WAT IS ’N PORSIE? Gebruik dit om jou eie spyskaart in die porsie-eetplan saam te stel.

’n Porsie vleis en ’n porsie vet is nie ewe groot of ewe veel nie. Dit is dus baie belangrik om te weet presies wat ’n porsie is.

Om dit so maklik as moontlik te maak gebruik ons hier ons vuisgrootte, handpalmgrootte, ’n vuurhoutjiedosie, teelepel en koppie as die belangrikste rigtingwysers.

Onder is ’n lys van die porsiegroottes van verskillende voedselgroepe. Jy kan letterlik enige van die porsies uit die proteïenlys kies vir jou porsie proteïen in jou maaltydplan. Jy kan dus
meng en pas nes jy wil, solank jy by jou porsies en porsiegroottes hou.

Neem net hierdie feite in ag, en siedaar, jy is op die wenpad na ’n gesonder lyf.

* Drink verkieslik water of mineraalwater as jy dors is, of kunsmatig versoete drankies.

* Drink kafeïenvrye koffie en tee, en rooibos en kruietee na smaak. Beperk koffie tot vier koppies per dag met jou laaste koppie voor 4 nm.

* Moenie meer as drie eiers per week eet nie, sonder die geel indien moontlik.

* Moenie meer as drie keer per week rooivleis eet nie.

* Beperk jou alkohol tot twee glasies per week. Elke glas wyn tel as ‘n styselporsie.

* Moenie 45 minute voor en ná oefening eet nie, maar wel tussen 45 en 60 minute ná oefening.

* Voeg vars kruie soos basiliekruid, roosmaryn, tiemie en pietersielie by om jou kos te geur.

PORSIEGROOTTES VOLGENS VOEDSELGROEPE:

Koolhidraat/stysel: 1 porsie = handpalmgrootte

= 1 sny bruin- of volgraanbrood
= ‘n halwe bruin- of volgraanbroodrolletjie
= ½ pitabrood
= ½ k hawermout- of mieliepap
= ½ k pasta, noedels, polenta, koeskoes
= 3 semelbeskuitjies
= 2 rogbeskuitjies
= 1 k hawermoutpap
= 1 k koring
= 1 Weetbix
= 1 k veselryke ontbytgraan
= 1 klein aartappel
= 1 klein patat
= 1 k pampoen
= 1 k botterskorsie
= 1 k bruin rys
= 1 k uie
= ½ k groenmielies
= 1 k ertjies
= 1 k dik sop
= 1 k beet
= 1 k wortels
= ½ volgraanmuffi n
= 1 klein volgraanbeskuit
= ½ k gebakte of droë bone of lensies

Proteïene (niks mag in olie gebraai word of olie, botter of deeg bykry nie): 1 porsie = vuurhoutjiedosie-grootte

= maer rooi vleis of hoender sonder vel, vis, maer wildsbiltong, laevetkaas soos mozzarella
= 2 vuurhoutjiedosies maaskaas
= 1 gekookte eier
= 2 teelepels (t) grondboontjiebotter
= ½ k gebakte bone of lensies

Vette: 1 porsie = teelepelgrootte

= 1 t botter
= 2 t ligte margarien
= 1 e ligte mayonnaise of ligte slaaisous
= 1 e sous
= 1 t sonneblom-, canola- of olyfolie
= ¼ avokado
= 6 olywe
= 1 reep spek
= 4 amandels
= 2 okkerneute
= 2 t grondboontjiebotter

Suiwel: 1 porsie = ½ koppie

= 1 k afgeroomde melk
= ½ k 2%-melk
= ½ k Vitalinea-jogurt
= ½ k karringmelk

Vrugte: 1 porsie = kindervuis

= 1 klein vars vrug van enige soort
= ½ koppie onversoete vrugtesap
= ½ koppie geblikte vrugtesap

Groente (mag nie in olie gebraai of in pastei gebruik word nie): 1 porsie = kindervuis

= ½ koppie “beperkte groente”, naamlik vars of gevriesde beet, pampoen, wortels, ertjies en botterskorsie
= soveel “vry groente” soos jy wil, nl. blaarslaai, tamatie, komkommer, groen soetrissie, sampioene, aspersies, blomkool, kool, broccoli, Brusselse spruite, eiervrug en groenbone