EK’s ook mens. Moet maar altyd dink en kyk en oppas wat ek eet. En ek hou meer van kleiner klere. Jy stem saam?

Nou wat en hoe gemaak as jy net nie kan ophou knaag nie? Soos verlede week.

Dit was nogal koud. Vrouens – moet tog nie vergeet hoe die hormonale eb en vloei van elke maand sy effek op eetlus uitoefen nie. Veral die styging in die hormoon progesteroon voor maandstonde (dit gebeur al is jy op ‘n apparaat) is ‘n pes wat jou doodlus maak vir knaag – veral SOETIGHEID.

Hierdie outjie is ook ten dele te blameer vir ringe wat stywer sit, voete wat meer pofferig is, en die verskynsel dat jy skielik, en sonder waarskuwing, in ‘n kwaai straatkat kan verander!

Die manne hoef nie met hierdie skommelinge saam te leef nie. Ja – hulle het ander kwessies as dit by knaag kom. Manne deel miskien nie so maklik met mekaar dat hulle miskien nou moeg is vir die boep en daarom NIE nog ‘n bier en hand vol grondboontjies wil wegslaan nie.

Hoe gemaak met die knaagdier wat losgelaat word? Ja, en soms is hy permanent los!

[box:full:grey:both]

Daar is ‘n paar voor die hand liggende redes vir ‘n gedurige geknaag

[/box]

1.    Jy het nie genoeg kos geëet nie – en is gewoon net honger.

2.    Jy het nie die regte kos geëet nie. Verfynde kits-ontbytpap, brood, verwerkte koringprodukte (kraakbeskuitjies), wegneem-etes en klaargaar kosse is nutriënt-armer as vars voorbereide kosse. As jy te veel van eersgenoemde inkry, beteken dit jou liggaam smag na voedingstowwe.

3.    Jou breinchemie is bietjie laag. Lees gerus my blog daaroor – oor die belang van ‘n kuiertjie saam met ‘n vriendin...en ‘n stukkie koek.

4.    Jy is premenstrueel.

5.    Jou insulienvlakke is hoog (dikwels die geval as mens insulienweerstandig is).

6.    Jou stresvlakke is te hoog.

[box:full:grey:both]

En vir elke punt – ietsie wat kan help

[/box]

1.    Maak seker jy eet genoeg kos. Jy wonder?  Ja – dis tipies van mense wat gewig wil verloor of beheer om só versigtig te eet dat hulle nie besef hulle eet eintlik te min nie.

2.    Sorg dat jy kos eet wat jou gaan vol laat voel – volume! Groentesop voor ete. Onverfynde kos! En LET WEL: alles wat lae GI is, is nie onverfynd nie.

3.    Slaap jy genoeg? Kry jy gereeld ‘n ‘goedvoelhormoon’-boost? Dít gebeur wanneer jy lekker dinge doen, bedoelende dinge wat nie eet is nie. Oefen jy gereeld – al is dit net stap? Al die faktore is belangrik om hormone en breinhormone stabiel te help hou.

4.    Eet ‘n groot stuk koek – en kry klaar. Hou op knibbel en knibbel. Kry dit oor! Wanneer vroue premenstrueel is, veroorsaak die progesteroonvlakke weliswaar dat hulle hongerder is – maar hulle metabolisme is ook vinniger. Tensy daar gebreke is, soos te min magnesium of B-vitamiene, wat PMS simptome kan vererger, is die soetigheid die regte remedie. Dit moet juis nie lae vet en lae GI wees nie! Miskien kry jy dit reg – en voel steeds bevredig – om die stuk koek te deel

5.    Eet biltong, droëwors, kaas, neute – net nie koolhidrate nie! Soos die insulienvlakke afkom, sal die knaagdier ook gaan lê.

Haal asem. Diep. Uit jou maag. Doen dit vir 5 minute terwyl jy op die mat lê (kan jy 5 minute net op die mat lê?). Oefen. Praat oor dit wat jou pla. Stel grense.

Sorg dat jy jou ‘knaag’ se baas is! Jy kan dan elke keer as dit gebeur die goeie werk wat jy reeds gedoen het om beter te eet net vir ‘n dag opsyskuif. Dis OK. Pleks daarvan om aan te hou en aan te hou knaag! Dis nie nodig om jouself so te straf nie. Dis heel normaal om soms die behoefte te hê om te kou en te knaag.

Mariza van Zyl RD

Geregistreerde Dieetkundige

Facebook/bettereat

www.bettereat.net