Die farmaseutiese maatskappy Cipla SA, in samewerking met die plaaslike sokkievervaardiger Falke en die Ithemba-stigting vir navorsing oor depressie, het dié veldtog, wat in Australië begin is, nou na SA gebring. 

Depressie en angssteuring kom algemeen onder medici voor, het navorsing aan die Cardiff-universiteit in Wallis gewys. Die studie, wat in 2016 onderneem is, het getoon 8 uit 10 dokters het al depressie, angs of selfdoodgedagtes ervaar. Studies in Amerika wys weer tussen 28 en 40 per 100 000 dokters pleeg selfdood, dubbel soveel as in ander beroepe. En die meeste van hulle het nie professionele hulp gesoek nie.

Uitmergelende werksure, beperkte hulpbronne, fisieke en emosionele druk en hoë akademiese vereistes is maar enkele van die faktore wat ’n toename in gemoedsteurings onder dokters veroorsaak.

Ongelukkig – en baie kommerwekkend – soek dokters dikwels nie hulp vir hul depressie nie, of hulle onderdruk dit en beskou dit selfs as ’n gegewe van die beroep. Veral mediese studente en jong dokters voel geïsoleerd, skuldig, moedeloos en oorweldig.

 

Vroulike dokter (28) by ’n staatshospitaal (pedriatrie)

“Ek slaap nie, ek werk net. Ek voel verantwoordelikheid vir almal se lewe. As ek ’n draai loop of ’n hap kos vat en iemand het my nodig, word ek as onbevoeg beskou. As ek ná 26 uur op my voete ’n fout maak, is dit my skuld. Ek word uitmekaar getrek vir alles wat ek verkeerd doen.

“As ek ’n pasiënt verloor, moet ek vir die ouers verduidelik en vertroos. As ek by die derde sterfgeval vir die aand kom, kan ek nie help om te dink ek is ’n slegte dokter nie.

“Dan is daar kollegas wat nie omgee nie, so ek moet namens hulle ook werk. Ek moes nounet in die ambulans na ’n ander hospitaal ry om ’n baba te verplaas wat geopereer moet word. Daar is nie genoeg paramedici by ons hospitaal nie.

“Ek en ’n paar van my kollegas het ’n WhatsApp-groep begin, Smiling At Work … dis ironies, want ons wil graag meer lag, maar dit beskryf ook jou toestand as ’n dokter. Jy moet ‘smile’ en werk, al het jy emosioneel en fisiek nie die krag nie.”

 

Vroulike dokter (30) by ’n staatshospitaal (urologie)

“Goed wat buite jou beheer is, word jou verantwoordelikheid. As daar nie ligte is nie, as daar nie skoon lakens is nie, as daar nie ’n bed is nie, moet jy vir die pasiënt se familie verduidelik en self ’n plan maak.

“Ek werk nie net by die hospitaal nie. As daar ’n siek pasiënt is, vat jy dit saam met jou huis toe. Dan wonder jy wat jy verkeerd gedoen het. Wat het ek gemis?

“Ek kan nie meer slaap nie, want ek voel heeltyd skuldig. Ek moet slaap, want ek is heeltyd moeg. Ek is siek en moet by die huis bly. Maar ek moet werk toe gaan, want daar is mense wat sieker is as ek. Die vangplek is dat jy nie vir jou eie welstand kan sorg nie, want dit impliseer dat jy nie vir ander sorg nie.

“Daar is te veel pasiënte, daar is te min dokters. En vir die dokters is daar geen ondersteuning nie.”

 

Die #CrazySocksforDocs-veldtog is juis begin om vir dié dokters te wys dat hulle nie alleen is nie, om gesprekke oor die onderwerp aan te moedig en bewustheid te skep oor die hulp wat beskikbaar is.

#CrazySocksforDocs beoog om 12 000 paar sokkies onder dokters plaaslik te versprei om dié boodskap oor te dra. So dra Vrydag jou kleurryke sokkies en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #CrazySocksforDocs om te wys jy ondersteun dié wat elke dag van hul lewe ander ondersteun – dikwels ten koste van hulself.