SO SKRYF LYDIA VAN DER MERWE, GESONDHEIDSREDAKTEUR, IN DIE NUUTSTE SARIE GESOND:

"Natan, my susterskind, moet vir matriek ’n opstel skryf oor “’n engel uit die klip”. Kan tieners nog identifiseer met engele, wonder ek hardop. Sou ’n alien of vampier nie meer gepas gewees het nie?

Romeinse soldate “doen” dit vir Natan. Die opstel rek langer en daar is nog g’n engel in sig nie.

Ons familie is nie groot op filosofiese dinge nie.

Nee, ons is doeners, dikwels teen die spoed van lig.

Soos nou weer toe Pa op ’n Maandagoggend opstaan en verklaar: Ons trek! Saterdag! Ook nie soos in vat-jou-goed-en-trek nie, nee. Binne ’n week is feitlik al sy en Ma se aardse besittings weggegee of verkoop. Hulle het die deure van hul huis in Gauteng vir oulaas toegetrek met net hul klere, enkele meubelstukke en ’n paar bokse wat saamgaan. En die drie honde, Likkewaan (alias Brolloks), Morsjors en Plassie. (Moenie vra nie!)

Na sus Elize toe in sonnige Amanzimtoti. Sy het lankal genooi: Kom bly by ons! Hier is ’n lekker woonstel en die tuin is groot. Sy was dan ook blitsvinnig daar om te help oppak. Deurentyd koel soos ’n komkommer. Al het Ma alles wat my sussie eenkant gesit het vir wegmaak, weer by die hopie gevoeg vir saamgaan. Elize het eenskottel-geregte gemaak en met die linkerhand honde gewas. Daar was tyd om hul hansworsery af te neem en vir ons ander sibbe te stuur: Blinklyf en met splinternuwe halsbandjies.

Hoe kry jy dit reg? vra ek met ademlose bewondering. Ag, ek het ’n lysie, sê sy met haar kenmerkende giggellaggie.

Sy was kleintyd die sieklike enetjie. Helder in my geheue is die dag toe die buurt se vroue vir haar kom bid het. Die huishulp was veronderstel om in die kombuis na haar te kyk.

Maar toe almal ná ’n langasem-gebed hul oë oopmaak, sit die kleuter daar met haar krulkop en ’n soet glimlag. Haar hare kort vandag nog steeds min verskoning om te krul. Sy loop nie, sy drafstap. Sy vat raak. Sy glimlag en sê: Ja, Mammie, as my ma op nog iets besluit wat móét saam.

Ons skop dikwels teen die lewe se ritme. Tog is daar in elke seisoen nuwe dinge om te ervaar en te geniet. Lente, somer, herfs, winter, die een kan net so opwindend soos die ander wees.

En met die groot besluit om huis op te gee agter die rug, het Pa erken hy sien nogal uit na die nuwe lewe in Amanzimtoti. Ma se stem oor die telefoon het ook sommer nuwe energie bygekry.

Uiteindelik was dit ons kinders wat trane afgevee en sentimenteel geraak het. Ons kyk met die oë van ’n jonger geslag, wat nog verbete akkertjies bymekaarmaak vir die winter wat kom. Vir Ma en Pa is sagte hande, liefde en koestering nou belangriker. Deur ’n dogter wat hul kinkels en kabels so goed ken soos haarself.

Soms verskyn ’n engel in die gedaante van iemand wat jy baie goed ken.

Geniet ons witwarm winter-uitgawe!

* Tot ons in Oktober gesels, wanneer dit weer lente is.

- Lydia van der Merwe


IN DIÉ UITGAWE:

ANEL ALEXANDER

Anel Alexander

Wat laagt dié aktrise gloei van gesondheid en geluk? Sy worstel nie meer met haar voorkoms nie en blom in haar loopbaan en huwelik.

Ek weet wat belangrik in my lewe is - en dit is waar my geluk skuil' - Anel

STEVE HOFMEYR - Perdfris ná groot skrik

Steve Hofmeyr

In Mei was dit drie jaar gelede dat Steve Hofmeyr by die dood omgedraai het. Wat gebeur met jou as jy so na aan jou einde was?

SJOKOLADE, JA, JY MAG MAAR!

Meellose sjokoladekoek

Dink jy ook soms dat nét sjokolade jou beter kan laat voel? Hier is goeie nuus. Jy kan dit maar eet - sonder om skuldig te voel.

+ 4 WOW-resepte!

21 bl'e WINTERTROOS

* Bly slank: slim kos vir koue dae

* Bly fiks: oefen by die huis

* Bly lag: Hou die blues weg

EN NOG:

Help, my hare val uit!

Wonder-terapie: Slegte vel se dae getel

Bekendes deel hul winterplanne

2 vroue vertel hoe hulle 'n brein-slagaarbreuk beroerte oorleef het