Depressie-seisoen is weliswaar moontlik minder kwaai in sonnige Suid-Afrika as by ons broers en susters wat verder noord of heelwat meer suid bly, maar ons spring dit vir seker nie vry nie. Probeer maar ‘n dringende afspraak by ‘n psigiater kry...

Wanneer jy een gekry het, sal jy heel waarskynlik by die kaders aansluit wat in die koue buite groot geboue staan om ‘n dun snytjie van die wintersonnetjiekoek te kry voor jy verder sloof.

Glo is die vraag wat deesdae gevra word in hierdie kringetjies nie óf jy ‘n antidepressant gebruik nie, maar wátter antidepressant jy gebruik. Depressie? Die op en af van die lewe?

Wat op aarde het dit met voeding te doen? (Behalwe natuurlik dat ‘n paar wenke om die groot soet- of soutlus in die nag ensovoorts te bekamp seker altyd kan help.)

Oor die kwessie van depressie is dit die moeite werd om dié artikel in die koerant te lees... (http://www.dieburger.com/By/Nuus/Wie-noem-jy-nou-siek-20120714).

Oor wat voeding met depressie te doen het? Nou ja.

Voor ek gestenig of oor die vingers getik word deur my geagte kollegas, ek het dit glad nie ten doel om te sê jy kan depressie weg-eet nie (al voel dit soms vir baie mense so).

Waarvoor ek wel bereid is om my kruis te dra, is dat heeltemal te min aandag gegee word aan die rol wat voedingstowwe (en baie verskillende voedingstowwe) speel in die funksie van die brein en die vermoë wat mens dan het om ‘goed’ te voel.

Jy’s chronies moeg. ‘n Tipiese ‘simptoom’ van depressie. Jy sleep jouself vorentoe. As jy ‘n vrou is, óf die afgelope 5 jaar kinders gehad het, óf hard probeer om gesond te eet en meestal hoenderborsies koop, is die kans goed dat jou ysterstore laag is. Dit sal jou dodelik moeg en lusteloos laat voel en jy sal dink jy wil gaan oefen, maar die ‘lus’ sal net nie daar wees nie...

Jy kan nie slaap nie. Het jy geweet dat magnesium 'n direkte invloed het op die breinfunksie en kwessies soos slaap, konsentrasie en jou vermoë om te reageer? Ja, jy gebruik dalk ‘n aanvuller, maar is dit die regte ‘vorm’? Dis bietjie moeilik om te weet of jy te min in jou lyf het, want bloedtoetse vir magnesiumvlakke is nie baie akkuraat nie. Waarvan moet jy meer eet? Nie so maklik in vandag se lewe nie (probeer gerus die magnesiumbom-broodjie op www.betereet.co.za).

Jy raak verskriklik gou kwaad en kan jouself nie beheer nie. Dit is dikwels ‘n direkte gevolg van die irritasie a.g.v. bloedsuikervlakke wat wipplank ry. Vra jouself: hoe ‘low GI’ is daardie brood rêrig? Hy’s spierwit? As jy meer as een ete per dag brood eet, staatmaak op gesondheidsmuffins, kraakbeskuitjies en kitsontbytpap om jou deur jou oorhaastige dag te help, of maaltye oorslaan, is jou kans op bloedsuikerrondomtalie – nie net wipplank nie – uitstekend!

Daar’s ‘n ellelange lys van voedingstowwe - en ook genoeg bewyse oor waar en hoe dié voedingstowwe ‘n rol speel in die produksie van die allerbelangrike neuro-oordragstowwe of breinchemie. Hierdie onsigbare deeltjies is nodig om jou vrolik, rustig, soms ontspanne, soms aan die gang, versadig sonder om te ooreet, vaak-as-dit-slaaptyd en wakker-as-dit-werktyd is te hou. Net soos ALLE ander funksies in die liggaam, is funksies in die brein (o.a. die produksie van breinchemikalieë) afhanklik van boustene. Watter boustene?

Boustene wat van kos af kom. Dus voedingstowwe. Nee, nie net vitamiene nie. Ook minerale, vette en aminosure (die boustene van proteïene).

Dis feit. Dié broodnodige voedingstowwe ontbreek dikwels in mense se dieet.

Die hartseer: Daar’s ‘n gebrek (excuse the pun!) aan erkenning – wat selfs grens aan miskenning. Voedingstowwe word gesien as ekstra. Dit ten spyte van die feit dat GEEN liggaamsdeel – ook die brein – optimaal kan funksioneer sonder GENOEG van die regte voedingstof-boustene nie.

Die voorskrif vir pille sonder ‘n voorskrif vir voedinggesondheid, nou dít maak my depressief.