Is jy bekend met hierdie aanbevelings: 2 - 3 porsies melk per dag is nodig vir genoeg kalsium; vetvrye melk pas by die gesond-eet-riglyne; en jogurt is ideaal vir kinders?

As jy al hierdie aanbevelings gehoor het, lees asseblief verder, want dit is ongelukkig nie so eenvoudig nie!

Die verhaal begin by moedersmelk...die absolute perfekte voedingsbron vir babas. Moedersmelk is in my opinie ’n amperse wonderwerk. Na aanleiding van ’n baba se behoeftes soos hy of sy groei, en meer of minder drink, verander die samestelling van die melk. Dit is vol belangrike voedingstowwe en hormone wat spesifiek gerig is op groei. Via die borsmelk leer ons smake, reuke en om te hou van al die kosse wat ons ma geëet het.

Tot op die ouderdom van 1 jaar is melk die belangrikste bron van voedingstowwe vir die groeiende baba.

Maar wat gebeur daarna? Ja, hierna is melk vir ’n groot deel van ons bevolking ’n belangrike bron van voedingstowwe. Daarsonder sal daar nóg meer wanvoeding en gebreke wees.

Dieetkundiges word dan ook opgelei om die aanbevelings te maak: Kies daagliks  2 - 3 porsies melk. Dít moet deel wees van jou daaglikse eetpatroon. Kaas, veral volvet-kaas,  word op die kortlys geplaas: vermy dit liewer, veral as jy gewig wil verloor of cholesterol het. Jogurt is ideaal vir kinders en is ’n goeie bron van probiotika wat nodig is vir dermgesondheid.

En tog, as jy al so ‘lank in die land is’ en so nuuskierig is soos ek, bly die knaende vrae oor melk jou by en dwing dit jou om wyer te kyk as die gewone geykte deuntjies. Stellings soos "melk is vir babas" word totaal verwerp in hoofstroomvoeding en medisyne, en dit laat my wonder...

Só het my soektog begin en ek het ’n paar interessanthede ontdek en ’n paar waarnemings is net weer bevestig. Miskien help dit jou om vir jouself te besluit hoe jy die melk-saak wil benader.

Eerstens is daar die hormoonkwessie:

Melk bevat hormone – dis nou uitgesluit die hormone wat wel in sekere gevalle vir beeste gegee word om melkproduksie te verbeter (rBST). Ja, net soos moedersmelk bevat dit ‘natuurlike’ hormone wat die kalfies laat groei - die insulienagtige groeihormoon  (Insulin Like Growth Factor) is veral hier belangrik. Hierdie hormoon blyk dan ongelukkig ook ’n rol te speel in bv. die ontwikkeling van sekere kankers soos borskanker en veral kanker by mense wat diabetes, insulienweerstandigheid en oorgewig is.

Andersyds is daar ook al bewys dat hierdie hormoon van baie waarde kan wees by verswakte ou mense.

As bogenoemde jou benoud maak, is daar darem goeie nuus ook: Fermentasie is die antwoord. Fermentasie wat gepaard gaan met die proses om byvoorbeeld kefir, ryp kase en skimmelkase soos brie en camembert te maak, blyk van hierdie hormone ontslae te raak.

Tweedens is daar die suikerkwessie:

Melk bevat laktose-suiker. Enersyds kan sommige mense dit nie verteer nie, wat lei tot spysverteringsprobleme. Andersyds split die liggaam die melksuiker tydens vertering en sal die glukose wat hierdeur vry raak ’n effek hê op jou bloedsuiker – net soos ’n sny brood of teleepel suiker sal doen.

Natuurlik gaan die suikerkwessie veel verder met versoete vrugtejogurt wat maklik sommer die ekwivalent van 3 teelepels suiker per klein bakkie bevat. Daar’s natuurlik ook versoete en gegeurde melkdrankies wat propvol suiker is. Opsigself is dit nie ’n krisis nie, maar gekombineer met al die versoete graankos, koeldranke, koekies en lekkers wat deesdae deel is van ons daaglikse dieet, tel die teelepels vinnig bymekaar. Selfs onversoete jogurt – veral moderne kommersiële opsies - bevat steeds heelwat natuurlike suiker aangesien dit nie volledig gefermenteer is nie.

Derdens is daar die vetkwessie:

Vetvrye-, laevet- of volroommelk is minder van belang as wat voorheen gedink is. Baie studies wys eintlik dat dit geen verskil maak t.o.v. gewigsverlies nie. Jy baat natuurlik by meer vetoplosbare vitamiene as suiwelprodukte nie afgeroom word nie.

Wat van cholesterol? Ryp kase, veral skimmelkase soos camembert en brie, word ook gekoppel aan kwessies soos gewigsbeheer, cholesterol en hartgesondheid. Al verstaan navorsers nog nie heeltemal hóé dit werk nie, lyk dit asof die vriendelike bakterieë of probiotika wat betrokke is by die kaasmaak-proses ’n positiewe effek het.

Die saak is dus glad nie so swart en wit nie en een skoen gaan nie vir almal pas nie...

As jy iemand is met ’n geskiedenis of risiko vir laktose-intoleransie, insulienweerstandigheid, diabetes, oorgewig of kanker is dit dalk raadsaam om minder te fokus op melk en meer op gefermenteerde kefir, soms bietjie ongegeurde jogurt en ryp kase. Brei jou dieetkeuses uit om meer kosse wat kalsium en ander belangrike minerale bevat by jou dieet in te sluit soos neute, sade en blikkiesvis soos sardiens en sardyne met klein beentjies in. Vitamien D verbeter kalsium-absorpsie. Sonlig is ’n goeie bron van dié vitamien, so sorg tog dat jy bietjie son kry!

Die goue reël: Vervang - moenie net uitskakel nie. Probeer gerus amandelmelk, klappermelk of sojamelk. (Heerlike resepte op www.betereet.co.za) en onthou – geen enkele voedselitem in isolasie, maar liefs al die klein goedjies SAAM wat jy elke dag doen, dus jou gewone eetpatroon, maak in jou lyf die verskil tussen vet of maer, siek of gesond.

KRY HIER JOU RESEP OM JOU EIE AMANDELMELK TE MAAK

Groete

Mariza van ZylRD Kliniese Geregistreerde DieetkundigeBeterEet Voeding en Voedsel KonsultFacebook / bettereatwww.betereet.co.za

* LEES AL MARIZA SE DIEET-BLOGS HIER