Honger is vir sommige ‘n baie emosionele kwessie. Jy weet miskien hoe dit voel? Die oomblik as jy moet anders eet, of dieet - is jy onmiddelike heeltyd honger!

Inderwaarheid is dit dan ook die basis waarop HONGER – of dan liewer die afwesigheid van HONGER - gebruik word as gewilde ‘bemarkingstegeniek’ om vele dieetstrategieeë  se lof te besing: Jy sal nie honger wees nie/word nie/voel nie/lank vol voel/lank vol bly. Die afwesigheid van honger word voorgehou as ‘n absolute doelwit om na te jaag.

Maar wat is honger? Honger is ‘n chemiese reaksie. ‘n BAIE komplekse chemiese reaksie. Daar’s Ghrelin, Leptien, Cholesistokinien, Serotinien, Insulien – van die boodskappers (of in mediese taal HORMONE) wat betrokke is in die wisselwerking tussen brein en maag en lyf (vetweefsel/spierweefsel en selfs been) om honger/versadig boodskappe te orkestreer.

Honger sit dus regtig ook in jou kop. Dis nie jou verbeelding nie, nie die bewys van hoe swak jy is en dis nie ‘n teken dat jy geen wilskrag het nie.

Om die waarheid te sê, ek word heel opgewonde as pasiënte na ‘n week of twee van beter eet rapporteer dat hulle soggens HONGER opstaan. Of HONGER voel. Dus – uit by die deur met ’HOE DURF jy honger wees’. Mens moet met HONGER maak soos met ‘n wilde perd – leer hom verstaan, ken sy streke en gebruik dan die ongebreidelde krag tot jou voordeel.

Maar wat as my honger buite beheer is? Kan ek die chemie van die honger wees, en dan versadig voel en weer honger wees kontroleer. Ja – mens kan – maar jy moet die perd verstaan! En die perd se naam is nie net LAE GI, VET, GRELIN of INSULIEN of die nuwe druppel of poeier of inspuiting nie. Somtyds is die perd se naam Stres of Hartseer of Depressie of selfs Oormoeg of gewoon LYF HET KOS NODIG! LYF SMEEK VIR VOEDINGSTOWWE! Dít moet mens aanspreek.

Honger met opstaantyd? – Fantasties! Gedurig honger? Probeer om elke 2 – 3 ure te eet – 3 maaltye en 3 klein tussenmaaltye. Dink VOEDINGSTOWWE! Verruil dus verfynde produkte – items wat baie verwerking vereis het - al is dit LAE VET/GI/SUIKER - vir kos wat jy selfs sou kon pluk of voorberei/produseer. Vrugte/neute/groente/stukkie kaas/jogurt – alles RYK aan voedingstowwe.

Honger smiddae 16h00? Eet vóór die groot gevaar jou pak en dryf na enigiets en alles verteerbaar. Antisipeer dat dit jou ‘slegte’ tyd is – (baie waarskynlik ‘n kombinasie van stres van die dag en bloedsuiker).

Omarm jou eie lyf se seine. Herlei die gemorsde energie om skuldig te voel en sorg beter vir jouself. Sorg dat jy iets in jou handsak het – rou neute, sade, gesnyde biltong of stukkie droë wors. Jy’t altyd jou selfoon by jou – jou lewenslyn. Waarom nie ‘n ‘lewenslyn’ om jou te red uit hongersnood nie?

Maak jou maag vol met etes. Die maag wat ‘rek’ na ‘n goeie volume kos is een van die knoppies om die boodskap brein toe te stuur dat jy genoeg gehad het. Twee klein kraakbeskuitjies met ‘n smeerseltjie lae-vet margarien tel nie as middagete nie. Eet genoeg kos. ‘Pof’ jou bord op met groenteslaaie – MET olyfolie.

En laastens, eet stadig. Dit alles is meer effektief om die ‘genoeg gehad’-boodskap brein toe te stuur as ‘designer’ kos met allerhande ‘claims’.

Tot volgende keer! En onthou, jy kan elke Donderdag tussen 1 en 2 in die middae direk jou dieet-vrae op Facebook aan my vra.

Groete

Mariza van Zyl RD

Geregistreerde Dieetkundige

Meer wenke by www.betereet.co.za

Betereet op Facebook

LEES AL MARIZA SE VORIGE DIEET-BLOGS