Hoe kan dit wees?

Ja - die gedagte aan ‘n lekker roomys laat sommer al die mond water. Dikwels gaan dit ook oor baie meer as net die smaak.

Die meeste mense het ook ‘n eie besonderse assosiasie met roomys. Myne is van wonderlike oomblikke as kind saam met my Duitse kinderoppasser - net ek en sy, op ‘n spesiale uitstappie, uit ‘n  halfronde vlekvryestaalbakkie, met so 'n voetstukkie. En ek hoef dit nie te deel nie.

Die smelt-in-die-mond-lekkerte, die heerlike gevoel van koud-en-kou-sonder-dat-jy-gebyt-kry gevoel van roomys. Die subtiele vanielje.

En toe verander roomys. Dit word gladder. Soeter. Selfs draairoomys het altyd sulke korreltjies ingehad. Vandag is dit net glad, en vir my, baie, baie soet.

As jy onthou om jou trui aan te trek winkel toe, kan jy miskien lank genoeg by die roomys-yskas staan om die variasies op die roomys-tema te beleef. Soveel verskillende bakke: volroom-roomys, sorbet, ‘frozen dessert’, frozen yoghurt, laevet, melkvry... ens.

Duisende verskillende geure, kleure, byvoegsels en boodskappe. Ja, daar is opsies spesiaal vir diabete en natuurlik vir ‘verslanking’. Dit help my min, ek soek die ware Jakob. Miskien jy ook? Ek trek toe my trui aan – en gaan bekyk die ‘roomys-yskas’. Interessant. Jy soek ver vir die  ‘room’ in die roomysbestandele lys.

Daar’s meestal meer suiker in die ‘roomys’ as wat daar room in is. Wat my by die ‘soet’ bederf vir diabetes, verslankers en mense met insulienweerstandigheid bring.

Die kuns van ‘n soet bederf is ‘n klein porsie soet, gekombineer met ander ‘kos’ sodat die suiker ‘brieke’ het. Dis voordelig om enige verfynde suiker met proteïene en vette te kombineer, pleks daarvan  om dit net so skoon te gebruik. Om dié kombinasie reg te kry is maklik. Maak ‘n ‘soet bederf’ jou nagereg – ná ‘n gebalanseerde maaltyd. Afhangende van hoe sensitief jy is, moet jy miskien ook kompenseer vir die bietjie ekstra koolhidrate (of suiker) deur jou koolhidrate in die maaltyd bietjie te sny – dus ‘n kleiner porsie rys/aartappel/patat of ander stysel.

Maar om die porsie soet reg te kry is bietjie moeiliker. Produkte is baie soet. Produk-ontwikkelaars erken selfs dis wat mense vandag wil hê, daarom is dit wat hulle maak.

As jy dus na die suiker-inhoud van gewone ‘roomys’ kyk,  is die porsie roomys wat 3 teelepels suiker sal bevat sowat 2 plat eetlepels groot. Selfs as dit ’n laevet-produk is. Ha! 2 plat eetlepels roomys is net genoeg om die meeste mense te terg en lus te maak vir nog. Maar wanneer roomys minder suiker bevat, kan jy ’n groter porsie daarvan eet. Vir enige lekkerny is die ideaal dat ’n porsie minder as 3 teelepels suiker bevat. Dít (die 3 teelepels) is die ekwivalente hoeveelheid  koolhidrate (die versamelnaam vir suikers) wat daar in ’n sny lae-GI-brood is – ’n klein snytjie.

Ek het die som gemaak oor ‘roomys’ wat regtig ROOMys is. Wat proe soos dié wat ek as kind geken het en wat nou nog my brein se ‘lekker’-dele laat opflikker. Dit moet meer room en ’n bietjie minder suiker bevat. Ek maak my resep toe so lekker dat jy ’n blokkie van 5 x 5 x 5 cm, of ongeveer 1/3 koppie, daarvan op ’n slag kan eet: dis dan ’n groot genoeg porsie om jou roomyslus te bevredig én dit bevat min genoeg koolhidrate . Want môre, of volgende week, mag ek nog ’n blokkie geniet omdat die ‘minder suiker-ROOMys’ nie  ‘taboe’ is nie.

Terwyl jy my 10-minute-roomys probeer (www.betereet.co.za), sal ek solank ‘n brief skryf dat vandag se winkelroomyse dalk liewer die naam ‘suiker-ys’ moet