Wanneer dinge in die liggaam skeef loop – is die vel soos ‘n spiëel – en weerspiëel wat binne-in die liggaam aan die gang is. Daar word nie verniet gepraat van 'n ‘gesonde’ blos nie.

Die Chinese Medisyne kyk na die vel as deel van hulle ondersoek om siekte diagnose te maak. Lank voor daar egter siekte is – is daar dikwels al ‘ onwelstand’ – en jou vel sal dit wys.

Veel meer as net 'n ‘bedekking vir die liggaam – is ons vel 'n lewendige, ingewikkelde orgaan. En soos alle organe in die liggaam bestaan dit uit verskillende selle, wat op verskillende maniere met mekaar kommunikeer en verskillende funksies verrig. ALLE selfunksies is voedingafhanklik.

'n Paar voorbeelde: bloedsuikerskommelinge  - mense wat insulienweerstandig is, diabetes het, en dikwels mense wat sukkel met gewig, sal meer plooie veroorsaak. (Lees gerus meer hieroor op www.betereet.co.za)

Trae skildklier? Jou vel sal droër wees.

Aknee? Hoekom is jou hormone deurmekaar? Eet jy te min vet? Te min VET beteken ook jy kry heel waarskynlik te min essensiële vetsure in. Te MIN VET beteken jy doen jouself in t.o.v. vetoplosbare vitamiene A en E en selfs K.

Smeer jy altyd sonskerm aan? Ja –son is GEVAARLIK vir die VEL – hierdie boodskap het verseker al by meeste ingesink. Ongelukkig is vitamien D-gebrek a.g.v. te min blootstelling aan sonskyn nét so gevaarlik – indien nie meer gevaarlik nie.

Wat is my punt? My punt is, waarom kom die pille nie saam met ‘n pakkie kos nie? Die gemene faktor in al hierdie toestande is VOEDINGSTOWWE!

Neem bv. die belangrikheid van die vel om vitamien D te vervaardig. Lae vitamien D dra by tot trae skildklierfunksie, trae immuniteit en verhoogde voorkoms van kankers. Saam met die waarskuwing teen die son moet daar dus mos eintlik ‘n oplossing wees? ‘n Aanbeveling. ‘n Pakkie vitamien D!

Trae skildklier. Hier is vitamien D ook belangrik. Kry jy genoeg tyd om bietjie in die son te sit – voor 9h00 voordat dit ‘gevaarlik’ raak om gesond te wees? Sowat 20 minute minimum per dag is wat ons nodig het! Of ‘n aanvulling. Ja – ook in sonnige Suid Afrika.

Jy sukkel met aknee? (en word gedurig siek?). Miskien is dit nie die lugreëling in die kantoor nie en nie jou velsorgroetine wat nie goed genoeg is nie. Dit is heel moontlik – NEE - mees waarskynlik – ‘n onderliggend ‘n gebrek aan belangrike voedingstowwe. Die oorsaak – jy eet getrou elke middag jou LAE GI broodjie met LAE VET smeer en komkommer. Jy vermy mos die kaas omdat dit vet maak....en ROOM  - goeie genade – dit moet niemand tog in enige vorm aanbied behalwe om aan die gesig te smeer nie!

Jy mis uit. Vitamien A – gevind in eiers, VOLROOM-suiwel, kaas, botter en vet van vleis en vitamien E in neute en sade en avokado en olies gemaak hiervan wat koud gepars is, word in rome en pille gebruik om aknee te behandel. Dis so maklik om dit te eet!

Ons is egter so geïndoktrineer om te glo dat eiers cholesterol gee en die vetvrye opsie altyd die beter keuse is, dat ons stadig maar seker gebrekkig raak aan belangrike voedingstowwe wat in die eerste plek hierdie tipe ‘siektes of toestande’ sou kon voorkom het.

Mense wat eiers, suiwel en dierevette vermy moet tot 5 porsies donkergroen groente per dag eet om genoegsame vitamien A in te neem....en meeste mens kry dit nie eers reg om een porsie te eet nie.

Dis feit: NIKS in die liggaam werk ‘alleen’ nie – ALLES word beïnvloed deur voedingstowwe! Hou op dieet. Eet beter! Asseblief! Dis die beste, goedkoopste, mees effektiewe en eenvoudigste behandeling vir ‘n mooier vel.

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

Eet gerus elke dag saam beter by Facebook/bettereat.

LEES MEER BLOGS DEUR MARIZA HIER