Ironies, maar baie tradisioneel, begin die dieetseisoen weer met mening net ná Nuwejaar.  "Deel jou raad en wenke om gewig te verloor ná die somervakansie" koer die omroeper op RSG. Die mense se lippe raak los en luisteraars deel die goeie – en ongelukkig ook die slegte -  raad met mekaar.

Wenke soos: Verruil jou koeldrank vir  ‘lite’ en ‘diet’.  Drink liewer vrugtesap, dis mos gesonder!  Gegeurde water deur die dag help vir die soetlus en onthou, as jy nou uiteindelik begin oefen het, daardie energie-drankies verrig wondere! Sportdrankies gee jou lekker woema en as jy wil gewig verloor – probeer gerus die ‘dieet’-opsie…

Selfs die goeie raad om water te drink word ietwat te ver geneem ... Ja, jy kán te veel water drink! (Lees gerus meer HIER).

Hier is ’n paar foefies en feite oor jou gunsteling-drankie sodat jy self ’n beter besluit kan neem:

VolumeKommentaar
Gaskoeldranke: ‘Normale’  gaskoeldranke1 blikkie (340 ml)9 teelepels suiker per blikkie
Gegeurde water250 ml3 teelepels suiker
Vrugtesap200 ml- boksie4 - 5 teelepels suiker. Die suiker is nie bygevoeg nie, maar inherent deel van die produk. Lees gerus meer hier http://bit.ly/1fAMYnl
Vrugtekoeldrank (nektar)250 ml-

glas

2½ teelepels suiker
Aanmaakkoeldrank250 ml-

glas

4 teelepels suiker
Sportdrankies500 ml- bottel9 – 10 teelepels suiker (ooit gewonder waarom kinders ná pouse of by ’n partytjie so 'crazy' is?)
‘Lite’ sportdrankies500 ml1 teelepel
Droë witwyn200 ml½ teelepel
Bier340 ml2 ½ teelepels
‘Suikervrye’  KoeldrankMin genoeg om ‘ geen’ genoem te word.

Wanneer jy BETER keuses wil maak vir jou gesondheid, moet jy na meer as net die hoeveelheid suiker en kilojoules kyk. Lees gerus die etiket van jou gunsteling-drankie - kleurstowwe, geurmiddels, stabiliseerders, vreemde verbindings ... wat maak jou lyf daarmee?

Teug jy graag aan ’n ‘dieet’-koeldrankie? Maak dan maar seker jou mediese fonds se voordele vir tandheelkunde is goed. Dit bevat dalk geen suiker nie – en proe SOET  – maar dis SUUR! Gaskoeldranke en baie ander drankies bevat onder meer sitroensuur  (citric acid), wat tandbederf bevorder. Al gehoor van die ou storie oor die tand in die glas koeldrank? Dis waar! Die tand word binne ’n paar dae weggevreet - suikervry of nie.

Dink net wat doen dit nog aan jou lyf!

mariza_henk_foto

Kuier gerus saam op facebook/bettereat en www.betereet.co.za vir meer wenke oor WAT mens kan drink as jy beter wil eet!