Volgens oorlewering het die sogenaamde vader van medisyne, Hipokrates, al meer as 2000 jaar gelede dié belangrike uitspraak gemaak: “Jou derm en goeie dermfunksie is sentraal tot en van kardinale belang vir jou gesondheid.” 

Ongelukkig het “moderne” medisyne die afgelope jare die derm so effe stief behandel en ietwat opsy geskuif. “Mevrou – eet net meer ru-vesel. Dit sal jou probleem oplos,” is dikwels die raad wat ons kry.

Ek kan jou dít verseker - as jy iemand is wat soms seer het of ongemaklik raak as jou derm nie werk nie, of as jy sommer net raadop is van sukkel, is ru-vesel alleen nie die antwoord op jou probleem nie!

Jy dink so maklik aan jou derm as ’n pyp wat net die voedsel wat jy eet moet vervoer. Tog is die derm is veel komplekser. Het jy geweet dat jy sonder ’n gesonde derm ’n maklike teiken vir siektes is? En dit is nie net siektes weens ’n virus of bakterie (’n kiem soos ons daarvan praat) nie, maar ook siektes wat jy kry a.g.v. onderliggende inflammasie soos oorgewig, insulienweerstandigheid, hartsiekte, artritis, auto-immuunsiektes, senu-stelselsiektes, depressie, Alzheimer-siekte en kanker.

Ly jy aan depressie of stres? Ken jy die simptome van sleg slaap, hunkerings na suiker en stysel? Jou derm speel selfs ’n rol in dié toestande, wat dikwels toegeskryf word aan lae vlakke van serotonien, die sogenaamde “goedvoel-hormoon” in die brein.

’n Kykie van naderby in die derm wys dat daar meer serotonien-reseptore in die derm as in die brein is. Reseptore kan beskryf word as die “handjies” wat die serotonien-stof moet vang vóórdat dit ’n effek het. Dié effekte kan rustigheid, eetlusbeheer, ’n gelukkige gevoel, en lekker diep slaap wees. Dís die serotinien se werk.

As jou derm jou gedurig pla, dink hieraan: Miskien is dit jou leunverklikker. Jou waarskuwing. Is jou lewe buite beheer? Eet jy te vinnig? Te veel? En ontlaai jy jou stres gereeld en op die regte manier? Ignoreer jy dít, kan dit dalk later in depressie omskakel.

Die selle in die dermkanaal is baie slim. ’n Maklike vergelyking is die skandeerder by die kassiere in die supermark. Soos die produk verbygeskuif word, registreer die rekenaargedrewe kasregister watter produk dit is en hoeveel dit kos. Somtyds is die stelsels so ingewikkeld dat die data na ’n sentrale rekenaar gestuur word wat outomaties die voorraad en volgende bestelling bereken, sodat die winkelrakke nie leeg raak nie.

Net só “lees” die selle in die dermkanaal wat jy presies geëet het en stuur boodskappe na die brein en ander organe om te reageer. Die selle is só slim dat hulle byvoorbeeld nie net lees jy het bv. botter geëet nie, maar wel die samestelling van die botter – met ander woorde die soorte vette waaruit botter saamgestel is.

Dan is daar ook die organismes in jou dermkanaal – of biotika. Goeie organismes word probiotika genoem. Die wisselwerking tussen jou probiotika en die selle van die derm is verantwoordelik daarvoor dat 80% van jou immuunstelsel in jou derm gesetel is. Die probiotika het egter voedsel nodig, soos alles wat lewend is. Wanneer jy dit met die regte voedsel voorsien (verskillende soorte groente, vrugte, onverwerkte heelgrane, sade, neute), floreer jou probiotika en jy sal ook. Ongelukkig “sterf” hulle ook wanneer jy bv. gedurig antibiotika ontvang. Dan moet hulle vervang word. ’n Ontoereikende dieet sal eweneens jou probiotika–balans benadeel. Bly dus weg van verwerkte kosse, verfynde kosse, verkeerde vetsoorte. Ja, dit kan miskien nou net tot ’n ligte ongemaklikheid lei, maar oor jare stel jy jouself aan verhoogde risiko vir al die ander aaklige siektes bloot.

Jou knaende derm-moeilikheid is nie ’n bysaak nie en ’n prikkelbare derm is vir seker nie  iets waarmee jy net moet saamleef nie. ’n Ongelukkige derm verdien aandag - báie aandag! Voed jou derm goed en hy sal sorg dat jy goed voel.

3 Stappe om jou dermgesondheid te bevorder:

  1. Sorg vir genoegsame pro- en prebiotika in jou dieet (meer hieroor op bettereat/facebook)
  2. Sorg vir ’n verskeidenheid onverwerkte en rou voedsel in jou dieet
  3. Vermy vetsoorte wat preserveermiddels bevat (lees etikette) sover moontlik en sorg vir ’n verskeidenheid bronne van vet in jou dieet met fokus op neute, sade, olyf- en klapperolie

Groete

Mariza van ZylRD Kliniese Geregistreerde Dieetkundige BeterEet Voeding en Voedsel KonsultFacebook/bettereatwww.betereet.co.za

* LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER