jaar aan ’n bewusmakingsprogram van sonblootstelling se gevare: die “Slip Slop Slap Seek Slide”-veldtog. “Slip on a shirt, Slop on the 30+ sunscreen, Slap on a hat, Seek shade or shelter, Slide on some sunnies.”

Hulle pluk nou die vrugte: Sedert die 1990’s is daar jaarliks ’n 5%-afname in die aantal melanome wat by tieners en jong volwassenes gediagnoseer word. Hulle spaar só geld omdat hulle minder velkankers hoef te behandel, volgens dr. Bam.

Die koste van behandeling plaaslik is baie hoër en geld word gebruik wat andersins vir voorkoming aangewend kon word, volgens The Conversation.

In 2015 het velkanker ons gesondheid-stelsel sowat R90 miljoen gekos. Om dit in perspektief te plaas: Dieselfde bedrag kan twee dosisse van die entstof teen die menslikepapilloomvirus – wat servikale kanker voorkom – aan 305 000 meisies in openbare skole voorsien. (Sowat 67% van tienjariges oor ons land.)

“Baie Suid-Afrikaners doen nog nie genoeg nie. Maar dis verblydend om te sien hoe ouers deesdae jonger kinders teen die son beskerm. Skole kan méér doen, deur byvoorbeeld hoede ’n verpligte deel van jou krieketuitrusting te maak,” sê dr. Bam.

Daar is twee tipes velkanker: nie-melanoom en melanoom, volgens The Conversation. Nie-melanoom is nie dodelik nie, maar kan lelike, wasagtige, skurwerige of krullerige groeisels op die vel veroorsaak. Dis dikwels baie ongemaklik en vereis soms lewenslange behandeling. Dis plaaslik sowat vier keer meer algemeen as melanoom.

Melanoom kan dodelik wees as dit nie vroeg opgespoor word nie. Indien ’n melanoom minder as 1 mm dik is, is die prognose gewoonlik goed. Maar die kans is groter dat dit reeds versprei het as dit 3 tot 4 mm dik is, volgens dr. Bam.

Mense met ’n ligte velkleur het ’n groter kans op velkanker. Dis egter wel ook moontlik by mense met donkerder velle. Interessant: Bob Marley, reggae-legende, is in 1981 aan velkanker oorlede. Hy was net 36. Hy het akrale melanoom gehad (van die hande en voete), ’n seldsame vorm van velkanker wat nie deur UV-sonskade veroorsaak word nie.

Hoewel jy meeste velkankers kry op plekke wat aan die son blootgestel is, kan melanome op enige plek voorkom. “Ek het al melanome onder die voet en selfs onder naels gesien,” sê dr. Bam.

Beskerm jouself só sê ons dermatoloë:

 Jy kan niks aan jou gene, vel- en oogkleur doen nie. Wel, aan jou songewoontes. Ken jou sonbrandroom.

  • Daar is 2 soorte UV-strale wat jou vel beskadig: UVB (wat jou rooi laat brand) en UVA (wat jou voor jou tyd oud maak). Albei kan kanker veroorsaak.
  • SBF: ’n Maatstaf om die room se vermoë te bepaal om UVB-strale uit te filtreer. Hoe hoër die faktor, hoe meer beskerming. As jy gewoonlik binne vyf minute begin brand, sal ’n SBF van 15 jou vel vir 75 minute beskerm, dus 15 keer langer.
  • Breë spektrum: ’n Aanduiding (op SA produkte) dat dit jou ook teen UVA-strale beskerm. By Europese produkte moet jy soek vir “UVA” in ’n afsonderlike sirkeltjie. UVB-beskerming in rome is wêreldwyd gestandaardiseer, UVA-beskerming nie. Soek dus na rome met sinkoksied, titaniumdioksied, avobenzoon, Tinosorb en Mexoryl SX.
  • Hoeveel: Gebruik sowat 35 ml sonskerm om jou hele lyf te smeer. Smeer dit te dun aan en die beskerming is minder. Herhaal so elke twee uur.
  • Die beste sonroom gaan jou nie heeltemal teen ons giftige son beskerm nie. (Dra dit nietemin!) Vermy sover jy kan die son tussen tienuur en drieuur. Dra ’n dig geweefde materiaalhoed met ’n wye rand. Asook UV-beskermende klere en swemklere. En ’n donkerbril met UV-beskerming (UV 400) vir jou oë en ooglede.
  • Besoek jou dermatoloog een keer per jaar, of elke ses maande as jy baie moesies en onreëlmatige vlekkies het. Melanoom kan binne drie maande dodelik wees en moet vroeg geïdentifiseer word. ’n Gerekenariseerde skandeertoestel maak dit nou makliker om jou moesies dop te hou en veranderinge raak te sien. Vra jou dermatoloog. Dus: “Slip, slop, slap, seek, slide!” Raak son-wys dié feestyd!

KYK HIERVOOR

Jy het nie X-strale of bloedtoetse nodig om vroeë tekens van velkanker te identifiseer nie – net maar jou oë en ’n spieël.

As jy velkanker het, is die vroeë opsporing daarvan uiters belangrik sodat jy so gou moontlik behandeling kan kry.

Kyk minstens een keer per maand na die moesies op jou lyf. Vra ’n familielid om dié op jou rug en bo-op jou kop te ondersoek. Besoek jou dokter/dermatoloog dadelik as jy enige van dié tekens sien:

A Asimmetrie ’n moesie of ’n merk wat nie simmetries dieselfde is nie. Die een helfte van die moesie lyk dus nie soos die ander helfte nie. Gewone en onskadelike moesies is rond en simmetries.

B – oneweredigheid (borders) geskulpte of swak gedefinieerde rande. Gewone en onskadelike moesies het gladde en gelyke rande.

C – Kleurvariasies (colour variation) ligbruin, bruin, swart, rooi en blou. Gewone en onskadelike moesies is gewoonlik een kleur – bruin of swart.

D – Deursnee (diameter) groter as 3-4 mm.

E – Verandering (evolving) in die vorm, kleur of rand van die moesie. Bron: Kansa

Sproete in jou oë

Sproetjies (oftewel donker vlekkies) in die iris, die gekleurde deel van die oog, word meer gereeld gevind by mense wat in hul leeftyd baie in die son was, is in ’n Oostenrykse studie bevind. By mense met beter sonbeskerminggewoontes, soos sonskerm of klere wat jou lyf toemaak, kom dit minder algemeen voor.

Dis nie kwaadaardig nie, maar kan dui op die teenwoordigheid van of risiko vir oogsiektes waarvoor sonlig die sneller is, soos katarakte of makulêre degenerasie, laasgenoemde die grootste oorsaak van gesigsverlies. As jy ligte oë het, is jy ook meer geneig daartoe.

“Hoewel ons nie weet presies watter rol sonlig by verskeie oogsiektes speel nie, het ons nou ’n aanduider (iris-sproete) as gevolg van baie sonlig-blootstelling,” volgens die navorsers. Bron: www.sciencedaily.com

Kontak Dr. Izolda Heydenrych: 021 552 7220; admin1@capederm.co.za Dr. Erich Bam: 051 444 5252; erich@dermatologist.co.za Kansa: www.cansa.org.za