Jammer Mevrou, jy het dit, of jy het dit nie . . .

(En terloops, Meneer, dit was toe al die tyd nie jy wat so onbeholpe is nie.)

Ons praat van die ontwykende en semi-mitiese G-kol. Verliefdes soek al dekades daarna, want as dit gestimuleer word, is gewone seks glo aardskuddend beter. Vreemde Kama Sutraposisiesis nie eens nodig nie.

Tot nou toe was daar egter min konkrete bewyse dat die G-kol bestaan. Maar nou het moderne tegnologie oorwin waar baie verliefdes gefaal het. Die G-kol is verlede jaar die eerste keer met behulp van ultrasonografie vasgevang, berig die New Scientist (www.newscientist.com).

Italiaanse navorsers het naamlik die gebied "geskandeer", daar waar die G-kol glo gevind kan word. Nege vroue wat vaginale orgasmes kry, is ondersoek, en elf wat slegs klitorale orgasmes kry. Daar is gevind die eerste groep het dikker weefsel tussen hul vagina en urinebuis (waar die G-kol na bewering is). Die navorsers se gevolgtrekking: Vroue wat nie enige sigbare tekens van 'n G-kol het nie, kan nie 'n vaginale orgasme hê nie.

 

Met gereelde oefening

kan 'n kleintjie dalk 'n

bielie word . . .

 

As jy egter wel dié dikker weefsel het, kan jy geleer word om sulke orgasmes te hê. Jy moet net gewys word hoe om dit te stimuleer. En met gereelde oefening kan 'n klein G-kolletjie dalk 'n bielie word.

Só meen die optimistiese Italianers. Testosteroon kan ook hiervoor ingespan word. Dis waarop nuwe navorsing nou fokus.

Maar 'n groot klagte teen die studie is dat so min vroue daarvoor ondersoek is: Ander navorsers het uitgewys die studie is veels te klein om die bevindinge op alle vroue van toepassing te kan maak. En het die Italianers nie dalk die interne struktuur van die klitoris met die G-kol verwar nie?

Dalk ontwikkel jy sulke weefsel juis omdat jy vaginale orgasmes het - die ou hoender-eier-debat. Of dis moontlik net die oorblyfsels van 'n embrioniese prostaatklier!

As jy nie 'n G-kol het nie, moenie alleen voel nie - jy's een van miljoene. Volgens die Italianers gaan jy sukkel om met alleenlik penetrasie 'n orgasme te kry. (Ander studies wys sowat 70% van vroue kry net 'n orgasme as hul klitoris direk gestimuleer word.)

Gelukkig is daar allerlei maniere waarop jy gestimuleer en dus seksueel bevredig kan word. "Eksperimenteer en geniet die sensuele ervaring van intimiteit in jul liefdespel," is Leandie Buys, 'n kliniese seksuoloog van Port Elizabeth, se raad.

 

Wat sê die kenners?

Die G-kol is belangriker as ooit, sê prof. Elna McIntosh, president van die Sub Saharan Africa Society of Sexuality Advisors, Educators, Researchers & Therapists in Johannesburg.

"Dit laat mense immers soek. En as jy begin soek, is jy verplig om die ligte aan te skakel en na jou anatomie te kyk. Bitter min vroue weet waar hul klitoris is, wat nog te sê die res."

Dis soos om nuwe speserye by 'n staatmaker-resep te voeg, en tot jou verbasing te vind dit smaak lekkerder as die oorspronklike resep, sê Leandie Buys, seksterapeut van Port Elizabeth. "Die G-kol is daardie magiese 'spesery' wat lekker seks in euforiese seks verander.


En nou - die G-inspuiting!

Nie almal steur hulle aan die Italianers se navorsing nie. Die vervaardigers van die sg. G-inspuiting sê ons G-kolle is bloot nie groot genoeg nie. Al wat jy nodig het, is 'n kollageen-inspuiting in jou vaginale wand om die weefsel plomper te maak.

Dis soortgelyk aan wat Hollywood-sterre vir tuitbekkies in hul lippe laat spuit en is die uitvindsel van dr. David Matlock, 'n ginekoloog in Los Angeles. Op sy webblad (www.thegshot.com) word dit as 'n "revolusionêre deurbraak" beskryf. Dit word in 'n dokter se spreekkamer gedoen, neem minder as 'n halfuur en is glo veilig,doeltreffend en pynloos. Dit werk vir sowat vier maande en jy kan dit so dikwels laat doen as wat jy wil.

Matlock het dit egter nog nie aan Suid-Afrikaners beskikbaar gestel nie, sê dr. Julian Bassin van die Laser Vaginal Rejuvenation Institute of South Africa in Johannesburg. Julian glo hy sal die eerste wees om te weet as dit gebeur, aangesien hy opleiding ontvang het by Matlock se instituut. Daar is so dan en wan vroue wat navraag doen en hy glo die belangstelling sal toeneem wanneer dit plaaslik beskikbaar is.

 

'n Kollageen-inspuiting in

jou vaginale wand kan die

weefsel plomper maak

 

Op Matlock se webblad swymel vroue oor hoe dit hul sekslewe verbeter het. Hulle vertel van multi-orgasmes en hoe hulle nou skoon opgewerk raak in die spinning- en jogaklas. Selfs 'n stamperige rit in 'n motor is vir hulle prikkelend!

Nie almal is egter opgewonde nie. Margaret Cho, 'n Amerikaanse komediant, het die inspuiting gehad - glo vir materiaal vir 'n vertoning. (Sy neem duidelik haar beroep baie ernstig op!)

En nooit weer nie, sê sy. Dit het kompleet gevoel asof haar serviks dik sokkies dra!Só skryf sy op haar blog (http://blogs.myspace.com/margaretcho): Eers moes die G-kol gevind word - en die dokter het lánk gesoek. Die naald waarmee die kollageen ingespuit word, was boonop só groot sy het gevrees dit steek agter by haar rug uit. Dit moet as straf vir seksuele oortreders oorweeg word, het sy besluit, want vier maande lank was sy nie in die bui vir seks nie. "Ek was a-seksueel en dit het heeltyd gevoel asof ek op 'n aambei-oliebol sit!" Eish!

G-kol-vibrators

Hierdie soort ding maak jou soektog na die G-kol so maklik soos koek eet. Wel, dís hoe dit op die webblad www.spicygear.com gestel word. Dié seksspeelgoedjies het glo kurwes op die regte plekke om jou te help om die ontwykende G-kol te vind. En die bemarkers kan getuig dit werk - dis immers deur die personeel self getoets. (Dís nou 'n werk met byvoordele!)

Elna McIntosh sê die We Vibe is tans baie gewild in Amerika en stimuleer jou klitoris sowel as die G-kol. Dis beskikbaar in SA teen sowat R1 600. *Besoek www.sextherapy.co.za en kyk onder "sex shop".

*Lees ook die artikel ``SARIE en die G-kol''.

Kontak Elna: 011 787 222, www.sextherapy.co.za

Leandie Buys: 041 373 5800, www.leandiebuys.co.za

Laser Vaginal Rejuvenation Institute: www.lvri.co.za