Die meeste mense het darem ‘n vae idee waaroor mens praat as jy van kalorieë praat...  Miskien eerder as jy al een of ander tyd in jou lewe ‘n paar kilo’s wou afskud. Of gedurig ‘n paar kilo’s probeer afskud?

Dit blyk egter uit die nuutste navorsing dat daar ietwat van ‘n misverstand was.  Jy het heelwat minder geëet as wat miskien nodig was!

Maak dit saak of ek meer of minder kan eet? Ek dink tog so – daar is regtig MIN mense wat nie hou van eet nie. Dit is ook baie makliker om genoegsame voedingstowwe in te neem om jou metabolisme aan die gang te hou, jou energievlakke stabiel te hou en jou maag vol te hou as jy nie soos ‘n voëltjie hoef te eet nie...

Vir baie mense is dit gewoon goeie nuus as daar ‘toestemming’ gegee is – nee, ‘n aanbeveling -  om met meer mening en minder skuldgevoel ‘n goeie bord kos te kan geniet.

Die fout wat ingesluip het, is dat daar tot dusver in die wetenskap te min aandag gegee is aan die feit dat alle  kalorieë nie dieselfde is nie. Die 100 kalorieë van jou suikerstokkie of snytjie brood word maklik in die liggaam vrygestel terwyl die 100 kalorieë van jou handvol neute of lekker boneslaai bietjie meer werk verg. Dieselfde geld vir bv. proteïenryke voedsel soos vleis, hoender, kaas, eiers en bone in vergelyking met styselprodukte – veral die soort wat reeds ‘verwerk’ is en nie vreeslik baie kou verg nie.  Die 100 kalorie is dus daar – maar is nie altyd ewe beskikbaar nie!

Rou groente en vrugte lewer ook minder kalorieë as hulle gaar of verwerkte eweknieë.  Amandels blyk tot

20% minder energie te lewer wat in die liggaam gebruik kan word as wat die kalorie-telling aandui!  Met ander woorde: vergeet die simpel aanbeveling om 5 amandels te eet – jy moet ‘n handvol eet. Want jy kry eintlik minder as meer! En VERGEET die simpel kalorie-beperking en telling wat so graag as voorskrif dien vir gewigsverlies. In elk geval in soverre dit van toepassing gemaak word op ongeprosesseerde kosse.

Eet MEER! Maar sorg dat dit meer rou kosse is, meer rou neute, meer rou groente. Meer vars vrugte. Ja – selfs dié van ons wat versigtig moet wees vir koolhidrate MOET hierdie opsies uitoefen...want die koolhidrate is wel ‘getel’...maar is heelwat minder ‘ beskikbaar’ as wat ons tot nou toe besef het.

Hoekom moet die mielies gaar wees? Hulle is stroopsoet rou van die stronk gesny. Het jy al geproe hoe lekker rou ertjies is? Komkommer te duur?  – vervang dit met rou baba murg van groente (baby marrow)! Rou uie is ALTYD beskikbaar – en is supergesond! ‘Rou’ maak eintlik om die waarheid te sê, die lewe heelwat makliker.

Net terloops – indien jy suiker-, koolhidraat-, of styselsensitief is, of die ‘hoë proteïen’-roete volg: moet nooit alle koolhidrate uit jou dieet skakel nie. Dít is nou ’n goeie manier om skildklierfunksie te vertraag – en dus jou metabolisme totaal tot stilstand te ruk. Kies liewer die ‘regte’ koolhidrate – soos jy sal vind in vrugte en groente. Eet dit verspreid deur die dag in kleiner porsies. BAIE belangrik: die rou neute en bone (gaar)  – ongeag die kalorie-telling! Beide is ANTI-INSULIENWEERSTANDIG!

Lees gerus meer oor KONING KALORIE en sy handlanger KILOJOULE op www.betereet.co.za

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

(Nota: Mense moet skildklierprobleme moet liefs vermy om rou brokkoli, blomkool en Brusselse spruite te eet).

* Lees nóg blogs deur Mariza hier.