Ek het net verlede week met die vraag en antwoord sessie weereens besef hoe groot die nood is. Dankie julle vir al die vrae. Jammer dat ek nie by almal kon uitkom nie. Ek gaan plan maak vir meer tyd. Ek sal ook die kwessies wat meer as een keer kop uitsteek een vir een takel in die blog.

Ek moet egter eers hierdie week iets van my hart afkry. Ek moet om verskoning te vra.

Jammer! Sarie, Marie en Hester (julle wat verlede week geskryf en gevra het, ook Linda, Katrien en Wilmien wat al deurgeloop het! Julle is geFRUSTREERD! MOEDDELOOS, BEKOMMERD oor gesondheid en gewig. (Ja – ook ander kwessies – maar daar was verseker 'n groot gros vrae oor ‘gewig’!) Soveel van julle is waarskynlik die slagoffers van dieetmishandeling.

Dis feit. Nagevors. Bewys. Dis BAIE maklik om iemand maer te maak. Dis baie moeilik om hom maer te hou.

HOEKOM?

Ek dink dis tot 'n groot mate die waterskeiding tussen dieetbehandeling en mishandeling: Is daar  ‘HOEKOM’ gevra?

Dokter, ek is vet! Ek sukkel. Kry dié inspuiting. Leptien. Ja – sal help. Maar as jy klaar is met die leptien? (Het iemand gekyk of ondersoek ingestel of leptien hoegenaamd jou probleem is of nie?). Gaan jy vir altyd ingespuit word? Dokter ek is insulienweerstandig. Hier’s 'n pil. Dit werk só’. Dieetkundige ek moet my dieet aanpas. Kom ons sit jou op 'n lae vet/lae GI dieet. Maak seker jy eet genoeg groente en vrugte.

En jy’s nog steeds vet en gefrustreerd. Miskien het jy 2 kilogram verloor. Of niks.

Bogenoemde ‘behandelinge’ is nie noodwendig verkeerd nie. Die groot vraag is egter – het iemand gevra: HOEKOM?

Vergewe maar as ek op tone trap.

Dieetkundiges, dokters en spesialiste word tradisioneel opgelei om 'n diagnose te maak.  Insulienweerstandigheid, diabetes, Cholesterol, Polisistiese Ovariële Sindroom ens.) Dan word die diagnose gebruik om 'n behandeling voor te skryf wat nagevors is om in die oorgrote meerderheid van persone met die spesifieke stel simptome 'n ‘verandering’ teweeg te bring. Die behandeling moet effektief wees om die simptome aan te spreek. Dit word genoem ‘EVIDENCE BASED MEDICINE’. Dit is nie 'n slegte ding nie. Maar HOEKOM is ek nog steeds vet – al gebruik ek die medikasie? Hoekom sukkel ek nog steeds met my bloedsuiker? Prikkelbare derm? Menstruasie?

Kry die knoop – of jy sal maar net aanhou sukkel. Hoekom het jy in die eerste plek gewig opgetel? Hoekom het jy in die eerste plek insulienweerstandigheid ontwikkel. Hoekom het jy in die eerste plek diabetes ontwikkel. Hoekom het jy in die eerste plek gesukkel met jou menstruasie. Hoekom het jy in die eerste plek nie genoeg energie gehad om te oefen nie!

En dit is nie die hele antwoord nie – maar verseker deel van die antwoord: Een van die mees BASIESE behoeftes van die menslike liggaam – VOEDINGSTOWWE – staan heeltemal te ver agter in die ry van behandelingsopsies.

Hoe beïnvloed 'n onderliggende lae Vitamiene A inname jóú metabolisme -  jy eet mos nooit meer botter en eiers nie. Is jou groot probleem nie dat jy vitamiene D gebrekkig is nie? Ons dra mos almal heeltyd sonskerm? (Vit D speel 'n belangrike rol in o.a. insulienweerstandigheid en skildklierwanfunksie). Kry jy genoeg olie in van neute om jou hormone te vervaardig – of eet jy net 10 op 'n slag – want dit maak mos vet en jy onthou nie om weer neute te koop nie. Is jy onderliggend heeltemal ‘suur’ want dis makliker, vinniger en goedkoper om brood te eet as om 'n groenteslaai te maak...en buitendien hou jy nie van groente nie?

Ek vra omverskoning as niemand nog hierdie belangrike aspekte as deel van jou ‘ dieetbehandeling’ ondersoek het nie maar ek moet ook vra – wat is die rol van vorige ‘diëte’ in jou situasie: Die laaste keer wat jy 14 kilogram in 4 weke verloor het – het iemand gekyk of hoeveel daarvan om jou buik was? Supervinnige gewigsverlies is gewoonlik te wyte aan spierweefselverlies wat fantasties op die skaal lyk – maar VERSKRIKKING in jou lyf saai! En dit is 'n retoerkaartjie na die volgende dieet.

Ja – daar is baie rede tot bekommernis – soveel dieetmishandeling en oneffektiewe dieetbehandelinge. En ongelukkig is daar nie 'n ‘eenvoudige’ oplossing nie. Dít het ek al gesê. Dít hou my nederig.

Lees asb. die artikel in SARIE GESOND Somer 2011 oor redes anders as dieet waarom jy nie gewig verloor nie. Dis net die punt van die ysberg. Maar dis 'n begin. Al laat dit jou net minder hopeloos voel. Dit is ook al beter.

Intussen tot jy jou ‘ knoop’ gevind het – probeer solank dink: Beter eet – nie DIEET nie.

Tot volgende week.

Mariza van Zyl RD

Geregistreerde Dieetkundige

Facebook/bettereat

Meer wenke by www.betereet.co.za