Natuurlik’ beteken natuurlik verskillende goed vir verskillende mense. Vir sommige mense moet ‘n produk sonder bymiddele soos preserveermiddels, kleurmiddels en kunsmatige versoeters is. Iemand anders wil dit nog ‘n stap verder neem – dit moet ook organies verbou wees.

‘Natuurlik’ beteken vandag op voedselverpakking ook verskillende goed. Die ‘misverstaan’ van die  term ‘natuurlik’  maak dan ook die deur wyd oop vir bemarkers. Maar alles wat as ‘natuurlik’ ge-etiketieer word, is nie noodwendig beter (of slegter) nie. Byvoorbeeld is die preserveermiddel ‘potassium sorbate’ –‘n ‘natuurlike’ preserveermiddel – dit kom gewoonlik van plantaardige oorsprong. Dit is ‘n ‘natuurlike’ produk. Dit word egter chemies vervaardig – en gebruik om gis en swamgroei in bv. souse en suiwelprodukte te keer. Is dit nou ‘veilig’ omdat dit van natuurlike oorsprong is? Die antwoord is nog ‘n vraag – as ‘n bietjie nie kwaad doen nie, beteken dit meer en meer is goed?

Ongelukkig is die ‘natuurlike’ kwessie nie eenvoudig nie. Moet mens verstaan hoe elke preserveermiddel werk? Wat die moontlike effek van elke kleurmiddel of kunsmatige versoeters  is?

Nee - deur net te fokus op die ware ‘natuur’- m.a.w. soos ‘n voedselitem uit of in die natuur voorkom – sal alreeds ‘n groot verskil in jou gesondheid maak.

Hierdie aanbeveling berus op die feit dat die gebrek aan - of wanbalans t.o.v. spesifieke voedingstowwe  - ‘n rol speel in ALLE metaboliese prosesse – alle funksies – in die liggaam.

Wanorderlike metabolisme en verandering in selfunksie vorm die basis van gewigsprobleme, diabetes, hartsiekte, insulienweerstandigheid, oorgewig en selfs allergië. Dit is maar net ‘n paar toestande wat vandag legio is. Die moderne Westerse dieet  - soos meeste mense vandag eet – maak staat op verfynde en verwerkte kosse, kosse wat ‘vinnig’ en maklik is. Die probleem - voedingstowwe en inherente eienskappe wat belangrik is om ons liggame instand en gesond te hou - gaan verlore.  Ons het nog nie eers begin praat oor die effek van bymiddels nie...

Help dit om die ‘verlore’ items weer ‘terug’ te sit?

[box:full:red:both]

Gesels met Mariza en vra jou vrae op haar Facebookblad by Bettereat

[/box]

Dit is dikwels die ‘kompliment’ van die bestandele – eerder as ‘n enkele aktiewe bestandeel in voedsel wat sinergisties op ‘n bepaalde manier in die liggaam werk. Wanneer spesifieke ‘bestandele’ uitgesonder word, al is dit van ‘natuurlike’ oorsprong, is die effek nie altyd meer dieselfde nie – en verseker nie meer altyd ewe goed nie. Vesel in ‘n heel graan korrel is goed – is dit dan beter om ru-vesel in hope te eet? Nee – dit kan absorbsie van bv. yster benadeel of in ‘n persoon met dermkwessies geweldige ongemak veroorsaak. Dis nie goed nie.

Dit gaan ook nie altyd net oor die ‘bestanddele’ maar hoe hard jou liggaam moet werk – of nie hoef te werk nie – om die kos te verteer en te gebruik.  (Lees gerus die blog: die dood van KONING KALORIE).

Die produk is ‘verryk’ met vitamiene A, B en C (en soms ander)....maar die boks vertel jou nie dat bv. MAGNESIUM – wat kardinaal is om die energie waaroor daar so graag gepraat word – verlore gegaan het in die verwerkingsproses nie.

En dan wonder jy hoekom die kinders vandag ook ‘boepies’ het... En die mans en die vrouens...

Hulle liggame sukkel om ‘al die energie’....sonder die nodige vitamiene en minerale- te gebruik en stoor dit dan as vet.  Onder andere.

Is hierdie produkte dus sleg? Ek vra eerder: Is dit genoegsaam voedsaam? Ja – dis verryk – en welliswaar miskien sonder byvoegings – maar dis nie iets wat ek in my kombuis sou kon maak nie.

Dit is die kwessie.Dit bevat dus heelwat ‘natuurlike’ – en goeie bestandele – maar sover dit my aanbetref is die onmoontlik om ‘n ware gesonde dieet saam te stel as dit nie geskoei is op onverfynde, onverwerkte on-mee- gepeuterde – kos!

Vergeet hierdie week ‘n bietjie die etikette en vra jouself net hierdie vraag af – hoeveel stappe is gevolg om die produk te vervaardig... hoe minder stappe – hoe beter. Hoeveel bestandele in die lysie kan ek nie identifiseer nie.

Maak dit jou benoud?  Gelukkig kan jy elke dag ‘beter’ saam eet op facebook/bettereat. Lees saam, leer saam, eet saam en gesels asb. saam!

Tot volgende keer

Groetnis

Mariza van Zyl RD(SA)

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

http://www.bettereat.net/

* Lees nóg blogs deur Mariza hier.