Onthou jy, ons het in 'n vorige blog gepraat oor die "spelreëls"? En dat dit, wanneer dit oor Banting gaan, nie noodwendig die aanbeveling nie maar eerder die toepassing van die aanbeveling is wat katastrofiese gevolge kan hê. Moontlik is jou toepassing van Banting perfek gesinchroniseer met jou lyf en daarom voel en lyk jy soveel beter. Maar onthou, gesondheid gaan oor meer as "maer" wees en één resep werk nie vir almal nie.

Hier in die Paarl is 'n gewilde restaurant. Daar's hope kuierplek buite en die plek is veral Saterdagoggende volgepak. Meestal fietsryers. Die fietse staan soos opgeskote tieners so lê-lê teen die gemanikuurde heining.

Die burger-ontbyt is glo deesdae veral gewild -  geen brood nie, asseblief! - maar sit asseblief tog 'n ekstra patty by, en 2 eiers en spek, want ons Bant. Slaai is net vir garnering. Die manne en vroue is fietsers en hulle is HONGER.

Dan vertrek hulle. Vanmiddag is daar rugby op televisie, of almal braai ná skoolsport 'n vleisie. Nog 'n vleisie ... ons mag mos, want ons Bant.

Sommige word mooi maer (ander nie). Maar soos die gesegde lui: waar daar 'n rokie trek, is daar 'n vuurtjie. In hierdie geval 'n braaivleisvuurtjie of 'n pan op die stoof.

Onthou, daar's 'n verskil tussen 'n hoë-vet-lae-koolhidraat-dieet (sogenaamde Banting) en 'n hoë-vet-lae-koolhidraat-hoë-proteïen-dieet. Laasgenoemde is die een wat byval vind by 'n groot gros Suid-Afrikaners. Nog 'n vleisie, 'n ekstra burger-patty en spek en eiers pas lekker in ons kraal. Spinasie, ja asseblief, maar net 'n klein skeppie. En as jy lus is vir nog groente, kry vir jou nog 'n hoenderboudjie....

Jy weet mos.

Soos 'n leser verlede week tereg opgemerk het, prof. Noakes se huidige boek sê 'n porsie vleis is so groot en dik soos jou handpalm sonder vingers. Oulike aanwysing, want my handpalm is gelukkig lekker groot en ek's juis so lief vir vleis. Maar is dit nou per maaltyd of per dag? En waar tel ek die eiers en lekker kouevleise by?

Vleis is goed, dit laat mens langer versadig voel en bevat baie vitamiene, minerale en selfs fitonutriënte! En deesdae is die "vet" ook glad nie meer so sleg nie ... onthou net om "vryloop" te kies.

Maar

'n Minder bekende aspek van vleis, álle vleis, is dat dit ná dit gaargemaak is 'n groot bron is van iets genaamd "gevorderde geglikoliseerde eindprodukte". Vloekwoord.

In Engels word verwys na AGE's, of dan advanced glycation end products. Klink amper soos 'n bekende wasmasjien - onthou dit so. AGE's is basies chemiese stowwe wat vorm wanneer vleis gaargemaak word. Dit gebeur met braaivleis, patties, hoender, als.

Hierdie AGE's word deels geblameer vir die verhoogde voorkoms van o.a. diabetes, hartsiekte, Alzheimersiekte en vroeë veroudering.

Beide eksterne bronne van AGE's - die kos wat jy eet - sowel as "inherente bronne" - dit wat in jou liggaam vervaardig word, soos as jou bloedsuiker deurmekaar is - lei tot 'n verhoogde lading in die liggaam. Navorsers vra tereg of hierdie AGE's, eerder as vet, nie die swartskaap rakende hartsiekte/diabetes/Alzheimer/vroeë veroudering is nie. Meer plooie is ook gelyk aan meer AGE's....

Nou hoe gemaak, want wat bly oor om te eet? Jy wil jouself tog nie onnodig blootstel aan hierdie AGE's en die gepaardgaande verhoogde voorkoms van of risiko vir veroudering en meer plooie nie, en dan oor 10 jaar besef jy: oeps, baie vleis en vet was ook nie heeltemal reg nie.

Vetword en maerword, én die siektes van ons tyd, gaan inderwaarheid oor veel meer as vet. Ons weet darem dat mens die AGE's in jou dieet kan verminder.

Eet minder vleis (onthou, die hele tribe het saam geëet as daar suksesvol gejag was en moes dus deel), en eet jou vleis rou.

Mmmm - dit gaan nie werk nie.

Die tweede prys is om jou vleis met 'n "nat" metode, oor lae temperatuur vir 'n korter periode voor te berei. Daardie lekker bruinbraai in die pan, vinnig in druiwepit-olie veral, is miskien nie so 'n goeie idee nie.

Daar's gelukkig nog 'n hasie in die hoed: Navorsing wys ook dat die vorming van AGE's beperk word wanneer 'n bietjie suurlemoensap of asyn tydens die gaarmaakproses gebruik word. Dit klink vir my lekker. 'n Lekker skaaptjoppie, nie gebrand nie, met suurlemoensap en 'n GROOT bak slaai!

En dis nie Banting nie, dis gewoon net ‘beter eet’...

BeterEet groete tot volgende keer

Mariza van ZylMariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

www.betereet.co.za

Het jy wenke en idees nodig? LIKE gerus Facebook/bettereat en besoek www.betereet.co.za