Sue Palmer het in die nag wakker geskrik en opgegooi. En probeer om weer aan die slaap te raak, wat die meeste van ons sou gedoen het. Sy het egter een van die simptome van ’n hartaanval gehad wat dikwels geïgnoreer word. Haar man het daarop aangedring dat sy na die hospitaal se ongevalle-eenheid toe gaan – en dit het haar lewe gered.

Ons weet van Chester Williams en James Small, in die fleur van hul lewe deur ’n hartaanval weggeruk. Minder bekend is dat hartsiekte wêreldwyd ook ’n groot oorsaak van sterftes onder vroue is. En meer: Sowat twee derdes van vroue wat skielik aan ’n hartaanval sterf, het nie voorheen simptome gehad nie. “Veral jong vroue,” volgens dr. Adriaan Snyders, kardioloog van Pretoria. Sy het nog met die verpleegpersoneel by ongevalle geskerts, skryf Sue in die Amerikaanse koerant The Washington Post (washingtonpost.com). Selfs haar oë gerol oor die moontlikheid dat daar iets met haar hart skort, sy was immers net 46.

’n Elektrokardiogram (EKG) het eers niks fout gevind nie. ’n Tweede een het egter gewys daar is perde en sy is teater toe gehaas. Haar regterslagaar was heeltemal verstop en die middelste een 70%. Sy was besig om ’n hartaanval te kry, maar die dokters kon betyds ingryp. “As ek weer geslaap het, het ek dalk nooit wakker geword nie. Of die skade aan my hart sou katastrofies gewees het,” skryf sy.

My ma was minder gelukkig, ná haar hartaanval was haar ou tikker ’n bietjie voos. Ma Nakkie was in haar laat vyftigs toe sy een oggend wakker word en doodsiek voel. Dit is voorafgegaan deur ’n maande lange verlammende moegheid. Toe sy ook van pyn in haar bors kla, het my pa haar in die motor geboender. Sy was ’n week lank in die hospitaal, ’n abses is op haar long gediagnoseer en sy is ontslaan. Daardie nag het sy tot ligdag regop gesit weens die pyn in haar bors. Sy het met moeite asemgehaal. Sy is weer hospitaal toe, waar kanker op haar long gediagnoseer is. Ons het in ons koppe klaar vir Mammie begrawe. Ná ’n biopsie is egter bevind niks skeel met haar long nie. Sy het inderdaad ’n ernstige hartaanval gehad en moes ’n driedubbele hartvatomleiding ondergaan. Sy het dit – en nog twee hartvatomleidings later – oorleef. En uiteindelik op ’n rype ouderdom in haar slaap heengegaan.

Vandag sou dit waarskynlik vinniger gediagnoseer gewees het. Hartsiekte by vroue is nie meer so ’n vreemde begrip soos ’n dekade of wat gelede nie. Dis algemeen bekend dat die siekte nie tussen mans en vroue diskrimineer nie en medici is meer bedag daarop. Die hormoon estrogeen speel wel voor die menopouse ’n beskermende rol by vroue. Estrogeenvlakke begin egter geleidelik daal soos die jare aanstap – en jou risiko vir hartsiektes kan ná die menopouse tot drie keer toeneem. Maar die persepsie is verkeerd dat estrogeen jonger vroue, dit wil sê voor die menopouse, immuun teen koronêre hartvatsiekte maak. Boonop wil dit voorkom asof dit onder jonger vroue aan’t toeneem is.

Die data van Amerikaners tussen 35-74 wat weens ’n hartaanval in ’n hospitaal opgeneem is, is geanaliseer en in die Amerikaanse joernaal Circulation gepubliseer. Nie net is meer jonger mense, 35-54 jaar, weens hartaanvalle gehospitaliseer nie. Daar was veral onder vroue ’n toename in hartaanvalle. Plaaslike syfers is nie beskikbaar nie. Toe Amerikaanse vroue in nog ’n studie gevra is watter siekte hulle die meeste vrees, was borskanker nommer een op hul lys. Plaaslik sal vroue waarskynlik dieselfde sê. Maar hoor hier: Sowat 30 300 SuidAfrikaanse vroue is in 2016 weens ’n kardiovaskulêre siekte (’n hartaanval of beroerte) dood. “Dis meer as die sterftesyfer van al die kankersoorte saam – insluitend borskanker,” sê prof. Pamela Naidoo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Hart-en-beroertestigting.

REDES VIR DIE TOENAME

Daar is ’n paar redes vir die toename van die siekte onder jonger vroue, volgens die Circulation-studie se navorsers. Twee groot risikofaktore vir hartsiekte – hoë bloeddruk en diabetes – is baie meer algemeen onder jonger pasiënte wat ’n hartaanval kry. Sowat 71% van jong vroue in die studie het ’n geskiedenis van hoë bloeddruk en 39% van diabetes gehad. Vir die jong mans was die syfer onderskeidelik 64% en 26%. Hoë bloeddruk en diabetes word boonop albei gekoppel aan vetsug, nog ’n moontlikheid waarom hartaanvalle onder jonger mense toeneem.

Nou ja, 68% van volwasse vroue plaaslik is oorgewig/vetsugtig. Dit beteken 2 uit elke 3 vroue, sê prof. Naidoo. Kindertyd se vetsug neem ook toe – met 13,3% van ons kinders jonger as 5 wat oorgewig/vetsugtig is. En 1 uit 3 Suid-Afrikaners het boonop hoë bloeddruk. Stres, wat direk en indirek jou bloeddruk kan laat styg, kan ook ’n rol speel. Boonop oefen ons nie juis om stres te ontlaai nie. “Weens ons ongesonde leefstyl, wat ’n gebrek aan oefening, slegte eetgewoontes, rook en stres insluit, het die voorkoms van kardiovaskulêre siektes drasties toegeneem,” sê prof. Naidoo.

PASOP!

Medici besef gelukkig deesdae vroue is nie net kleiner weergawes van mans nie: Daar is subtiele verskille in hoe vroue se kardiovaskulêre stelsel reageer op stres, hormone, ’n oormaat versadigde vette en gifstowwe soos tabak, volgens die nuustydskrif Time. Die aard van ’n hartaanval verander natuurlik nie. “Dit word veroorsaak deur ’n gebrek aan bloed wat na die hart toe vloei, weens die obstruksie van die kroonslagaar,” sê dr. Suzette Fourie, ’n kardioloog van Kaapstad. Of die hart nou binne ’n man of vrou se borskas pomp.

“Vroue moet egter besef die waarskuwingstekens by mans en vroue kan verskil,” volgens haar. Die tipiese simptome van ’n hartaanval is ’n “drukking”, ongemak of pyn in die bors en doodsheid in die linkerarm. ’n Oorgewig, middeljarige man met ’n rooi gesig wat na sy bors gryp, na asem hyg en grond toe syg, is die prentjie in ons koppe van iemand wat ’n hartaanval kry. Anders as mans, wat skielik ’n akute borskaspyn kan kry, ervaar vroue dikwels ’n geruime tyd vóór die hartaanval pyn in die bors.

Maar dalk ook glad nie. Sowat 43% van vroue het geen borskaspyn tydens enige fase van ’n hartaanval gehad nie, is in ’n studie deur die Amerikaanse nasionale instituut vir gesondheid (nih.gov) bevind. En dr. Fourie sê sy sien dit gereeld. “Vroue lê op die hospitaalbed en sê: ‘Ek het tog nog nooit borskaspyn gehad nie, ek was net só vreeslik moeg. Maar almal het gesê ek is oorgewig/onfiks/ek werk te hard.’”

Die simptome kan meer subtiel as borskaspyne wees en ’n wye verskeidenheid “sensasies” insluit, soos maagpyn, rugpyn, ’n “fladderende” hartklop, kortasem, moegheid, naarheid, duiseligheid, sooibrand en geswelde voete. Dit kan maklik afgemaak word as iets onskadeliks soos ’n maagvirus, slegte spysvertering of honger. Let dan op die bykomende simptome: Jy voel baie swak, is duiselig, het hartkloppings, kouesweet, is kortasem, naar, vomeer en dit voel of iets vreesliks gaan gebeur. Dié simptome kan ook ander oorsake hê en selfs vir medici is dit soms ’n uitdaging om die regte diagnose te maak, volgens dr. Snyders.

Uit Amerikaanse navorsing wil dit voorkom of vroue (veral jonger vroue) óf nie die simptome herken nie óf dit ignoreer, deels omdat hulle bang is dis ’n “vals alarm”. “Vroue is geneig om hul simptome te rasionaliseer. Hulle versorg almal om hulle. En as hulle tyd en energie oorhet, gee hulle aandag aan hulself,” sê dr. Fourie.

PYN SAAM MET DIE MÔRESTOND

Verskillende faktore kan boonop hartaanvalle by mans en vroue veroorsaak, volgens ’n studie in The American Journal of Cardiology. Swaar fisieke aktiwiteit was meer dikwels ’n faktor by mans. By vroue was emosionele stres (soos die dood van ’n familielid/vriend of ’n groot rusie) gevaarliker. Die meeste mense kry ’n hartaanval tussen vieruur en agtuur soggens. Die stollingsmeganisme, en dus vloeibaarheid van bloed, is dan swakker as enige ander tyd.

MISLEIDENDE TOETS

Die stres-EKG (op ’n trapmeul of fiets) gee meer dikwels by vroue ’n misleidende (vals positiewe) uitslag. Oor die redes word nog bespiegel. Daar is tekens wat die kardioloog kan laat vermoed dat die uitslag dalk vals is. As jou risikofaktore vir ’n hartaanval laag is, kan verdere nie-indringende toetse gedoen word. Is die risikofaktore hoog, word ’n angiogram aanbeveel. (’n Dun, buigbare pypie word in jou arm of been gesit en na jou hart beweeg. ’n Kleurstof, wat die koronêre bloedvate sigbaar maak, word dan ingespuit.)

ROOK + DIE PIL = MOEILIKHEID

Rook is een van die grootste risikofaktore (by mans en vroue) vir koronêre hartvatsiektes. Dis klaarblyklik selfs ’n teenvoeter vir faktore wat vroue vóór die menopouse beskerm. In ’n Britse studie is bevind jong vroue wat tussen 1 en 5 sigarette per dag rook, se risiko vir ’n hartaanval verdubbel. ’n Vrou wat nie rook nie, maar drie ander risikofaktore vir kardiovaskulêre siekte het, se kans is kleiner om ’n hartaanval te kry. Teenoor haar suster wat lig tot matig rook met net een ander risikofaktor, volgens die studie.

As jy ophou rook, verminder jou risiko weer. Dit vergroot ook drasties as jy tegelykertyd rook en mondelikse voorbehoedmiddels of hormoonvervangingsterapie gebruik, aangesien dit die stolbaarheid van bloed verhoog. Dis dalk ’n belangrike rede vir kardiovaskulêre hartsiekte by jonger vroue (in hul dertigs en veertigs).

BESKERM JOUSELF TEEN HARTSIEKTE

Jy kán iets doen om jou risiko te verklein. Leef gesond: Moenie rook nie, verloor gewig indien nodig en doen aërobiese oefeninge. Weet wat jou bloeddruk en cholesterolvlakke is, veral as jy ’n familiegeskiedenis van hartaanvalle het.