Elkeen se gesondheidstruikelblokke is uniek. 'n Oorgewig kind moet bv. minder koeldrank drink, of 'n volwassene wat van spekkies wil ontslae raak, sukkel dalk met die Achilles-hak van koffie-gewoontes. Iemand anders moet weer ophou fyn witmeel eet.

Ek eet dikwels self volgens hierdie voorskrifte wat ek so uitdeel. Dit help my ook om met geregte vorendag te kom wat doenbaar is, maar steeds die gewenste uitwerking sal hê.

Ongelukkig gebeur dit dikwels: die oomblik as jy iets moet "los", dan hunker jy daarna. Die brood het jou geensins gepla nie, maar nou sê die moet-en-moenie-lysie: Geen meel. En nóú pla dit jou.

Hoekom?

Ons behoeftes, honger, of dit waarvoor ons lus word en dit wat vir ons "lekker" is, is 'n komplekse konglomerasie van reaksies in ons lyf en brein.

“Lekker” het nie net met smaak te doen nie, maar ook met die afskeiding van chemiese stowwe in jou brein wanneer jy iets “lekkers” eet of drink. Dink aan trooskos, bederfkos. Dit laat jou beter of lekker voel. Sogenaamde 'dieetkos' aan die ander kant, kan jou ongelukkig die heeltyd honger of hunkerend laat voel. Hierdie gevoelens is chemiese reaksies in die brein. Jy sou kon sê dis ’n kwessie van plesierhormone vs. gebrek aan plesierhormone.

Maar by honger en versadig is ook hormone wat NIE met plesier te doen het nie. As jy nie jou kos fyn kou nie, of jou derm is bietjie "siek", word die versadig-hormone nie afgeskei nie. Jy voel nooit tevrede nie.

So 'n paar jaar gelede wys Italiaanse navorsers dat dit net 7 dae neem vir kinders se smaakpersepsie om te verander. Koeldrank wat op dag 1 gegee is, is stelselmatig versoet vir 7 dae. Die koeldrank was vir al die kinders soet genoeg op dag 1, maar ná dag 7 wou niemand meer die verdunde koeldrank van dag 1 drink nie. Almal wou dag 7 se SOET koeldrank hê.

Hoe lank neem dit om jou lus of sin vir wat lekker is - hetsy dit vet of suiker of brood of koek is - te "ontleer" of te herprogrameer? Hoe lank moet die Italiaanse kinders suffer voordat hulle weer van die verdunde koeldrank sal hou? Gaan hulle vir altyd daarna hunker?

Hoe lank moet jy suffer voordat "beter koskeuses" 'n gewoonte word?

Hierdie vraag soek nog 'n antwoord.

Ek weet wel dat drie dinge kan help as jy op die pad is na beter koskeuses: Bewuswording, die 80/20-beginsel en alternatiewe.

  • Bewuswording. Word bewus van wat jy koop, kook en eet. Waar kom dit vandaan. Hoe is dit gemaak? Miskien kan dit jou help om op te hou om iets te doen wat nie noodwendig goed is vir jou nie as jy 'n storie hoor wat jou laat gril vir dié verkeerde gewoonte. Word bewus van jou gewone manier van dinge doen - wat is jou emosionele knoppies?

  • Die 80/20-beginsel. As jy 80% van die tyd beter koskeuses maak, gaan dit reeds 'n groot impak op jou gesondheid hê. Dit hoef nie altyd alles of niks te wees nie. "Dieet" is iets wat jy Maandag begin doen. Beter eet is iets wat jy nou kan aanpak.

  • Alternatiewe. Vind alternatiewe vir gunsteling-smake, -geure en -teksture. En lekker kan ook gesond wees. Soos om BeterEet sjokolade-muffins te eet vir ontbyt!

Mariza van ZylTot volgende keer

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult