‘Die nie nodig om te ‘snack’ nie, dit maak vet!’ het sy met geweldige oortuiging en outoriteit gesê. Sy was 'n spreker; 'n nasionale bestuurder vir groot farmaseutiese maatskappy, gekwalifiseerde verpleegkundige. Iemand met jare se ondervinding. In hierdie situasie 'n outoriteitsfiguur. Die lesingsaal was vol!

My verontwaardiging het soos 'n klip in my keel gesit. Dít is nie waar nie. Wat bereik mens met so stelling anders as om die chroniese doring van ‘dieet-twak’ verder in die vlees van soveel vroue (en mans –hulle praat net nie daaroor nie) in te boor. So van twak gepraat  – miskien moes ek vir haar gevra het soos 'n vriend graag vra: is djy geroek?

Dankie vir almal se kommentaar en vrae verlede week en wat julle my vertel het oor julle ‘snack’ gewoontes. Verseker is ‘snacking’ vir baie 'n kwessie. Kom ons kyk of daar 'n vuurtjie is waar die rokie trek....

Wat is 'n ‘snack’. Een is dit 'n lekker leenwoord – wat seker soos ‘nice’ nie sommer sy sitplek in die volksmond gaan prysgee nie. Dis kort, sê maklik en almal weet waarvan jy praat?  Of nie?

Vir my beteken om te ‘snack’:  om te peusel of om 'n ‘happie’ of mini–maaltyd te eet.  Daarenteen is daar lekkernye. Lekkernye verstaan ek meer as ‘treats’ of lekkergoed:  'n koekie, 'n stukkie tert, 'n melkskommel. Maar vir baie mense is dit 'n ‘snack’.

Die taalkundiges sal seker meer kan help – belangrik egter is dat mens in jou eie kop 'n onderskeid moet tref – veral as jy iemand is wat sukkel met  ‘dieetskuld’ en 'n tassie vol dis- hoekom-ek-sukkel-met-my gewig met jou saamdra.

Sommige mense het regtig nie nodig om tussen maaltye te peusel nie. Hulle metabolisme is sodanig dat 'n goeie bord kos hulle maklik deurdra na die volgende ‘maaltyd’ – gewoonlik so 5-6 ure later.

Ander het regtig nodig om te ‘ snack’  - 3 maaltye, 3 ‘snacks’/mini-maaltye. Soms selfs nog ietsie tussen-in. Hulle kan amper heeltyd kou – maar hang af waaraan hulle kou hoe goed dit vir hulle is!

Daar 'n ook 'n groep mense wat eintlik nodig het om baie gereeld te eet en te peusel maar hulle het hulle lywe ‘ geleer’ (of liewer gemartel) om met min, baie min, tevrede te wees. Dis natuurlik behalwe vir 'n duisend koppies koffie deur die dag en 'n onblusbare  ‘sal-enigiets-eet- wat- voorkom’  vanaf hulle tuiskom saans.

Hoe weet jy of jy metabolies ‘mag of nie mag nie’ ?  Nie so maklik nie. Ongelukkig nie. Verskeie faktore sal hier ‘n rol speel. As jou liggaam reeds uit balans is – hetsy bloedsuiker,  streshormone, insulien, skildklier ens. kan dit die prentjie  vertroebel.  Dis egter feit dat wanneer jy weer honger word na 'n maaltyd,  verseker NIE net afhang van die GI van wat jy geëet het nie. Hoeveel jy geëet het, hoe vinnig jy geëet het, wat die voedselkombinasies was en natuurlik ook wat jy gedoen het. Het jy gesit, gesit en stres, gesit en kuier, gesit in verkeer, of rondgehardloop agter twee klein kindertjies aan? Selfs wat jy saam met jou maaltyd drink sal 'n verskil maak.

Weereens dus – een resep werk NIE vir almal nie.

Ek gee graag 'n paar ‘leidrade’ om jou te help weet of jy 'n ‘Snacker’ is – of nie: Voel jy soms geïrriteerd en besef dan dis reeds etenstyd (op jou horlosie), wil jy eintlik 11h00 al jou ingepakte middagete eet,  ervaar jy 'n energie-afplatting 2 – 3 ure na 'n ete of kry so vaal moegheid oor jou lyf na middagete? Sukkel jy om vroeg saans te eet en dan nie weer te eet nie?  Funksioneer jy op koffie of tee deur die dag om jou aan die gang te hou (want jy het nie tyd om te eet nie)?

Jy sal waarskynlik goed doen om jou ‘snack’ behoeftige metabolisme te aanvaar  - en soos ek verlede week geskryf het – te sorg dat jy altyd 'n ‘lewenslyn’ in jou handsak/laai/yskas het. Wees egter gewaarsku – dis belangrik om nou te onderskei tussen ‘snack’ en lekkerny.

Iemand het verlede week geskryf sy ‘snack’ graag aan 'n stafie. Stafies – meeste stafies, klassifiseer ek maar liewer as ’n lekkerny – dis nou as hulle bestanddele hulle nie diskwalifiseer nie.

Belangrik egter – daar’s NIKS fout met 'n lekkerny nie. Maar net soos met snacks, kan mens beter en minder goeie keuses maak. En jou keuse moet pas by wat jy wil bereik: wil jy gewig verloor, net beter eet, eet vir beter oefening?

Ek is so bietjie van 'n lekkerny’ ‘snob’ – dit moet SOOO lekker wees – dat net 'n mondjievol die ding doen. Sommerso kougoed is net nie goed genoeg vir my nie. Dit help nogal – want dikwels is die spesiale lekkernye so duur, dat ek in elk geval nie veel meer as 'n mondjievol op 'n keer kan eet nie.  Of ek sal 'n kind-tyd lekkerny maak – iets soos jellie met Idealmelk....

Jy kan beide ‘ snacks’ en lekkernye deel maak van 'n ‘lewenstyl’ benadering. Beter eet – nie DIEET nie. Jy moet net besluit. Kyk eers wat is jou behoefte en kry vir jou 'n gunsteling goeie lys en besluit jy hoe jy dit wil doen – n.a.v. waarheen jy oppad is.

Aanvaar dit: jou lekkernye gaan anders daaruit sien as jou buurvrou s’n wat plankdun is of sukkel met haar gewig van kleins af. Beproef wat vir jou werk. En baie belangrik – geniet dit.

Ek sit vir julle 'n lekker ‘skuldlose’ snack-lysie en 'n paar van my gunsteling-lekkernye op www.betereet.co.za.

Tot volgende keer lekker beter eet!

Mariza van Zyl RD

Geregistreerde Dieetkundige

Facebook/bettereat

Meer wenke by www.betereet.co.za