In jou studentejare kon jy tot laatnag kuier en die volgende oggend perdfris wakker word.

Deesdae maak die kleinste glas witwyn dat jy heeldag in ’n donker kamer met ’n waslap op die hoof wil lê.

Navorsers krap steeds kop oor wat ’n babelas veroorsaak. Party voer aan dat die liggaam alkoholonttrekkingsimptome ervaar. Ander glo dis omdat jou liggaam gedehidreer is en jy ’n tekort aan elektroliete het.

Een ding is seker: ’n Babelas raak al hoe meer ongenadig hoe ouer jy word. Veral ná 25 jaar, is in ’n onlangse studie bevind.

Waarom straf jou verouderende lyf jou so? Die volgende kan dit dalk verklaar:

1. Oor die eerste, verrassende bevinding is in The New York Times berig. Volgens prof. Lara Ray van die Universiteit van Kalifornië bou die liggaam met die jare ’n groter intoleransie teenoor alkohol op. Omdat jy gewoonlik minder alkohol inneem soos jy ouer raak, is jou liggaam nie meer so gewoond aan die wingerdgif nie. Veral jou lewer kry ’n skok wanneer jy ewe skielik weer drink.

2. Spiermassa is geneig om te verander in vetmassa soos jy ouer raak. Prof. Ray het ook bevind alkohol rig meer skade aan in ’n liggaam met ’n hoër persentasie van vet as in een met meer spiere.

3. Die mediese dokter en TV-aanbieder dr. Chris van Tulleken wys daarop dat jou liggaam met die jare al hoe stadiger herstel. ’n Passiewe lewenstyl, hoë stresvlakke, min slaap en ’n veeleisende beroep veroorsaak dat jy meer vatbaar is vir siekte. Die gevolge van alkohol raak dus al hoe erger – die kopseer klop harder en jou naarheid wil nie wyk nie.

Die oplossing? Drink minder alkohol en drink baie water tussen drankies. Sorg dat jou algehele lewenstyl gesond is – sodoende gaan jy jou drankies beter kan hanteer. 

Pasop vir dié babelas-mites:

Kies rooiwyn as jy babelas vrees

NEE. Rooiwyn, naas brandewyn, gaan jou kop die meeste laat klop. Daarna volg rum, whiskey, bier, witwyn, jenewer en vodka. Jou kans om ’n babelas van bourbon-whiskey te kry, is dubbel soveel as met dieselfde hoeveelheid vodka, volgens die British Medical Journal.

Eers hardehout voor bier

NEE. “Beer before liquor, never sicker. Liquor before beer, never fear,” gaan die rympie. Dis egter die hoeveelheid alkohol wat tel, nie die volgorde waarin jy dit drink nie. Moenie dat die grootte van jou drankie jou mislei nie.

Pasta voor slaaptyd

NEE. Eet vóór jy begin drink, nie as jy reeds een te veel gehad het nie. Kos kan wel ’n effek hê op hoe vinnig jou liggaam alkohol absorbeer, maar daarvoor is vetterige kos die beste. Eet ’n steak of pizza voor jou eerste martini.

Pynpil voor droomland

NEE. Teen die tyd dat jy wakker word, het dit lankal uitgewerk. Drink dit as jy die volgende oggend jou oë oopmaak. En liters water tydens jou drinksessie, en wanneer jy opstaan, om ontwatering te voorkom.

'n Regmakertjie soggens

NEE. Die ergste simptome tref jou as daar nie meer alkohol in jou bloed is nie. En ’n “sopie vir die haarpyn” gaan daardie oomblik net langer uitstel.

Bron: The New York Times, The Telegraph