Jy is só moeg jou oë wil toeval. Maar jy bly besig, soos elke ander aand. Dán is jy in die kombuis, dán trek jy reg in die sitkamer, dán gou ’n werkstuk afhandel. Want dalk, as jy gelukkig is, gee jou man moed op en gaan slaap ... En jy hoef nie ’n verskoning uit te dink waarom jy vanaand ook nie in die bui vir seks is nie.

Voel jy al skuldig? Jy is nie alleen nie. Volgens Suid-Afrikaanse seksuoloë het ses uit tien vroue wat by hulle aanklop, geen behoefte aan seks nie. Soos Brenda (36), wat getroud is met ’n “liefdevolle beer” wat haar met geskenkies oorlaai. Hulle bring die meeste van hul vrye tyd saam deur. Maar hulle het ses jaar laas seks gehad! Brenda sê sy is net nie lus nie. En dis nie haar man se skuld nie: Sy stel eenvoudig nie belang nie. Sy is baie lief vir haar man, dis nie dit nie. Dis net dat die begeerte ontbreek. Haar man werk (gelukkig) ongelooflik hard en seks is ook nie juis vir hom ’n voorkeur nie. Ander vroue verkies om liefs oor hul gebrek aan ’n libido te swyg. Hulle volg die maklike uitweg - maak hul oë toe en hoop dis gou verby. Amper soos wat koningin Victoria van Engeland vroue aangeraai het: “Close your eyes and think of England.”

Dis wêreldwyd só: Vroue se seksdrang is aan die verdwyn. Dalk omdat hulle die eise van ’n loopbaan, kinders en eggenoot moet hanteer. En farmaseutiese maatskappye werk kliphard op soek na die nuwe “heilige graal”- ’n pil (of plakker of sproei) om tot die redding te kom van moeë vroue, nes Viagra baie mans se sekslewe verbeter.

Die Pil en jou libido

Baie vroue vermoed dit al jare en ‘n nuwe studie bevestig dit. Die Pil kan jou seksdrang verminder omdat dit die beskikbaarheid van testosteroon verlaag. Maar dr. Caren Hadders, seksuoloog by die kliniek 4Women Only in Johannesburg sê swangerskap, veral onbepland, het ‘n groter uitwerking op jou libido. Jy moet hierdie twee faktore teen mekaar opweeg.
‘n Ander alternatief is die Mirena vir vroue wie se gesinne voltooi is, of nie dadelik ‘n baba beplan nie. Dis ‘n intrauteriene apparaat (IUA), wat klein hoeveelhede progesteroon vrystel. Dit het minder newe-effekte as die IUA (loop), wat koper bevat, en is baie betroubaar. Die hoeveelheid hormone wat afgeskei word, is nie genoeg om ovulasie te onderdruk nie. Die Mirena het nie ’n uitwerking op jou libido nie. Jou siklus is normaal en jou seksdrang hoër rondom ovulasie en menstruasie. Jy is dan meer geneig om seks te inisieer. (Anders as die Pil wat jou normale siklus onderdruk: Jy ovuleer nie en jou hormoonvlakke wissel ook nie. Caren sê baie vroue wat op die Pil is, voel soms a-seksueel.)

Viagra doen dit helaas nie vir vroue nie. Toetse het getoon daar is wel ’n groter bloedvloei na die geslagsdele, maar op die vraag of hulle seksueel meer geprikkel gevoel het, was proefpersone se antwoord nee.

Navorsers het besef die seksuele respons vir ’n vrou lê in méér as net wat in haar vagina en klitoris gebeur. Die navorsing met vroue en Viagra is dus gestaak. Nou het die fokus geskuif - na wat in ’n vrou se kop aangaan. Daar is groot afwagting op ’n pil wat die plesier- en emosionele sones in ’n vrou se brein stimuleer. Dit word nog getoets en die uitslag sal na verwagting aanstaande jaar bekend gemaak word. (Interessant: Dié pil is aanvanklik teen depressie ontwikkel. Toe kom proefpersone agter hulle is steeds depressief, maar hul seksdrang het toegeneem!) Baie kenners is egter skepties. Hulle meen die pad na vroulike begeerte loop nie deur ’n botteltjie pille nie. Daarvoor is vroulike seksualiteit te kompleks. Vroue se seksualiteit is baie meer in die brein gesetel as mans s’n. Vir húlle is dit makliker - selfs net ’n kykie na ’n sexy vrou kan hulle prikkel.

Vir ons vroue werk dit nie so nie. Vroulike seksualiteit is steeds ietwat van ’n raaisel, berig die Britse The Observer (5 Januarie 2003). Dis ’n komplekse wisselwerking tussen sielkundige, fisieke en hormonale faktore. Dus: Jou verhouding, liggaam én kop moet gesond wees.

 

Vroue se seksualiteit is 'n wisselwerking tussen sielkundige, fisieke en hormonale faktore - The Observer

Testosteroon, die sogenaamde libido-hormoon, word byvoorbeeld dekades lank al gebruik om vroue se seksuele probleme te behandel. Maar kenners sê nou dis net een stukkie van die legkaart. Studies toon dat baie vroue met lae testosteroonvlakke nie noodwendig probleme met hul libido ondervind nie.
Dr. Elna McIntosh, seksuoloog van Johannesburg, vertel van ’n man wat testosteroon onwettig gekry het en dit in groot dosisse vir sy vrou ingespuit het. “Haar haarlyn het gekrimp, sy het baard gehad en haar klitoris het soos ’n penis gelyk. Te veel testosteroon kan ’n vrou manlike eienskappe gee. Maar sy het nog steeds nie ’n seksdrang gehad nie.“

Testosteroon-aanvullings is wel soms die antwoord, veral as jy in jou peri-menopouse is, of as jou eierstokke verwyder is. (Dis ’n groot bron van testosteroon.) Daar is egter nie testosteroon-produkte spesifiek vir vroue beskikbaar nie. Dit word vir mans ontwikkel en bevat dan meer testosteroon as wat goed is vir die deursnee-vrou. Volgens dr. Caren Hadders laat hulle ’n spesiale testosteroon-room meng vir vroue. Maar ook sy waarsku: “Testosteroon gekombineer met ’n swak verhouding, swak selfbeeld, seksuele molestering as kind, of depressie, gaan nie jou seksprobleem oplos nie. As julle probleme in die slaapkamer het, is die gehalte van jul verhouding die eerste ding om na te kyk. Want ’n vrou se seksdrang is afhanklik van hoe gesond haar verhouding is. En seksuele probleme is dikwels die eerste simptoom dat dinge nie reg is nie. ’n Pil vir seksualiteit sal dan ook net die simptoom behandel en nie die onderliggende probleem nie.” Elna brei hierop uit: “As kinders met mekaar baklei, sê hulle: ‘Moenie aan my vat nie!’ En as jy nie wil hê jou man moet aan jou vat nie? Hoekom is jou vel en vagina kwaad vir hom? As jy die saak begin ondersoek, is daar feitlik altyd iets anders verkeerd. Dalk beheer hy jou met geld. Of hy is naar met die kinders ... Dalk vermoed jy dat hy ’n affair het.“

Ook Caren sê vroue is geweldig sensitief vir wat in verhoudings aangaan. Jy gaan nie vanaand in die bui wees as jy voel jou man behandel jou die res van die dag sleg nie. “Mans en vroue verskil: Hy sal ná ’n argument met seks wil wys hy is nog lief vir jou. Terwyl jý reken: Ons het nou net baklei, wat is fout met jou?” Elmari Craig, seksuoloog en huweliksberader van Pretoria, stem saam. “Emosionele intimiteit vorm die grondslag van ’n vervulde seksuele en sensuele verhouding. Die gehalte van wat in die bed gebeur, hang nou saam met die gehalte van jul verhouding buite die slaapkamer. Julle moet genoeg gehaltetyd saam deurbring, op dieselfde golflengte wees en op mekaar ingestel wees,” sê sy. Drukkies en soentjies buite die slaapkamer vorm deel van dié scenario.

Vroue het ’n behoefte aan intimiteit wat nie noodwendig seksueel is nie - die warmte, omgee en deel van dinge. Caren sê julle moet elke dag tyd vir intimiteit maak. Ontspan saam en praat oor die dag se gebeure. Jy kan sy voete vryf, hy dalk jou rug. Bad saam, raak liefdevol aan mekaar. Nie met die bedoeling dat dit na seks moet lei nie. Maar as dit gebeur, is dit goed so. “Julle sal albei verras wees hoeveel seks julle dan gaan hê. Dis die skakelaar van ’n vrou se seksualiteit: Ek vat aan jou omdat ek lief is vir jou - nie noodwendig omdat ek seks wil hê nie. Die meeste vroue besef seks is hoog op mans se prioriteitslys. Dit maak dit net vir jou makliker om ontvanklik daarvoor te wees.“

Sy verduidelik mans se seksuele respons is soos ’n hongerte: Ek is lus vir seks. Vroue raak ook sekshonger - gewoonlik in die eerste 18 maande van ’n verhouding, as sy ’n baba wil hê of ovuleer. Maar vroue se seksuele respons word eerder gedryf deur dinge soos ’n behoefte aan intimiteit. Of: “Ek kan sien jy wil liefde maak en ek is ontvanklik.“ Jou behoefte om versorgend en liefderyk te wees is dus die dryfkrag. Die “honger“ of “lus“ kom later in die proses. Moet dus nie dadelik nee sê nie: “Los my, ek wil nie nou nie.” Jy sal verbaas wees hoe vinnig jy dalk wel gereed sal wees. Leer om in die oomblik te wees en te geniet wat gebeur. Vroue word maklik toeskouers. “Ek het geweet hy gaan nou dáár vat.“ Of: “Ek gaan al weer nie ’n orgasme kry nie.“ En dan gáán jy ook nie. Want jou brein is besig daarmee - en nie betrokke by wat seksueel met jou gebeur nie.

Die seksuoloë stem saam sosiaalkulturele taboes veroorsaak onnodige inhibisies by vroue. Jong meisies word sosiale gedragsreëls ingeprent: “Moenie dáár vat nie“, “dis vuil en verkeerd“, “sit met jou bene bymekaar“. Terwyl dit “oulik“ is as seuntjies in die tuin staan en piepie. Volgens Caren maak dit dat vroue dikwels hulself van hul seksualiteit dissosieer. “Vroue wat die kliniek besoek, moet dikwels eers leer om hul seksualiteit met die res van hul menswees te integreer. Om veranderings (prikkeling) in hul seksuele organe te herken en dit te verbind met wat in hul brein aangaan. Ek wys haar gewoonlik haar geslagsdele. Baie vroue weet nie eens waar die klitoris is nie. Vir baie vroue is dit die eerste keer in jare (of ooit) dat hulle hul geslagsdele sien. Ons word geleer om nie daar te kyk nie.”

Moet ook nie kwaliteit-seks met kwantiteit verwar nie. Volgens Caren is kwaliteit-seks as jul albei se behoeftes bevredig word. Maar dan moet jy weet wat jou behoeftes is. Soos: “Ek hou van romanse“ of “dis gehalte-tyd saam, die hele aanloop tot seks”. Baie vroue het egter nog nooit gedink wat hul behoeftes is nie. Dit versterk die kultuur dat seks vir mans is, sê sy. “Seks is ’n spanpoging en julle moet daaroor praat. Seksualiteit is hoe julle kommunikeer, bind, kreatief kan wees, ’n energie-inspuiting kry. Dis ’n manier om te groei: Jyself en jul verhouding.“

Vanaand is die aand . . .

  • Leer jou liggaam ken. Masturbeer, ontdek waarvan jy hou en vertel jou maat.
  • Werk aan jou seksuele selfbeeld. Versorg jouself goed.
  • Fokus op jou goeie eienskappe en beklemtoon dit. Vergeet van jou selluliet of rekmerke. Mans kyk met ander, sagter oë na vroue. Hy sien dikwels nie die dinge raak wat jou pla nie.
  • Práát oor seks. Verkieslik nie in die slaapkamer nie, maar in ’n neutrale omgewing. Bespreek jul behoeftes, voorkeure en afkere. Wees eerlik oor jul verwagtinge. Lees saam seksueel opvoedkundige boeke en leer om gemaklik daaroor te kan praat.
  • Bepaal jou prioriteite. Jy is moeg en gestres en jy voel jou man wil meer seks hê as wat jy kan gee. Beplan jou sekslewe. Ruim tyd in vir spesiale, sensuele samesyn - veral as julle kinders het.
  • Fantaseer. Dis normaal en ’n wonderlike seksuele opkikker. Die brein is jou belangrikste seksorgaan: Gebruik dit. As seks meganies en geroetineerd raak, kan fantasie dit weer laat opvlam. Fantaseer oor iets waarmee jy gemaklik voel. Jy kan só in ’n veilige omgewing met nuwe erotiese idees eksperimenteer. Fantaseer byvoorbeeld oor seks op ’n ongewone plek, of dink terug aan ‘n  spesiale seksuele ervaring.
  • Wees romanties en kreatief.
    Blomme, kerse, wyn, musiek, verrassings en bederfsessies (soos om mekaar te masseer) verrig wondere. Sorg vir afwisseling en wees sensueel én seksueel kreatief.
  • Gaan kompromieë aan. As jou maat se seksdrang baie hoër of laer is as joune, kan sensuele  liefdespel ’n alternatief vir seks wees. Spontaneïteit, wedersydse buigsaamheid, eerlike kommunikasie en ontvanklikheid vir moontlike alternatiewe sal bydra tot ’n gelukkige, vervullende sekslewe.
  • Wees realisties. Moenie jou sekslewe vergelyk met wat jy in boeke lees of op TV sien en dan wroeg omdat joune saai en sonder oemf lyk nie. ’n Seksuele verhouding moet vertroetel word. En die groei en ontwikkeling daarvan is ’n lewenslange proses.
  • Soek moontlike oorsake vir probleme. Maak seker daar is nie ‘n liggaamlike rede soos diabetes, ‘n ystertekort of hormonale wanbalans nie. Pyn (algemeen of tydens gemeenskap), vaginale infeksies, moegheid, oormatige alkoholgebruik, medikasie soos antidepressante en kalmeermiddels, onopgeloste konflik, stres en ’n gebrek aan emosionele intimiteit kan ‘n negatiewe invloed op jou seksdrang hê. (Wellbutrin is ‘n anti-depressant wat nie die libido onderdruk nie, maar help dalk nie vir jóú depressie nie.) En soek hulp as seksuele probleme jul verhouding beïnvloed of as julle nie meer openlik, kalm en eerlik oor jul probleme kan gesels nie.
    Bron: Elmari Craig, seksuoloog en huweliksberader

KONTAK: Caren Hadders: 0860 496 636 of www.4womenonly.co.za; Elna McIntosh: 011 787 1222; Elmari Craig: 012 807 2755 of www.elmaricraig.co.za